Blogland

Die week word ons deur Tannie Frannie uitgenooi om ‘n nuwe eier te lê –

Soos die gesegde dit stel, “I’m the new kid on the block” of in die geval- blogg…

Ek het dit aan Una te danke dat ek begin blog het. Ek weet nie eers hoe het dit gebeur dat sy aan my voorgestel het dat ek my blog moet begin nie. Wat ek wel onthou is dat sy met reg genoem het hoe verslawend dit is!!

Bloot die gedagte dat mense wat ek nie ken nie, my stories gaan lees het my asma op my enkels gegee. Dis mos nou groot! Dit het my omtrent 4 maande geneem voordat ek my dapper skoene aangetrek het en uiteindelik my blog begin het. Dit het my omtrent wakker laat lê. Ek is so lief vir lees en stories en skryf maar dat my skrywery ook vir ander lekker sou wees was nogals ondenkbaar. Selfs na my boekie wat ek geskryf het, was ek steeds versigtig.

20180630_1551551976656464.jpg

Met na betragting is dit eintlik snaaks hoe opgewonde ek was toe ek sien daar het 3 mense my eerste storie “gelike”! Wat nog te sê toe my een follower (Una) groei tot 3! Ek het dadelik vir Una laat weet , ek sien sommer haar glimlaggie oor my skaamtelose opgewondenheid. Vandag het ek 30! Al is dit min teen die res van Blogland se inwoners, is ek opgewonde oor elkeen van hulle.

Ek is eintlik baie privaat. Dis net ‘n chosen few wat naby toegelaat word. Selfs kies ek om inligting deur te gee, is ek versigtig vir wie ek wat sê. Dis baie blootstelling vir iemand wat kom uit ‘n agtergrond van Narsisme. Tot ek besef het hoe genesend dit vir my is en die hoop iewers uit ‘n kassie geklim het dat iemand daaruit kan baat. Voel voel soos ‘n blinde, vertel ek my stories en leer ek weer vertrou.

Wat ‘n ontdekkings tog was dit nie tot nou toe nie! Daar is die prettige, kleurvolle skuilname wat herhinner aan die baldadige verskeidenheid van kleur ballonne by ‘n karnaval! Daarmee saam die verskillende skryf style om nie van die verbeeldings vlugte te praat nie! Almal wat al ooit iets te sê gehad het oor iets, moes al die term gebruik het: “got the t-shirt, have the stretch marks”. So besef ek vandag ek stik nog aan my Blog t-Shirt en werk nog aan die stretchmarks van blogland. Veral toe dit my beurt was om die uitdaging te skryf en almal so buite die boks verder skryf aan my storie, Magriet versus Magrieta !! Ek het ure lank gegiggel en lekker gekry. Ek het weer en weer terug gegaan om oor en oor te lees. Daar was heerlike verrassings en ek het BESEF, soos in regtig besef…..Mense lees regtig my stories. Hoe elkeen Pasella se bydraes in die stories ingeweef het, het eensklaps vir my gesê ek is veilig in Blogland.

Om nie eers te praat van die kommentaar nie. Dit is soos ‘n kind wat iemand ‘n geskenk gegee het en om die hoekie gaan loer om te kyk wat is die ontvanger se reaksie. So wil ek na elke plasing gaan kyk wat is die reaksie. Ek betrap ook myself dat ek gereeld hardop uitbars van die lag, of ‘n diep dankbare glimlag spontaan uitglip uit pure lekker kry. Dan kan ek ook bysê, dit geld ook vir kommentaar op ander se stories. Ek geniet dit soos ‘n smaaklike toffie wat ek stadig suig en proe dat die kwyl so loop en agterna seker maak die papiertjie is regtig, regtig leeg.

Die wete het kom land…Hierdie is omgee mense, hou mense, raad gee mense, jy kan maar luister en leer mense! En ja, my mense!

Omdie inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die volgende InLinkz-skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=787126

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Advertisements

Magriet versus Magrieta

person carrying black cat
Photo by Helena Lopes on Pexels.com

Lê-jou-eier-: Skryf-safarie. Skryf die storie klaar.

Dankie vir die voorreg om ‘n beurt te kry om gasvrou te wees op die skryf-safarie.

Hier het ek ‘n storie begin wat julle moet klaar maak.

Dis Ekke se Hester het soos destyds met ons byskrif-uitdaging die skakels op elke inskrywing so gemaak dat julle vir die gunsteling voltooide storie kan stem

Dus werk ons week so:

  1. Die uitdaging open op Donderdag 14 Junie 2018 om 12:00

  2. Die inskrywings moet klaar geskakel wees voor Woensdag 20 Junie 2018 om 12:00, want dan begin die stemmery

  3. Die uitdaging sluit op Donderdag 21 Junie 2018 om 12:00 en dan sal InLinkz die wenner aanwys op die InLinkz bladsy waar die skakels geplaas was.

Kom ons skryf.

So maak mens:

Spoeg en plak die volgende storie oor na jou blog. Gebruik dan kursief en ‘n ander kleur ink om jou gekose einde te skryf. Slegs 500 woorde

Magriet versus Magrieta

Magrieta het ‘n wesenlike probleem. Die vraag is nie wat die probleem is nie maar hoe dit gaan eindig!

Om die storie te verduidelik, moet ek eers die ” set up” verduidelik. Sy bly op ‘n plaas met twee woonhuise. Sy self bly in ‘n pragtige woonstel wat aan die een huis vasgebou is. Alhoewel die woonstel piepklein is, is dit pragtig en pas perfek by haar persoonlikheid en die seisoen in haar lewe. Sy is gelukkig en tevrede. Daar is niks in haar kleine huisie wat haar ontstel of pla nie. Daarvoor sorg sy en hou alle onnodige spanning en komplikasies uit die veilige hawe wat sy vir haarself geskep het. Indien sy geselskap nodig het, is dit binne bereikbare afstand. Andersins is sy heerlik privaat en op haar eie. Maar wag, hoor ek “Jaws”se doem doem doem doem….. in die verte? Of nee wag, eder ‘n gepiep piep piep, of wag ‘n miaaauuuuu?!?

Dis reg, ‘n rot. Nie ‘n muis nie, ‘n ROT! Genadelik is die eienares van die plot gaaf genoeg om ‘n kat vir haar te leen as teenvoeter. Dis haar beste muisvanger en sy bring dit sonder verwyl oor. Kat het egter die hele doel van die oefening gemis.

Magrieta is nie groot gemaak as diere liefhebber nie en veral nie van katte nie (Diereplesiere). Daar het egter al twee diere vir Magrieta die loef afgesteek. Alhoewel Magrieta nie net wil misbruik maak van die kat nie, wil sy eintlik maar haar afstand handhaaf. Net vir ingeval. Kat het egter haar eie prentjie en volg haar eie kat natuur. Sy is onder die wan indruk dat Magrieta spesiaal vir haar wat Kat is, se plesier daar. Kat dring haarself met mening op aan Magrieta. Waag Magrieta om te loop, is Kat daar. Tree vir tree, soveel so dat sy kort kort oor Kat struikel. Dis ‘n gepurrr en geskuur en getrap en wie weet wat mens al die manewales moet noem. Purrr jouself sê sy maar Magrieta se hart wil wil vermurwe. Waar sy op haar bed sit, laat sak sy kort kort haar hand en vryf Kat se kop. Kat is in die sewende hemel en trek Magrieta se hand nader met haar poot wanneer Magrieta ophou vryf. Daar is ‘n lastige gevoelentheid wat krap krap aan Magrieta se hart. Dit lyk egter of die kat oefening gewerk het omdat rot nie weer sy astrante opwagting gemaak het nie. Hopelik verkeer rot onder die wanindruk dat Kat ingetrek het, soos in permanent. Behoede my!!

Magrieta is baie bly. Met rot uit die pad, kan Kat ook verkas. Vir sy alewige gekerm en geskuurdery sien Magrieta ook net nie kans nie. Sy voeg ook dus daad by die woord en vat Kat terug na die Hoofhuis toe net die volgende oggend. “Terloops, wat is Kat se naam?”, vra Magrieta. “Magriet”, antwoord die eienares. Magrieta se oë rek so bietjie. Sy groet en loop net om te sien Magriet volg haar. Magrieta gaan staan stil en verduidelik vir Magriet dat sy moet bly. Magriet se kyk spreek boekdele. Iewers hoor Magrieta die klanke van “maaaaaaar die kat kom weer want …” en sy gee ‘n lang mismoedige sug.

Vroeg die volgende oggend (nog donker), terwyl Magrieta bietjie koester tyd met Abba geniet hoor sy ‘n baie onwelkome geluid. Eers probeer sy dit ignoreer maar dit word net dringender en sy spits haar ore. Jip, dit Magriet, die Kat. Miskien as ek stil sit en lank genoeg wag, gaan sy weg….

Magrieta se mercy hart kom in die pad en sy struikel. Dis koud buite sê haar hart, siestog arme Magriet (nogal soort van naam genoot). Maar ek bid en kat gaan pla, probeer Magrieta haarself verweer. Die geveg binne Magrieta is groot. Alle snoesige koesterende vrede het soos mis in die son verdwyn. Magrieta het nie komplikasies soos Katte in haar lewe nodig nie. Dis katkos en aandag en kathare orals en ‘n Pasela papegaai wat buite op sy hok sit wat toutrek met ‘n mercy hart. Magrieta probeer haar hart verhard en sê neeeeeeeee……..
Gebruik kursief en ‘n ander kleur ink om jou gekose einde te skryf.

En onthou om hierdie paragraaf ook te spoeg en plak en dan jou skryfsel op die Inlinkz skakelblad te plaas:

______________________________________________________________________________________

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=785036

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

‘n Oomblik in tyd

20180713_065943265982515.jpgEk teug behaaglik aan my koffie, terwyl ek op die trappies by my kombuisdeur sit. Die son glimlag lui-lui sulke breë strale oor die gras. Dit tower ‘n feetjiemooi lanternland op wat my na my asem laat snak en amper verstik ek in my koffie. Doudrippels knipoog vrolik vir my in allerhande kleure sodra die sonstraal oor die grasperk streel. Oral word piepklein goggatjies sigbaar as hulle op vlieg om die dag te groet. ‘n Ewe klein spinnekoppie swaai stadig aan sy enkele spinnerak as die windjie ‘n soentjie blaas.

Die fyne Jan-Frederik groet vrolik terwyl hy speels nader wip en ‘n duif hef waarderend sy eerste haleluja vir die dag aan.

Die skouspel van die ontwakende dag laat my van my koffie verget. Dis niks, mens kan koffie weer warm maak. Mens kan nooit weer ‘n vergete oomblik terug kry nie. Nostalgies wonder ek hoeveel sulke enkele wonderwerk oomblikke ek gemis het.

Ek kyk verder. Oral om my verf die sonstrale blomme nog ‘n skakering helderder. Blare lyk groener en die luggie ruik varser. My kunstenaarshart bons uit ritme. Ek weet, hoe ek ookal probeer, kan ek hierdie skouspel nooit op ‘n doek vaslê nie. Die simfonie van ‘n nuwe dag…’n lied sonder woorde of klank…volmaak. Niks is verder nodig nie.’n Oomblik in ‘n lewe wat nooit weer presies dieselfde sal wees nie. ‘n Oomblik van totale vrede en amper heiligheid. ‘n Diep-inasem-oomblik wat jou hele liggaam, siel en gees verkwik en jou nader bring aan jou Skepper – as jy die tyd sou neem.

Hierdie een volmaakte oomblik vergoed vir so baie volgepakte, dolgejaagde dae – die soort dae wat eie is aan enkelouer wees. Dae van verantwoordelik wees, hard werk, swaar trek, foute maak en alleen wees. Dae wat so besig en vol is dat jy vergeet hoe ruik ‘n blom.

Ek staan op en stap oor die dou nat gras. My voete maak spore al agter my aan terwyl die dou op my skoene spring. Voete wat menigmaal so moeg was dat hulle net kon sleep. Die vars oggend sit nuwe lewe in my are en nou wil ek dans. ‘n Houtkapper gee die ritme aan. Ek druk my neus in ‘n roos wat skaam-skaam bloos en giggel as ek regop kom met ‘n nat neus. Ek maak ‘n rondomtalie draai en gooi my arms in die lug. Nog ‘n haleluja oomblik. Oral om my is spatsels kleur – ‘n kunswerk deur ‘n Meesterhand.In my boomparadys groet ‘n menigte voëls elkeen in sy eie taal: almal vrolik, almal dankbaar. Nêrens is een van sy wysie af nie, nêrens is een depresief of bekommerd nie! In versillende tale ego die skepping : Groot is God! Groot is God!

Die son het nog maar pas uit sy skuilplek gekom. Nou gooi hy ‘n stralende oranje gesig. Tussen die bome se blare lyk dit soos edelgesteentes en vuur. ‘n Kleur wat geen mensehand na regte kan naboots nie. Die verskil tussen God se kleur en mens se kleur, is lewe! Kyk na alles wat Hy gemaak het- dit vibreer van lewe! Kyk na alles wat die mens gemaak het- dis soos Eno’s wat klaar gekook het.So bou ons mense ‘n lewe sonder Hom, en dis uitgekook! Die vroeë oggendluggie speel deur die blare. Takkies wip in die wind. Dit dirigeer die simfonie. ‘n Piet-My-Vrou sing sy lied. Hierdie keer sê hy, “weer probeer, weer probeer”. Die Woord sê Sy genade is nuut elke oggend. Vanoggend verstaan ek dit. Soveel gisters lê agter my. Gisters vol foute maak, val en opstaan. Danksy Piet-My-Vrou se roep, en ‘n oggend soos hierdie, kan ek weer probeer. Piet-My-Vrou roep weer. Maar wag, verbeel ek my of sê hy nou, “Prys die Heer, Prys die Heer”?

Ek maak my oë toe. Dis ongelooflik hoeveel ek kan hoor en waarneem met toe oë. Soveel voëls sing saam en elkeen sy eie lied, maar dit pas. So anders as ons mense elkeen sy eie lied sing! Ek hoor die blare ritsel in die wind en al hoor ek nie die wind self nie, voel ek dit as dit oor my wange streel. Die windjie is koel en ek tree terug uit die koelte na die son. Dis heerlik, koesterend. Net soos as jou lewe in die skadu was en jy terug stap na die Seun – heerlik, koesterend, veilig.

Die wete kom lê in my hart. Hierdie dag is vir my gemaak, elke oomblik wat nog wag. Sag kom die fluister in die wind, salig is jy wat op die Here wag!’n Haleluja oomblik, ‘n Haleluja-dag!

Lost in translation

Ek lees nou die dag die kommentare by iemand anders se blog. Ek sien hoe raas mense oor verkeerde taal gebruik en spelling en besluit ek is dalk in die moeilikheid.

Alhoewel skryf in my lyf is, is ek nie so op datum met spelreels en taal verbruik nie. Wat maak dat ek dalk kan raas kry. So ek sê vroegtydig, dan kan julle my mooi reg help.

Dit is al lank dat ek hierdie stuk wou skryf maar het juis gehuiwer oor die titel. Ek is lief vir my taal en ontdek graag nuwe en ou woorde wat vir my mooi en beskrywend is. Ek verkneukel my ook daarin om te hoor hoe ander Afrikaans gebruik en geniet. Tog is daar kere wat ek net nie die regte woorde in Afrikaans vind om presies uit te druk wat ek wil sê nie.

Ek onthou hoe ek juis Bybelse Hebreeus begin bestudeer het omdat ek regtig wou wéét of dit reg vertaal is. Daar het soveel krag van die Woord verlore geraak deur verkeerde vertalings. Hebreeus het woorde wat nie met een Afrikaans of Engelse woord verduidelik kan word nie. Daarom is daar baie boodskappe wat nie reg verstaan word nie.

Glo my, ek is nie aangelê vir tale nie. Dit was ‘n onbeskryflike reis om te sien wat alles verlore geraak het met die vertalings deur die eeue heen. Dit het my genoop om weer te lees. Dieper te kyk en ja, ook te luister. Die reis het my bewus gemaak van hoeveel keer ons nie daarin slaag om ons boodskap tuis te bring nie. Soms omdat die regte woorde ontbreek en baie meer kere omdat die hoorder nie luister nie. Nee wag, dit is ook verkeerd uitgedruk. Almal luister wel maar met verskillende doelstellings. Soms wil iemand regtig hoor wat jy sê en soms luister hulle met die doel om ‘n antwoord gereed te kry.

Hoe meer ek met mense te doen kry hoe meer besef ek hoeveel misverstande plaas vind. Dalk omdat ons nie reg praat nie en net dalk omdat ons nie reg luister nie. Is dit dalk omdat ons haastig is om ons sê te sê of gehoor te word?

So paar weke gelede hoor ek toevallig iets kosbaars. ‘n Mamma verduidelik vir haar nege-jarige seun dat hy nie uit sy keel moet praat nie maar eder uit sy hart. Sy verduidelik as jy uit jou keel praat kan mense dink jy baklei maar as jy uit jou hart praat kom jou boodskap uit ‘n plek van liefde. Mooi nê?

Vir dae lank dink ek aan daardie woorde en wonder hoeveel kere het my goed bedoelde woorde uit die keel gekom in plaas van die hart. Daar was kere wat ek desperaat was om verstaan te word en dalk het ek toe uit my keel gepraat al was my hart teenwoordig. Jy hoef net ‘n ruk lank saam met ‘n narsis te woon om te verstaan hoe woorde verdraai kan word. Dit laat jou soos ‘n kat wat in ‘n bol wol verstrengel geraak het.

Dit was tydens hierdie dae lange bepeinsing dat die woorde my tref. Lost in translation…..

Dit is nie net van toepassing op die Bybel of ander boeke nie. Wat my getref het, is hoe waar dit is in verhoudings. Hoe ons mekaar “verloor” omdat ons mekaar nie verstaan nie. Hoe ons nie mekaar se “taal” praat nie. Hoe misverstande ontstaan omdat ons verkeerd hoor of praat en ook afleidings maak. Dit laat my besef hoe ons ons eie afleidings maak net omdat ons nie mekaar se vertalings verstaan nie.

Lost in translation. Woorde wat my keer op keer na my hebreeuse “verb book” laat terug keer het om seker te maak ek verstaan reg. Tydens die bepeinsing het ek besef hoe belangrik dit is om met geduld en lankmoedigheid iemand anders se vertaling te probeer verstaan. Dit was met ‘n tikkie weemoed wat ek gedink het dat dit seker ook een van die mees algemeenste probleme in verhoudings is. Sou iemand my vra wat is die rede dat mense skei, wil ek antwoord: – lost in translation…

Uit my skildertas

Ek het bietjies te lanklaas geskilder. Perdebytjie se fotos het my lus gemaak om my kwaste en potlode uit te haal en af te stof…..

Hier is ‘n paar van my prentjies….

Potlood en charcoal op papier
Olie op canvas
Olie op canvas
Potlood en charcoal op papier
Olie op canvas
Potlood op papier
Olie op canvas
Olie op canvas
My eerste dier in olie op canvas

Sommer weer lus vir teken….

Uit Vrees

https://youtu.be/5wUJVt7U1L0

Ek bevind my in ‘n seisoen van genesing, waar Vader aanhoudend met my werk. Ek was vir jare in vrees vas gevang. Nie bang wees nie, Vrees!

Ek onthou presies waar die vrees begin het en hoe dit al hoe groter geword het. Aanvanklik het ek nie besef dat ek vrees toegelaat het nie. Dit was eers jare later wat ek dit besef het en daarmee begin deel het.

Vandat ek einde Januarie in my kleine woonstelletjie alleen ingetrek het, het Vader met my ‘n intensiewe pad van “perfect love drives out fear” begin. Dit was eers hierdie week terwyl ek genadeloos geteister word deur iemand wat ek besef het hoe vêr Abba al met my gevorder het.

Gister was ‘n rooi letter dag wat my genoop het om ‘n narsistiese persoon te moes blok op my foon en alle media. Gister was scary maar Vader is getrou en het my rustig, sonder vrees laat slaap.

Vanoggend het ek half verslaap en eers heelwat later my stiltetyd gehou. Ek was so moeg en het besluit om musiek op te sit terwyl ek met toe oë net in Sy teenwoordigheid sit. Toe begin die lied speel waarvan ek nou die vidio geplaas het.

Die oomblik wat ek die eerste strofe hoor, sien ek myself asof in visioen, op my knieë by Jesus se voete. Toe steek Hy Sy hand na my uit en begin met my dans. Die onbeskryflikste gevoel van koesterende, liefdevolle beskerming het my ontvou. Toe ek afkyk sien ek my voete is bo op Jesus se voete. Net soos toe ek as klein dogtertjie op my oupa se voete gedans het. Ek het in daardie oomblik geweet – He directs my path! Ek is veilig.

Met die wete het ek my kop onder Sy ken ingeskuif met my regter oor op Sy bors. Ek het my oë toe gemaak en my oor gegee aan die saligheid van wieg op die maat van hierdie pragtige lied, in die arms van Die Een wat my mateloos lief het….

Pasella kry sy sin

Vroeg was dit duidelik dat Pasella in ‘n bui is. Sy roep al vroeg na my. Ek probeer paai en haar kalmeer maar sy het geen einde. Sy soek aandag, nie net afskeep hou jou snawel tyd nie. Waar ek in die kooi lê met ‘n vrot verkoue is ‘n gillende papegaai nie ‘n opsie nie. My kop wou reeds bars. My “Pasella!!!” word beantwoord met haar “stopit jy raas!” Nee jy raas stry ek met haar en trek my kop toe. Sy loer na my…

Sy verander strategie. Sy weet wat my hart week maak.

“Pasella bietjie uitklim?” “Neeee Pasella, ek wil slaap” ek kan nie waag om haar te laat rond dwaal as ek haar nie dophou. Sy sal alles stukkend byt tensy Magriet iewers verskyn en haar opvreet voor ek keer.

“Wat maak jy?” vra sy.

“Ek slaap”

“Is jy oky?”

“Ja Pasella los my nou”

“Tskh!!” Klap sy haar tong vir my. Dis ‘n rukkie stil en ek voel dankbaar hoe ‘n sagte wolkie my dik kop optel na droom land.

“Pasella bietjie tee hê, lekker tee mamma” en dan vinnig daarna “die Here is my herrrrrrderrrr, niks sal my ontbrrrrreeek nie” druk sy die r so uit…

“Ja Pasella, ook nie tee nie nê?” Antwoord ek terwyl ek van my wolkie probeer afklim om die ketel aan te sit…

Verstaan jy?

 

brown chains on wooden palette
Photo by Pixabay on Pexels.com

Ek ken ‘n paar mense wat lief is om die sin kort kort te gebruik as hulle jou iets vertel. Dit kan nogal irriterend wees en ek wou al vir een spesifieke persoon vra,  “hoekom, lyk ek stupid?” Tog, wil ek vanaand jou op ‘n stoel voor my neersit, diep in die oë kyk en kort kort vir jou te vra:”verstaan jy??”

Teistering is nie oky nie. Verstaan jy?

Narsisme is nie oky nie. Verstaan jy?

Om iemand uit te lok en dan te maak verstaan hulle is mal, is nie oky nie. VERSTAAN JY?

Om as daai iemand weg kom uit jou kloue, hulle genadeloos te teister omdat jy nie genesing wil kry nie, is nie oky nie. Verstaan jy?

Om in jou donker wêreld weg te kruip en net lank genoeg uit te kom om slagoffer te speel, is nie oky nie. Verstaan jy?

Om geen verantwoordelikheid te vat vir jou dade en slagoffers, is nie oky nie. Verstaan jy?

Om mooi en kosbaar af te skil soos droë bas van ‘n boom en fyn te breek, is nie oky nie. Verstaan jy?

Om met kras woorde en vloeke gekweperde houe sekuur  af te meet, is nie oky nie. Verstaan jy?

Om iemand wat jy kastig lief het soos ‘n jo-jo op en af, nader en verder te speel,te breek en te bou, is nie oky nie. Verstaan jy?

Jy het nie meer daardie plek nie. Verstaan jy?

Jou slagoffer het op gestaan. Verstaan jy?

Stuk vir stuk word sy vry. Word sy heel. Glo sy, voel sy, lag sy en huil sy, sonder skaamte. Want sy mag, en sy wil en sy gaan weer voluit lewe. Gebukkend uit daai diep klam kerker onder die kasteel, swaar geboei, stukkend geskaaf. Stadig het sy opgestaan. Eers moeisaam met die swaar ketting en yster bal aan haar been. Tree vir tree word sy sterker, soek haar oë die son. Volg sy die lied van haar hart wat sê ; “Jy is meer as ‘n oorwinnaar deur Christus wat jou krag gee!”Polsend op die ritme van “Ek het gekom om jou lewe in oorvloed te gee” word haar tree vir haar afgemeet. Val  die boeie van slawerny een een van haar af en word die houvas gebreek………..

Verstaan jy?