Dis sommer net so ‘n ou kortetjie

Ek het dit oorweeg om te begin met die ” is dit net ek of….” sin, maar was oortuig iewers gaan iemand sê dis net ek. So ek hoop almal van ons het sulke dae. Amper soos Una se lus vir skreeu dae, maar nie so ernstig nie. Eintlik as ek moet vertel wat gebeur het gaan julle dalk nie kan antwoord nie… oor julle teveel vir my lag. Of dalk my unfriend (kan mens ‘n blogger unfriend?) Nie dat ek wil nie, maak net seker…

Dit was een van daai dae wat jy net nie kan ophou kop skud nie. Hulle sê daar is nie pille vir stupidgeit nie. Vandag sê ek dis jammer. Nie vir iemand anders se manewales nie, my eie. Ek het ‘n paar nodig.

Ek het vandag iets oorgekom wat net te erg is om vir mens of siel oor te vertel. Van daai ek slaat dood neer as iemand moet uitvind. Ek sou dit nog dalk vir my dogters kon oorvertel met ‘n ek slaat jou dood as jy oorvertel. .. Maar my dogters het dieselfde ondeunde bloed in hulle are. Ek sien al hulle ek wil jou iets vertel maar jy mag vir niemand sê…”gesiggies terwyl ek rooigesig wonder hoekom mense my so skeef kyk en skud van die lag. Ons drie weet van saam lag vir mekaar maar ook vir ons self. Hulle was maar onderskeidelik een en ‘n half jaar en die ander net 8 maande oud toe ek enkel ma word, Ons moes lag om te oorleef.

Ek kan ook sien hoe hulle huil van die lag. Gil, skaterlag, ophou lag en nou nou weer begin lag. Daai lag wat jou uitasem maak en nou nou laat voel of jy jare jonger is. Ek hoor hulle kwikslae, heelwat later as hulle weer onthou…

Ek het nie aanvanklik gedink dis snaaks nie, was taamlik vies vir myself om die waarheid te sê. Dit was meer ander mense se gelag as ek hulle sou moes vertel wat my laat begin glimlag het. Maar meer as iets anders het ek net kort kort kop geskud. Dis nou ‘n geraamte in my kas. Wie het gesê dis net sondes wat ‘n geraamte in die kas is. Nee, ek kan eerlik sê hierdie was nie ‘n sonde nie, Dis ‘n skaamte. ‘n Blaps wat jou wil laat ineenkrimp van skaamheid. Gelukkig was ek alleen …

Ja ek weet iemand gaan nou kerm ek moet vertel. Nee. NEEEEEEE. Soos ouma altyd gesê het, oor my dooie liggaam. Of sommer ek skaam my dood….

Al wat ek kan sê is ek haat al hierdie lagies klere in die winter, mens kan maklik ‘n lagie vergeet. …….