Hier op die plaas wat ek bly, was eers drie koeie. Baas loop slag twee en een bly oor. Ek kan my kop op ‘n blok sit, die ding is so mal soos ‘n haas. Of dit nou van eensaamheid is wis gin mens nie. Maar vandag het koei se kind amper haar rieme styfgeloop.

Laat ek nou maar oop kaarte speel. Vanoggend voel ek effe knieserig. Nee, ek dink nie ek word siek nie. Gister aand was weer ‘n goeie aand vir skape tel, maar heellaas geen skape nie. En na ek en die lakens ure lank rond gedans het, drink ek uit eindelik ‘n ou pilletjie. Maar hopeloos te laat. Nou stoei ek om te fokus. Ek voel om en dom. Dis nou wel ‘n baie flou ou pilletjie wat gewoonlik geen nagevolge of gevoelentheid gee nie. Maar nou ja, dit was amper vroeg oggend toe ek my lakens regtrek en weer probeer.

Toe my kop so ‘n ou knikkie wou vang, besef ek dat ek vars lug nodig het voor my voorkop die laptop tref en ek met skaamte ‘n gesig vol blokkies het. Eers loop kyk ek watter shofars is min, sodat ek dan in die stoor kan gaan haal. Dan doen ek darem iets so in die lopery.

Ek stap uit en neem ‘n oomblik om net eers diep asem te haal en wakkerder te word. Voor my is die land met ou droë mielies en ek draai voor dit regs en stap stoor se kant toe. Intussen het baas besluit net agter die mielies is die gras te lank en mal koei moet bietjie daar gaan korte mette maak daarvan.

Nou of ‘n by of goggie die koei gepiets het en of een van sy mal gene van die torretjie afgeval het weet ek nie. Maar skielik kom sy soos die heks van Gedarah op my afgestorm. Mensig, ek weet nie wie het die grootste geskrik nie; ek, die koei, of my baas en werker nie. …

Iewers val ‘n trip switch, en ek kom in beweging. Alles gebeur gelyk:

Dit voel of my kop iewers agter bly in ‘n beweging wat my herhinner aan Lorrel& Hardy se komediese skarrels terwyl my bene in ‘n ander rigting gaan en my arms doen hulle eie ding. Die koei bulk maar klink soos ‘n honger leeu. Peter skreeu, die baas jaag met haar Mercedes in my rigting -ek dink sy wou tussen my en die koei in jaag. Dis net teveel vir my onlekker lyf. …

Seker maar soos adrenalien inskop, wat wie weet waar vandaan kom, swaai ek terug in die rigting van die dreigende koei wat op my afstorm. Sonder dat ‘n enkele woord of gedagte iewers registreer, verander ek in Jackie Chang of so iemand, se look a like. My arms gaan vanself op en daar kom dieselfde mal bulk brul uit my mond terwyl ek op die bleri koei afstorm en my arms rondswaai. Ek vermoed ek het meer soos ‘n geirriteerde zombi gelyk en geklink…

Die koei gee ‘n benoude bulk en kies koers weg van die besete gesig. Peter raak bleek en sê Jôh, baas rol haar venster op en staar my oopbek aan. En toe daai venster toe is, sien ek myself…..

Seker het my lakendans my gewone krulle in ‘n weerlig krans op my kop getooi. Het ek ooit hare geborsel, flits dit deur my eens benewelde brein. My mond is oop gesper, my oë is pierings, arms in die lug en hande soos kloue wat gryp en my een been is in die lug….

Ek sien baas sluk, waai en draai die mercedes in ‘n ander rigting. Peter draf terug na sy werksbank, koei kyk oor haar skof en draf lang gras toe. Stadig laat sak ek alles. Vryf oor my hare, maak toe my mond. Mal koei, sê ek hardop, maar is nie seker van watter ene ek praat nie….

Advertisements