20180401_133541

Grietjie trippel op en af in haar piepklein paddastoel- huisie. Haar koppie werk oortyd, soveel so dat haar ragfyn vlerkies sommer vanself begin oop vou, fladder en elke kort kort haar voetjies van die grond af lig. Sy klap vies haar tongetjie en land saggies op die mos mat in haar voorhuisie. Wat ek nodig het, is iets om te drink, dink sy. Sy neem haar Tulp kelkie uit. Sy het dit self gemaak met ‘n Tulp kelk wat ‘n ongevoelige mens vrou afgebreek het. Grietjie het dit liefdevol opgetel en met byewas behandel tot dit waterdig was. Daarna het sy ragfyn spinneweb geneem en daarvan ‘n koord gevleg en het sy dit as ‘n handvatsel vasgemaak aan die tulp kelkie. Hiermee kon sy gereeld gaan skep uit die Put van die Lewende Water net hier, neffens haar kleine huisie in die Koningkryk van Liefde.

Sy skep haar tulp kelkie vol, meet genoeg af vir die dag, versigtig om niks te mors nie. Sy gaan sit en teug stadig aan elke druppel van hierdie kosbare vloeistof en voel hoe kalmte haar binnestroom. Daarna haal sy ‘n paar keer diep asem en blaas dit stadig uit deur haar sagte lippies. Sy voel hoe haar hartjie rustig raak en stadiger begin klop. Haar bang wees vlerkies ontspan en vou vanself terug. Haar Paddastoel huisie voel sommer snoesiger en die vuurvliegies wat op haar boekrakkie lê se liggies brand helderder. Van buite af lyk dit of daar sommer miljoene vuurvliegies gelyk in haar huisie is, so helder skyn Die Lig.

Haar gedagtes dartel terug na die dag toe sy met Die Groot Koning gepraat het, lank lank gelede. Dit het alles begin toe sy nog ‘n klein dogtertjie was en haar hartjie baie seer was. Sy het gesukkel om maatjies te kry en as sy wel een gekry het, was hulle net ‘n kort rukkie haar maatjie. Grietjie was bitter eensaam en het so baie kere gewonder hoekom is sy gebore. Al het sy familie gehad, het dit gevoel of sy alleen op die hele wye wereld was. Daar was so baie kere wat sy eintlik gewens het sy kon ophou asemhaal en haar vlerkies vir altyd toemaak. Die bose man wat koning probeer wees het oor ‘n donker koningkryk het gereeld boodskappers na haar gestuur om vir haar te vertel dat niemand vir haar lief is. Dit het Grietjie se vlerkies sommer leweloos laat hang tot eendag toe’n ander boodskapper tot haar redding gekom het! Daardie dag het sy uit die diepste van haar hartjie geroep en gewens die Groot Koning van alle lewende wesens kon haar hoor en help. Sy sal nooit vergeet hoe Hy vir oom Jop gestuur het om die Koning se briefie aan haar voor te lees nie.

Oom Jop het sy opdrag baie ernstig opgeneem maar met feetjie -woude vol liefde die Groot Boek vol Krag oopgemaak het by les 22 waar hy paragrafie 21 hardop vir Grietjie gelees het.

Grietjie, vee af die trane en luister mooi. Die Groot Koning het in Sy tuin gewandel en jou hart raak gehoor. Grietjie het haar trane skoon weg geskrik! Kan dit wees? Het die Koning haar gehoor?? Regtig egtig gehoor? Gaan Hy met haar raas? Grietjie, sê oom Jop weer en maak sy keeltjie skoon. Hy kon seker die skrik in haar ogies sien. Sy skuif haar vlerkies reg en spits haar fyn oortjies. Die Koning sê vir jou wat Grietjie is vandag ” sluit tog vriendkap met Hom, daardeur kan jy vrede hê en goeie ding oor jou kom….

Waaaaat???? gil Grietjie kliphard, skrik en sit haar handjie voor haar mond. Nie eers sy het geweet sy kan so hard gil nie. “Wil die Koning MY maatjie wees??” Lees weer oom Jop, dit kan tog nie wees nie?” Oom Jop vat vat na sy hart, skuif dan sy hoedjie reg en lees weer. Grietjie trek haar asem diep diep in. Oom Jop sal nie jok nie. Dit moet waar wees. Terwyl die boodskap afsak na Grietjie se hartjie toe, voel sy hoe haar vlerkies weer begin lewe kry. Dit voel of toue om haar hartjie loskom en hoe al die koue verdwyn. Sy loer deur haar venstertjie en sien hoe ‘n soldaat van die Koningkryk van Liefde die boodskapper van die donker koningkryk op sy jis skop en daar hol die nare man dat sy krom beentjies sommer reguit trek…

Sjoe dink Grietjie, sy sal daardie dag nooit vergeet nie. Sy onthou hoe sy van daar af gereeld met die Koning gepraat het al het sy Hom nie gesien nie. Vir haar het Hy haar beste maatjie geword. As sy bang en alleen gevoel het, as haar maatjies haar weg gegooi het, het sy met Hom gepraat. Dan het Die Lig sommer helderder deur haar huisie gebrand tot dit soos ‘n ligtoring geskyn het.

Grietjie spoel haar Tulp kelkie af en sit dit terug op die rak. Die Koning het vir haar ‘n klomp nuwe maatjies gestuur. Sy is bietjie skaam en ook bietjie bang hulle gaan ook na ‘n rukkie weg. Maar Grietjie het geleer die Koning gebruik alles om haar dapper te maak. En die nuwe maatjies is tog so oulik vir haar. Hulle los vir haar briefies en moedig haar aan om na nuwe plekkies te vlieg. Sonder dat hulle weet, maak hulle haar vlerkies sterker. ..

Grietjie sny ‘n stukkie van die vars manna af wat sy vanoggend opgetel het en vat ‘n klein happie. Dan tel sy stadig haar krimpvarkie pen op, doop dit in die Olie van Genade. Sy het besluit…

Sy gaan dapper wees en ‘n briefie terug skryf vir haar nuwe maatjies. Toe sy haar pennetjie op die bas papier neersit om te begin skryf, bars die blydskap uit haar hartjie. Sy kyk op en deur haar venster. Sy sien hoe die lig al hoe helderder begin skyn…..

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=779975

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by . Onder Seegogga kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Hierdie was Seegogga se uitdaging https://seegogga.com/2018/05/10/die-lewe-is-n-feeverhaal/