Image006

Ek is gebore in die sestigs toe Familie name die in ding was. Swaar lywige name van oumagrooitjie of skoonma of een of ander trotse voorouer, tantes en ooms. Dit was die soort ding wat families kon uitmekaar dryf, jou baie kon laat erf en natuurlik onterf…..

Wat ek nie kon verstaan nie, is dat alhoewel almal met Familie name bitter swaar gedra het en in sommige gevalle half skaam gekry het vir die name, hulle nogtans die tradisie voort gesit het. Hoe doen jy nou in hemels naam iets aan jou kind wat jyself so swaar aan dra? Ja, daar was die enkeles waarvan ek geweet het wat trots was op hulle name maar hulle was dun gesaai.

My eie was vir my tot op ‘n sekere ouderdom ‘n las en ek was dus die eerste een in my gesin wat heeltemal weg gebreek het van die tradisie. Behalwe vir twee lywige familie name, het ek ook ‘n noem naam en ‘n swetterjoel byname. Na gelang van omstandighede en gemoedere is die name ingespan en het ek naderhand die name aan sekere dinge gekoppel. So het ek geweet dat witwarm moeilikheid op pad is, as my ma my geroep het op my familie name; Margaretha, Johanna. Sodra die Margaretha (let wel met ‘n h) in Magrieta(!!) verander, het ek dit ernstig oorweeg om weg te kruip. Gedatig aan wat moontlik later kan gebeur, het ek vinnig daardie oorweging laat vaar. Uiters versigtig en met ‘n vriendelike “Ja Mamma” het ek hoopvol toegegee aan die roepstem. Keer op keer sou daardie glimlag verstyf en in ‘n tranedal eindig. Snaaks genoeg, kan ek glad nie onthou hoe my pa my geroep het as ek in die moeilikheid was nie. As ek reg onthou, het hy net verskyn in my deur. Soos ‘n voorbode. Dis eintlik snaaks (nou, nie toe nie) want dit was eintlik ‘n voorbode vir ‘n lekker pakslae.

Ek het swaar gesluk aan die naam en verskeie verbuigings daarvan. Margaretha, Magrieta, Griet verdriet (jy huil verniet), Griet, en Grietjie het elkeen sy eie drama belowe. Dit was eers baie jare later toe ek met myself vrede gemaak het, dat die angel uit die name verwyder is. Magrieta my kind, kom nog soms na vore, gewoontlik as vermaning. Want sien, ek het dit steeds soms nodig. Die ander gebruike van die familie name is laat vaar en intussen het Grietjie ‘n liefdes naampie geword. Grietjie is een van my gunsteling byname. Mense wat my regtig lief het, noem my Wouwie en dit word toe die naam waaronder ek skilder ook. – Die foto by hierdie storie is my self portret vanaf ‘n foto geneem tydens my pa se begrafnis. My heel beste -este gunsteling bynaam is Wouwa. Dit is my kleinkinders se liefdes naam vir my. Daardie naam smelt my hart tot vloeibare liefde en dus laat ek nie enige een toe om daardie naam te gebruik nie. Seker omdat ek dan alle beheer oor my arms verloor en liefde uitstroom sonder keer of beheer. (is dit ‘n ouma ding?)

My standpunt oor my name het aansienlik verander. Hoe jy my aanspreek en watter naam jy gebruik vir my, sê vir my hoe jy oor my voel. Vandag is ek mal oor my name. Almal van hulle. Elkeen vertel vir my ‘n storie oor hoe iemand my sien of ervaar. Dalk maak dit vir niemand sin nie maar vir my tel dit groot punte. Ek hou daarvan om te weet hoe mense oor my voel, al sou dit nie positief wees nie. Veral as dit iemand is wat nie normaalweg maklik kan sê hoe hulle oor my voel, gee die gebruik van ‘n naam dit gewoonlik weg. Min mense noem my op my noem naam, Joey. Pasela my Papegaai roep my gewoonlik op my noem naam as ek haar dalk geignoreer het en sy my aandag wil trek. Dit begin gewoonlik met Mamma! Dan Wouwie! En as ek steeds blond is, gil sy ‘n harde Joey!!!! uit en dan beter ek aandag gee. Amper so kragtig soos Magrieta van ouds.

Vanoggend lees ek ‘n stukkie uit die nuwe testament. “Anna dogter van Phanuel uit die stam van Asher..” Ek weet teen die tyd dat daar meer skuil agter sulke tekse as wat op die oog af sigbaar is. Ek weet Anna was ‘n profeet wat in die tempel gebly het. Maar hoekom vind die skrywer dit nodig om die res by te sê as dit op die oog af niksseggend is? Daarom gaan kyk ek in my boek oor Bybelse name en die lekkerkry kom lê my hele lyf vol. Anna (Gracious, one who gives),Phanuel (Face of God/ Vision of God), Asher (happy)!! Vader sit dit vir my netjies bymekaar: Anna (wat profeet is), the gracious one that gives-from the face of God- with a Happy heart!!! Hoe wonderlik is dit nie?

Dis toe dat die name ding vir ewig in my hart kom lê vol vrede en lekker kry. Vader het my so gemaak en in my naam en mens wees het Hy alles kom sit wat by my hoort. Ek vra Hom wat is Sy gunsteling naam vir my en Sy antwoord smelt my hart…. “Grietjie, the one that I truely love”