Jy moet my kom haal sê oompie en ek sug. Ek was lus vir ‘n stil, rustige naweek alleen. Ek is bitter moeg, wil nie praat nie, wil nie doen nie, wil net lê. Is reg oom Dawid, sê my mond voor ek kan keer. Baai rus naweek dink ek.

Oom Dawid is nie my bloed familie nie. Aangetroud.Hy het ‘n paar ouer susters en susters kinders wat hulle eie lewens lei en vérgeet daar is nog ‘n oompie. Hy bly alleen in ‘n kleine buite kamertjie op ‘n plot by vreemde mense. Daar is nie eers plek vir ‘n hangkas of ‘n stoel nie. Hy sorg vir hom self met sy Sassa geldjie. Sela…

Die Woord sê ons moet sorg vir die weduwee en wees. Hy is myne. Ek het Abba gevra wie myne is en hiers hy. Hy is vir my gegee. So gaan haal ek hom een keer ‘n maand. Dan kom hy ten minste uit. Terwyl hy kuier hou ek hom ongemerk dop en luister om ook tussen die lyne te hoor.

So kom ek agter van goed wat hy kort sodat ek weet wat om te kry sonder om te vra. Want as ek vra, sê hy dat hy niks kort, hy is piekfyn. Hy vra niks, net liefde en geselskap. Die eerste keer kom kuier hy met sy paar goedjies in ‘n checkers sak. Hy het nie ‘n kam, tandeborsel, tandepaste of onderarm goed nie. Badseep en sjampoo is ook klaar.Hy lyk toe al bietjie soos ‘n onversorgde bos gorilla. ‘n Witte.

Ek knip sy hare en baard. Daarna sy toonnaels en skuur sy hakke. Hy kan al jare nie bykom nie. Ek gee hom van die lyfroom wat ek self maak. Hy lyk en voel soos ‘n nuwe sikspens.

As oompie kom kuier, weier hy dat ek op ‘n matras op die vloer slaap sodat hy op my bed kan slaap. Hy slaap op die matras. Dis bietjie moeilik, want dis ‘n batchelor woonstel. Net een vertrek waarin die kombuis en slaapkamer is. My sitkamer is die onderdak stoep buite my woonstel. My badkamertjie is darem apart maar het net ‘n gordyn en nie ‘n deur. Hy staan tussen 3 en 5 kere ‘n nag op, loop kreunend verby my en gaan pieps. Dan enige tyd tussen 2 en half 5, maak hy redelik rumoerig vir homself ‘n koffietjie. Want sjoe, dan slaap hy sooooo lekker. Ek is ‘n baie ligte slaper, ek weet van elke beweging en ek raak moeilik aan die slaap as ek eers wakker is.

Om Vrydag middag se swaar verkeer te mis, gaan haal ek hom Donderdag na werk. Skaars ry ons of hy sê: ” hierdie naweek doen jy niks! Ek gaan jou bederf” Ek glimlag net. Vrydag oggend wil hy al half sewe vir my ontbyt maak. Dis te vroeg vir my en ek keer en beduie ek sal teen nege uur se kant opkom woonstel toe vir n happie. Net voor nege val baas by die kantoor in en ons pluis ‘n paar dinge uit. Half tien stap oompie die kantoor binne op sy krom beentjies met ontbyt en ‘n fles tee. My bek val oop en ek sluk aan die knop in my keel.

Toe ek middag ete by die woonstel kom, moet ek hom gou eers dorp toe neem. My kussing stoot sulke lang arms na my uit. My bed wink. Reg oom Dawid, sê my mond alweer. Ek waai vir my bed en kussing toe ek die kar sleutels vat. Oompie vra hy wil slaghuis toe. Waarvoor wil hy nie sê nie.

Toe Shabbat aanbreek sit ek aan by ‘n skaapvleis bredie wat hy in my slowcooker voorberei het. (Dit is nou op sy wenslysie, ek sal ‘n plan moet maak). Hy weet skapie is my gunsteling vleisie. Hy het ook spesiale broodjie vir die shabbat maal gebring. Weer moet ek sluk aan die knop in my keel. Hy het self so min en hy gee so diep.

Deur die loop van die naweek word ek behoorlik bederf. Koffie of tee word aangedra. Selfs ‘n koeksistertjie wat hy ingesmokkel het. Ons hou saam Bybel studie, luister spesiale boodskappe en sit in die donker op my stoep en worship. Ons lag baie. Ek skuur weer sy voete, knip toonnaels. Ons kyk saam na Australia en laataand luister ek hoe hy snork.

Toe ek vanoggend wou skottelgoed was, trek hy my tekenstoel voor my in. Sit! Teken! Beveel hy en ek luister.

Waag ek om te wil opstaan, vra hy “waar gaan jy? ” Hy dra water, eetgoed of wat ookal aan. Hy kook.Ek mag net opstaan as dit nie iets is waarmee hy kan help nie. Teken te lekker. Ons eet vroeë middag ete en dan pak ons vir hom ‘n paar goedjies. Daarna neem ek hom na ‘n familie lid vir wie hy graag wil sien. Toe ek hom namiddag aflaai is daar twee pare oë effe waterig. Die een wil meer dankie sê as die ander. Die trane kom toe ek wegry en in die truspïeel sien hoe hy bly staan en waai.

By die huis gekom kyk ek na my kleine plekkie wat so oorvol is met ‘n matras op die vloer. Ek dink aan hoeveel kere ek die toilet klap moes laat sak. Ek dink aan elke keer wat ek die vloer matjies moes reguit trek wat op ‘n knop gaan lê omdat hy nie sy voete meer kan optel nie. Ek dink aan die min slaap.

Meer nog, onthou ek met hoeveel liefde hy bedien en gedien het. Ek onthou koffie in die bed- wanneer laas het dit gebeur? Ek wonder, wie is nou eintlik vir wie gegee.

Dit was toe ‘n heerlike bederf naweek. ‘n Goeie naweek. Nee, nie net oor die bederf wat ek gekry het nie. Maar ook oor wat dit vir hom gegee het. Nie wat ek vir hom gegee het nie, wat hy vir homself bewerk het. ‘n Gevoel van dat hy nog vir iemand iets kan beteken, dat hy nog waardevol is. Dat hy iewers nog hoort en dit het die liggies in sy oë terug gesit….

Dra mekaar se laste en vervul so die wet van God, sê die Woord. Soms beteken dit jy moet fisies iets doen. En soms beteken dit jy moet net geleentheid skep of net toelaat. Hierdie naweek het ek gesien dit beteken ook dat jy soms niks moet doen, net sodat iemand anders iets kan doen en sodoende sy liggies weer laat flikker….

Advertisements