Una het vroeer vertel sy het haar tweede asem terug gekry. Hier in blogland inspireer ons mekaar. Dus besluit ek dis tyd….

Vandat ek myself hier in my eie kleine ICU ingeboek het, het ek nog nie weer aan ‘n kwas of potloot geraak nie. Dit wou net nie reg in my hand kom lê nie. Die inspirasie en lus het ontbreek. Welliswaar het ek vele kere goed gesien wat ek sou wou probeer skilder, maar die motivering het ontbreek…

Perdebytjie en Abrie is egter genadelose terggeeste met die mooi fotos wat hulle plaas. Hulle lok mens uit, kom krap daar waar dit nie gejik het nie. (Dankie) Van die ander blogmaters ook. En boonop bly Kameel vra vir prentjies.

Vandag was toe die dag. Ek het potlood, skerpmaker en papier gaan koop. Eerste Perdebytjie se foto probeer skets …..

En geflop….sal maar nie my poging op sit nie. My hand en oog is heel uit voeling met mekaar. Ek was skoon verstom. En diep teleurgesteld dat ek so sukkel…

Maar ongeag die resultaat, was dit lekker om weer die reuk van die potlood te kry. Om te voel hoe dit oor die papier gly. Om my vingers te sien swart raak van die charcoal ..

Net dalk, net dalk, sal ek more weer probeer…..