Die begrafnis was broosmooi…

Net 2 klein handjies vol mense was daar. Almal regte omgee mense. Niks stofstreep in die pad mense nie. Daaroor was ek dankbaar. Hier is geen plek vir valsheid of voorgee. Sout van die aarde mense.

Die Dominie het onbeskaamd saam gehuil terwyl hy seker maak dat almal wat aandagtig luister, lief is vir die Vader, nes oom Frits. Dit in ‘n kerk wat nie eintlik sulke goed verwag word nie. Ek is amper oortuig hy wou ‘n uitnodiging maak.

Toe ons al oom Frits se gunsteling liedjies sing kon ek hom amper daar by ons gewaar. Hande in die sakke, kop half skeef gedraai, luisterend. In my verbeelding kon ek hom amper sien glimlag en daarom val ek toe in met deskant. Ek weet hy sou dit waardeer. Ek kon hom amper sien verras omkyk na my met sy skewe glimlag, al kop knikkend. As hy daar was, sou hy omdraai en vir my thumbs up gewys het en met ‘n oogknip terug gedraai het toe ons klaar maak. Ek moes net glimlag.

Eers het tannie my gewaar en my gegryp en soos ‘n drenkeling aan my gehang. Ek het haar net vas gehou en binnetoe gebid. Dit was asof sy by my krag wou trek. Ek het ewe stewig vasgehou en gestaan tot sy eerste gelos het. Bedroef het sy in my oë gekyk en gevra “gaan dit ooit beter word?”. Ek het gesê “moenie haastig wees nie dit vat baie tyd. Rou!” Sy het my weer vas gegryp en nou het die snikke deur haar maer lyfie geruk asof iemand sweephoue op haar af reen.

Toe sy my uit eindelik los, was dit haar 2 volwasse seuns se beurt om my beurtelings vas te gryp. Ek het bly staan solank as wat hulle wou vashou. Niks kon hulle aanjaag nie.

By die finale afskeid het dit vir hulle bykans ondraaglkk geword. Die familie het respekvol terug gestaan om hulle kans te gee. Ek wou ook, regtig. Ek het niemand anders geken daar nie en stil eenkant gewag. Hannes se hartverskeurende “pappa ek gaan jou so mis”, het my voete in beweging gebring. Toe ek my kom kry is ek by hulle en bondel hulle almal gelyk in my arms in. Saam so bymekaar het hulle geruk soos hulle huil en vashouplek bymekaar gekry terwyl ek soos ‘n paal in die middel van ‘n omval tent bly staan. Ek wou nie huil nie, wou vir hulle sterk wees – maar ek kon nie keer nie. Die trane het strome deur my grimering kamoeflering gehardloop.

Toe ek heelwat later die tannie groet en vir oulaas vashou het ek sy stem gehoor. Net een woord- “dankie”. Ek het stadig omgedraai, skeef geglimlag en vir ingeval hy sien, vir hom ‘n thumbs up gegee.

Mooi bly oom Frits, tot ons mekaar weer sien…