Ek wil hierdie storie opdra aan almal wat deur enige vorm van abuse is en spesiaal vir Donkerkoppie…

Buiten my eie twee bloed dogters, het ek ‘n hele klompie kinders wat nie deur my lyf gebore is nie. Ek het ophou tel hoeveel. Ek het aangetroude kinders, geestelike kinders en dan ook kinders wat ek “gedeps” het. Ek het elkeen lief uit die diepte van my hart. Vandag wil ek vertel van my gedepsde kinders, my eina kinders.

Mense wat my ken sal jou vertel ek is ‘n mercy. Ek haat baklei, ek is ‘n vrede maker. Druk my in die regte blik, dan sal ek veg dat die bloed loop. Veral as dit vir my kinders is of iemand wat nie vir hom of haarself kan veg nie. Tot nou onlangs het ek nooit vir myself geveg nie. Nie omdat ek nie kan nie, want ek kan. Glo my. Ek kies net om dit nie te doen nie. Waar dit myself aangaan, sal ek in die middel van ‘n geveg al sleg voel en jammer voel en nog voor die geveg oor is vergifnis gee en vra en kiss and make up. Of probeer. Dit werk nie altyd so nie en is nie noodwendig reg nie. Maar raak aan iemand anders en dis ‘n ander prentjie. Dan klim daar ‘n onverskrokke, intemiderende Joey uit wat geen keer het nie.

So gebeur dit dat ek huisma word vir ‘n kinderdorp. Dis in die jare negentigs. Die plekkie is omrent ‘n klein dorpie op sy eie. Daar is 20 huise wat elkeen ‘n ouerpaar met hul eie kroos en 10 kinders wat deur die staat verwyder is, huisves. Daar is onder meer ‘n siekeboeg, kerk, klerestoor en skoolbus wat die kinders elke dag op en af laai. My huis het saam met my eie, 14 kinders gehad.

Die kinders in my huis se ouderdomme het gewissel tussen 3 jaar en 17. Hulle was weg geneem van hulle families vir verskeie redes waaronder armmoede, verwaarlosing en dan mollestering of mishandeling. Alhoewel die bestuur alles in hulle vermoë gedoen het om die beste moontlike sorg vir die kinders te gee, was daar net eenvoudig nie genoeg voorsorg of finansies nie en boonop daardie “loopholes” in die stelsel waarteen ek gedurig moes kop stamp. As jy nog nooit ‘n gebroke hart of gees gesien het nie, gaan kyk in die oë van so kind. Ek het baie vinnig na my aankoms daar besef dat ek nie sonder die Genade die mas sal opkom nie. My mercy hart was in flarde elke keer as ek in n bang, seer, huillende gesiggie kyk. Selfs was daar nie trane, het die verwonding deur die ogies gebrand. Daar was 2 dinge wat ek nooit kon verstaan nie. Eerstens, dat die stelsel kinders kon terug stuur vir besoeke by die ouers en tweedens dat ten spyte van mishandeling of swaar kry, die kinders wou terug gaan. Met “uit” naweke het ek die tasse moes pak met ‘n baie swaar hart. Ons huisouers was veronderstel om te rus op so naweek maar hoe kon ek as ek geweet het my kinders gaan seerder terug kom?? Ek sou so naweek om bid sonder ophou, smeek en eindeloos rond drentel. Bekommernis sou soos ‘n kanker aan my vreet. Ek was rasend en kon nie n naweek vinnig genoeg omkry nie.

Ek onthou hoe Kuiltjie (skuilname) na een so naweek, siek en koorsig terug gekom het. Sy pa het hom, sy boetie en 2 sussies uit die kar geboender en sonder omkyk weg gery. Kleine seer, siek seuntjie het met ‘n rou kreet diep uit sy hart, mamma!!!!!” gegil en in die lang gang afgestorm. My hart het geskeur en ek het hom agterna gesit. Sy voetjie het vasgehak en hy het neergeslaan. Ek het langs hom neergeval, in my arms ingebondel en net vasgehou tot al die huil uit sy lyfie was. Ek het saam met hom gehuil en bietjie binnekant toe gevloek. Ek wou die ouers iets aan

oen, seer maak, tronk toe stuur. Hy het daar in my arms op die gang se vloer aan die slaap geraak. Die ander kinders het om die hoekie vir ons staan en loer en orals is trane afgevee. Toe ek mik om op te staan het gewillige hande hulle Moeks met kleine Kuiltjie opgehelp. Nadat ek hom saggies op sy bedjie neergelê het, het ek omgedraai en in die gewillige arms van die res van my krose ingestap waar ons saam in ‘n grouphug bly staan het.

Donkerkoppie was ook deel van ‘n gesinnetjie van 4 wat by my gebly het. Behalwe vir herhaalde molestasie, moes sy fenomenale verliese hanteer keer op keer. Sy was omtrent 13 toe ek begin oppas-ma wees vir hulle. Sy het baie broser voorgekom as wat sy was. Sy het ‘n innerlike sterkte gehad wat haar laat opstaan het keer op keer. Sy het nie sommer gepraat wat in haar hartjie aangegaan het nie. Sy was HONGER vir gesonde liefde en aanvaarding. So oud as wat sy was, wou sy tydig en ontydig op my skoot sit. Met koppie onder my ken sou ek haar net vashou en nou en dan op haar kroontjie soen. Soms sou ek vir haar saggies neurie soos vir ‘n klein kindjie wat jy aan die slaap sus. Die oomblik wat sy saam begin neurie het ek geweet sy is oky en het haar dan saggies aangepor om iets te gaan doen. Met 14 kinders in die huis, en almal honger vir gesonde aandag, plus die werk van ma wees vir almal het nie altyd toegelaat dat ek so lank met haar kon sit nie. Sy was lief om in die Binnehof te speel. Haar droom was om ‘n belangrike, suksesvolle sakevrou te word. Dan sou sy vir haar Moeks sorg. Ek het haar vele kere dopgehou deur die venster. Sy sou met die “clipboard” wat ek haar gegee het deur haar denkbeeldige besigheid stap en voorraad nagaan. Dan sou sy aantekeninge maak, syfers bymekaar tel en hardop raas met ‘n personeel wat nie sy of haar werk doen nie. Sy sou speel speel bel en goed bestel en afsprake maak. Dan was sy so gelukkig dat geen mens kon dink waardeur sy al was nie. Nadat ek weg is by die kinderdorp, het die nuwe huisma met die kantoor gaan praat en is ek verbied om die kinders weer te sien. Hulle wou haar bleikbaar nie aanvaar terwyl ek nog in die prentjie was nie. Meer as 20 jaar later het een van die kinders, toe reeds volwasse my opgespoor en almal laat weet. Ek het nou met die meeste kontak en is steeds hulle moeks en ouma moeks vir hulle kinders.

Donkerkoppie het by ‘n drankwinkel gaan werk toe sy klaar maak met skool. Sy wou by haar pa gaan kuier eendag en het met die trein gery maar klim toe per ongelukkig by verkeerde stasie af. In haar paniek aanvaar sy hulp by ‘n kleurling man wat haar mislei, herhaaldelik verkrag en onder ‘n brug in ‘n sloot onder ‘n seil wegsteek. Ons Donkerkoppie was nooit weer dieselfde nie. Soos ‘n geknakte riet het sy nooit weer regop gekom nie. Al haar drome het daarmee saam verdyn. Sy het verdwaal in haarself en onder die slegste, armoedigste omstandighede gaan wegkruip vir die wêreld. Sy het haarself totaal verwerp en onversorg die res van haar lewe onder in ‘n Stoorkamer van ‘n winkel eienaar gebly. Ek en Asjas (haar ouer sus) het herhaaldelike kere uitgereik maar sy het ook vir ons uitgesluit. Ons het nie geweet in watter omstandighede sy lewe nie. Terwyl ek in Israel is het Asjas my laat weet sy is oorlede. Ons rou. Donkerkoppie maal in ons gedagtes, verpoeier ons harte met smart.

Ek wens ek het plek en tyd gehad om elkeen van hulle se verhaal na skool te vertel. Hoe elkeen dit verwerk het wat met hulle gebeur het. Hoe party genesing en oorwinning gevind het en ander net gaan lê het. Ek wens ek het steeds ‘n groot huis gehad sodat ek elkeen van my eina kinders kon toevou met liefde, genesing en hoop.

Ek wens ek het nooit weg gegaan van die kinderdorp af nie. Ek wens Donkerkoppie het ‘n suksesvolle sakevrou geword. Ek wens sy is nie dood nie. Ek wens ek kon elke slagoffer gaan uitruk uit hulle omstandighede. Ek wens pleister plak was genoeg. Ek wens my wense kon waar word…

Die laaste vidio wat Donkerkoppie vir my gestuur het: