Foto geleen van Facebook

Die woorde in die foto het my nogal getref. Vandat ek hier bly en werk, het ek heelwat geleentheid om met myself te gesels. Behalwe vir kliente so nou en dan, het ek nie veel ander geselskap nie. Baas en haar man is gedurig iewers op pad heen en ek kry selde besoekers, tensy ek hulle self aanry.

Eers gaan maak ek ‘n draai by al my vriendinne. Ek reis deur jare heen en hou piekniek langs die pad (in my hart) saam met die wat ek het van naby en van vêr. Harts mense. Die wat ek al baie jare ken en die wat vriendinne geword het (blogmaats) wat ek nog nooit ontmoet het. Ek bedink my pad met elkeen en wat ek met hulle deel. Ek ontdek iets wat my tot stilstand bring.

Ek gun hulle almal meer as wat ek myself gun en gee. Ek besef dat ek myself nie soveel empatie, simpatie of genade gee as wat ek iemand anders gee nie. Selfs vir wildvreemdes sal ek met liefde en verstaan toevou wanneer hulle dit nodig het, maar vir myself? Moenie glo nie…..

Ek het nog altyd geweet ek is harder op myself as met ander. Besef ek was met tye my eie ergste vyand. Selfs in swaar tye het ek nie baie simpatie met myself gehad nie. Was bang vir self bejammering, ‘n twyfelagtige luukse wat ek nie kan bekostig nie. Dus, was my gesindheid, komaan, kom by dis nie sooooo erg nie. Jy was mos ‘n sterk baba, het jou eie pram gestoot!! Ongeduld was nog altyd ‘n swakte en veral met myself. Jaag altyd voort.

Toe my moeg se moeg begin moeg word het, het ek besef ek moet halt roep en dinge stadiger begin doen. Meer kere stadig en diep asemhaal. Stadiger loop, meer stop en die mooi en lekker soek en geniet. Meer geduld met myself probeer beoefen. Meer genade met myself hê.

Die laaste jaar en paar maande, werk ek nogals daaraan om nie so rof met myself te wees nie. Ek het na myself begin kyk. Ek het lyf- en gesigroom gemaak vir myself. Instede daarvan om met spoed van weerlig myself te smeer, neem ek tyd. Ek troetel my vel, smeer tydsaam stadig aan, masseer die seer plekkies en moeë voete. Ruik diep aan die geure van mirre, frankincense en lavender.

Die weerbastige krulle wat tog so kan koek, word stadig en liefderik gekam instede van soos ‘n besetene te ruk en pluk. Ja, ek het regtig dit so gedoen toe ek jonger was, ag selfs nou die dag nog. Ek het gaan oplees oor wat mens eintlik met krulle moet doen en volg die voorstelle getrou. Eintlik was dit nie ongeduld nie, besef ek nou. Dit was liefdeloos. Ek besef dit nou.

So graag en maklik deel ek liefde uit, maar vir myself? No ways. Toe vra ek myself hoekom. En ek skrik vir die antwoord. Ek het die leuen geglo dat ek liefde nie werd is nie. Die hou het my wind uit geslaan.

Daar is gereeld vir my vertel dat “as mense weet wie jy is, sal hulle jou nie liefhê nie”. Ek kan dit verstaan, as daar groot fout is met my. Maar wat ek nooit kon verstaan nie, is hoekom sê niemand vir my wat is so verkeerd aan my dat ek nie liefgehê kan word nie.

So terwyl ek “uitpak”, ontdek ek hoeveel mense wel vir my lief is. Mmmmmm, dink ek. Dan moet daar ook iets wees wat goed is aan my? Daar moet iets wees wat die moeitewerd is om lief te hê? Ek sien ‘n piekniek mandjie wat nog bot toe staan. Bo op is ‘n pienk strik en ‘n naam op geskryf. “Joey”, staan daar geskryf en ek pluk nuuskierig aan die lint, maak die strik los.

Ek sien ‘n koevertjie en maak dit nuuskierig oop. Eers vlieg my oë vinnig oor die woorde en ek snak na my asem. Dan lees ek stadig woord vir woord…

Liewe Joey,

In Psalm 139 staan geskryf, jy is kunstig en wonderbaar geweef.

Yeshua het vir jou gesterf, Hy dink jy is worth it!

Ek wil jou graag leer ken, sal jy asseblief my beste este maatjie word?

Liefde

Joey”

My mond val oop, ek sluk ‘n slag. Aĺles word stil om my. Huiwerig steek ek my hand uit en stadig lig ek die deksel. Ek wil sien wat ander sien, ek wil weet wat binne is. En dalk, net dalk ontdek ek meer as deurmekaar hare en vetrolletjies…

Advertisements