Oom Frits is dood. Sondag nog praat hy met my en vertel hy voel nie lekker nie. Ek troos en sê ons bid saam. Sy laaste woorde aan my :” lief julle” ek antwoord met hope liefdexx

Drie dae later sterf hy. En my hart is baie seer. Ek wonder hoekom want ek het hom nie so goed of lank geken nie. Hy was nie familie nie. Hy was ‘n buurman op ‘n naburige plaas.

Aanvanklik toe ek hom leer ken het het ek gedink hy is vreemd. Ek was nie altyd lus om die hek vir hom oop te sluit nie, hy was soms so ontydig met sy moeë groen karretjie en sy effe krom vooroor gestalte. Hy was baie maer en het baie gepraat. Wyd beduie. As hy eers sit wou hy nie weer ry nie. Vir my eertydse haastige en besige natuur was dit te veel. Hy wou in my bubble in dring en ek wou dit nie toelaat nie.

Tot die Here my aangespreek het. Ek het my hart met skrefies oopgemaak, eers versigtig asof om ‘n deur ingeloer. Klein bietjies op ‘n slag meer oopgemaak. Ek is baie lief vir mense maar het al duur lesse geleer. Daarom is ek baie versigtig wie ek in my bubble toelaat. Laat ek iemand toe, is ek weereens baie versigtig wat ek met die persoon deel of waar ek daardie persoon toelaat. As jy volle toegang gekry het en jy maak seer of misbruik jou plek, klap daai deur hard en duidelik toe. Al vergewe ek maklik sal sekere plekkies nooit weer toeganklik wees.

Oom Frits was sout van die aarde. Eenvoudig, sonder pretensies. Hy was voluit hy en hy het eintlik net aanvaarding gesoek. Ek was nie mal oor al sy maniertjies nie maar hy was regtig ‘n goeie mens met ‘n enorme omgee hart.

So arm as wat hy was wou hy net deel en deel wees. So gedaan as wat sy groen tjor was, sou hy jou enige tyd aanry as hy kon. As sy tee klaar was sou hy sonder skroom joune kom drink. Sy besoeke was gereeld as ek besig was met ‘n kos bestelling. Hy sou soos ‘n lastige brommer al om my draai en oral snuffel om te sien waarmee ek besig was. Soms sou ek hom opsy moes jaag soos ‘n lastige kind en hy het dit gelate gevat.

Sy huis was alewig vol mense wat nie vir hulle self kon sorg nie en moes hy sy stukkie wors al hoe kleiner sny…

So moes ek myself staal. As hy skimp vir ‘n eetdingetjie en sê “ja kry maar oom”, het ek geweet daar gaan ‘n paar ekstra sak toe. Maar dit was gewoonlik vir nog ‘n honger mond. Ek het geleer om maar ‘n ekstratjie te bak en uit te hou vir as hy kom. Hy het gretiglik ontvang en twintig keer dankie gesê, haastig weg gery om te gaan deel. Daar is net een keer wat hy kom erken het hy en vrou het dit alleen skelm in die kamer gaan eet. Dit was ‘n klein kremora tertjie. Hy het gegiggel soos ‘n stout skooldogter toe hy dit vertel. Ek het hom sonder voorbehoud lief gekry.

Hy het van iewers af begin skenkings kry en soms dit met groot sorg en liefde met ons kom deel. Dit was anders as die vrou wat gereeld kom groente aflaai het by die hek en dan haastig in ‘n stofstreep weg gejaag het. Sy het nooit toegang in my bubble gekry nie al was daar dankbaarheid in my hart.

Nou is hy weg en daar is ‘n gat in my bubble. Ek sien die prentjie van ‘n kougom borrel blaas tot hy bars en afblaas en klewerig aan jou mond vasklou. My bubble het gebars en dis seer. Ek het al soveel mense verloor. Nie net deur dood nie. Dis niks lekker nie. My mense bubble is stukkend, hoe maak mens dit weer heel…..