FB_IMG_1526061710061Scrapydo se Toeka-Tokkel: Diere

Daar is twee gediertes wat my dierelose wêreld kon binnedring en alles kom omkrap het. Eers was dit Hosea, ‘n Weimeramer van formaat en toe Pasela my African Grey. Ongelukkig het ek nie ‘n foto van Hosea nie, iets wat ek nooit sal verstaan nie.

Ons was nie groot gemaak met ‘n voorliefde vir diere nie. Boonop het ons meer kere getrek as wat ek kan onthou. Ons was so goed met trek dat as die trek lorrie stop, het die hoendertjies aangehol gekom, op hulle ruggies gaan lê en hulle pootjies uitgehou om gebind te word en dan veilig gebêre te word vir die vervoer …So het my Ma gesê. (nee man, die hoenders het nie regtig nie)

Ek is tweede oudste van 5 onhebbelike kinders so my ma sou reguit hemel toe gegaan het as dit nie vir daardie jok was nie. Sy moet eers loop belei. Ek onthou ma het ‘n wit Skiepertjie gehad waarvoor sy baie lief was. Later jare het hulle ‘n groot wit labrador gehad ook, Tarzan. Vir katte het pa geen ooghare gehad nie en ook nie veel geduld met dierekinders nie. Dis nou behalwe vir Tarzan. Ons kinders het daardie ongeduld met diere geërf, veral party van ons. Skies julle..

Kort na Pa se dood trek ek in ‘n masiewe huis in op ‘n plot, heeltemal alleen. Die bestuurder van die plot het honde daar gehad wat saam met hom gery het. So dink ‘n vriendin toe dat ‘n hond ‘n gawe geskenk is. Ek sal dit nooit vergeet nie! Dit was tydens my 45ste verjaarsdag viering wat sy daar stop en hierdie hond, bed en al in my arms bondel. Heigend hert ek was ontsteld! Wat het die vroumens besiel, het ek gewonder. Dit was een van daai onwelkome geskenke en ek wou omtrent flou val. Dit was veronderstel om ‘n baba hond te wees maar was reeds kolesaal. Ek onthou nog as hy water gedrink het, het sy ore in die water gehang en as hy dan wegstap het dit 2 nat strepe op die vloer getrek. Sy ore het in perporsie gekom soos sy lyf gegroei het. Wat ek nie toe geweet het nie, was dat herdie geskenk nie net ‘n “good idea” was nie maar ook ‘n “God idea”.

Na baie wroeging doop ek die hond Hosea. Ek was in rou oor my pa se dood (en nog ‘n paar goed) en het nie tyd gehad om ‘n hond op te pas nie. Of so het ek gedink. Tot op daardie stadium het ek geglo daar is niks meer aan ‘n hond as kop en stert, eet en groot bolle op die gras los. As hy vrek is dit klaar en verby, stof tot stof. As jy teen die tyd nog nie kan raai nie, Hosea was gestuur om my oë oop te maak. Ek was vies vir myself en uitermate verbaas toe die eerste roeringe van deernis vir hierdie groot, lomp babahond sy onwelkome kop uitsteek. Min het ek geweet hoe my lewe omgekeer gaan word en hoe hierdie hond ‘n vriend, kameraad en trooster sou word.

Hosea was baie slim en het my uitgelok om hom te leer. Hy het ook my geleer dat diere emosies het (amper sê ek voetsek as jy dit nie glo nie, maar ek sal nie). Met my pa se afsterwe het ons gekies om sy lewe te “celebrate”. Ons het geweet hy is veilig by Vader en het geen meer pyn gehad nie, Tog was daar dae wat die smart my oorval het. Dan sou ek kamer toe gaan, op my bed sit en daar huil. Maak nie saak waar Hosea op daardie plaas was nie, as ek sien is hy by my. Dis asof daar ‘n “trigger”op my bed was. Hy sou op sy hurke gaan sit, sy voorpote oplig en weerskante van my kop, op my skouers sit. Dan het ek sy lyf vas gegryp en my hart uit gehuil. Hosea het geduldig gesit tot ek klaar was. Hy sou “check” of ek regtig klaar is en dan al stert swaaiend sy kop teen my druk en daarna  weghol om verder die plaas te gaan verken.

As daar een ding is wat my erg irriteer van diere, is dit wanneer hulle vir my lê en kyk as ek eet. JINNE!!!!Daarom het ek Hosea geleer dat hy dit nie mag doen nie. Steeds getrou aan sy honde natuur, sou hy naby my kom lê as ek eet. Ek sou dan sê: “Hosea, nie kyk nie!” (regtig) Dan draai hy sy groot kop al kwylend weg. Natuurlik sal hy as hy dink ek kyk nie, sy kop stadig asof in vertraagde aksie, terug draai om te kyk so uit die hoek van sy oog. Wanneer ek dan vir ‘n tweede keer sê; “Hosea, nie kyk nie!!”, het hy sy voorpoot bo oor sy oë gesit. Dit was vir my so oulik ek kon hom opvreet. Hy het al my weerstand laat verkrummel. Daar is honderde staaltjies wat ek oor Hosea kan vertel. Ek het vir Hosea onbeskryflik lief geword en treur steeds oor hom.

Pasela het gekom nadat Hosea weg is. (Dis ‘n ander hartseer storie vir ‘n ander dag). My ousus het met baie liefde geld ingesamel by vriend en familie om Pasela vir my as ‘n verjaarsdag geskenk te koop, ‘n paar jaar later. Sy het nog nie al haar veertjies gehad nie en ek moes haar met ‘n druppertjie voer (dis nou Pasela nie my sus nie). Sy het oral saam met my gery sodat ek haar kon voer. Die heel eerste keer wat ek haar opgetel het, het sy onder my ken teen my bors in gesnuffel en daar gebly solank ek dit toelaat. Ook sy het my geleer dat diere emosies het en baie fyn ingestel is om emosies op te  tel. Ook Sy het my tone laat vuisies maak van lekker kry en lekker lag. Ek het vroeg al besluit hierdie papegaai sal NIE vloek nie. As berader kon ek dit nie juis bekostig as mense kom en Passella los een of ander knoop. So, as iemand wat kruietaal gebruik kom kuier, het ek Passella se ore toegebid. Sy is skerper as my skêr en tel iets bitter vinnig op. Sy is boonop parmantig met die bek. As sy nou weet ek tik hierdie storie oor haar, sal sy my opslag vra; “kom jy reg daar?”

Mense sê pappegaaie na-aap net wat mens sê. As jy ook so reken, moet jy kom kuier dan bewys ons jou verkeerd. Ek het dit finaal besef net voor my oudste se troue. Ons was laataand besig met rok verstellings en Passella was nog nie toegemaak vir die nag nie. Terwyl ek en nig besig is met die hok, hoor ek die klokkie in Passella se hok klink anders as gewoonlik. Sy het daardie speelding geniet, en soos Tarzan aan dit geswieng van een kant na ‘n ander. Onderaan was ‘n klokkie. Toe ek uiteindelik gaan kyk wat aangaan sit sy met een poot op die klokkie en elke nou en dan dan skud sy die poot net so. So kom ek agter haar toon nael het vasgehak aan die klokkie. Ek het haar en die klokkie uitgehaal en haar toe mooi verduidelik dat sy moet rustig bly ons gaan haar help. Sy het net haar koppie onder my ken in geskuif asof om te sê ek vertrou jou mamma. Nig het al wat ‘n ding is probeer om die klokkie oop te buig maar niks wou werk. Ek het weer vir Pasela beduie ons gaan haar toonnael moet knip en sy sê net “Sjoe”.

Ongelukkig bly die toon velletjie in die slag, Pasela gee ‘n gil en skuif dieper onder my ken in. Ek troos terwyl sy bloei asof sy nooit gaan ophou nie. Geld vir veearts het ek nie en ons pogings om die bloed te stop werk nie. Ons gebed dat die bloed moet stop werk en Pasela gaan sit mistroostig in haar hok. Ek het haar toegemaak vir die nag en gebid dat sy nie weer aan die bloei raak en vrek nie. Die volgende oggend het ek gelê en wag vir die geluid wat my moes vertel sy lewe. Ek het nie kans gesien om daai kombers op te tel en daar lê sy nie. Ek dink nie my gestel en hart en enige ander part sou dit kon hanteer nie. Toe ek uit eindelik haar hoor beweeg het ek opgevlieg, die lang gang in rekord tyd afgelê en die kombers afgepluk. Die verligting was oorweldigend en ek sê vir Passella : “Passella, jy leef!!!”, waarop sy kordaat antwoord “Prys die Here!” Nodeloos om te sê ons het sommer lekker gelag en daarna net dankie gesê. Ek kon haar opeet van liefde.

Daar word beweer pappegaaie leef tot 75 jaar. Waarop hierdie eertydse nie – diere mens vir Passella kan na-aap met “Prys die Here”vir dierekinders wat mensekinders se wêreld kom omkrap.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

Jou InLinkz skakel is http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=780871

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Advertisements