Ek is tweede oudste van vyf kinders. Eers my sus, dan ek en dan drie boeties. As kinders kon ons lekker speel en lekker veg. Tog, sou ‘n buitestaander dit waag om met een van die vyf te veg, het dit al vyf se vyand geword en het ons soos een man saam gestaan. Al vyf was ewe onhebbelik en ondeund gewees. Vandag, almal oor die vyftigs, het ons heelwat bedaar maar steeds sekere kwaliteite behou. Alhoewel ons almal sekere ooreenkomste het, is ons ook in sekere areas baie verskillend.

Ek dink sus en ek verskil die meeste. Sy is die kwaai, baie netjiese een. Sy was van kleins af baie mooi en slim. Sy het al die kwaliteite gehad wat van haar ‘n baie gewilde kind gemaak het. Vandag is sy ook geliefd en het hordes vriende om dit te staaf. Ek was van toe af al mal oor my sussie en het maar net gewens om soos sy te wees. My eerste herhinnering aan ons twee saam was haar klein driewiel fietsie. Die fietsie het twee sitplekke gehad. Natuurlik was sus aan die stuur. Ek was vrywillig verplig om op die agterste sitplekkie te sit en moes verbete vasklou aan sus. Sy het gekyk hoe vinnig sy om die huis kon ry. Om elke hoek het sy vet gegee sodat die wieletjie aan die een kant oplig en die fietsie dan op twee wiele om die hoek gly. En vele kere omgetiep. Sy het rats van haar sitplek afgespring en dan gestaan en kyk hoe ek skarrel om uit die stof uit op te staan. Dan tel sy haar fietsie terug op sy wiele en sê gretig:” weer!” Dan begin ons weer van voor af. Sy het nie bedoel dat ek moet seerkry nie maar sy kon uit haar maag uit lag oor my manewales. Ek was maar te bly dat my sussie met my wou speel en dat ek haar kon laat lag.

Die volgende onthou is die see vakansie, waar fotograwe haar afgeneem het by ‘n groot opblaas bal. Sy was beeldskoon (is steeds). Ek was so trots op haar en sou met diepe bewondering naby haar probeer staan sodat almal moet weet dit is my sussie. Natuurlik het die deurmekaar kop dogtertjie nie in hulle prentjie gepas nie en is summier weg gejaag. Op hoërskool het sy trosse vriende gehad en was by kind en onderwyser bemind. Ek het al dieselfde vakke as sy gekies net om ook soos sy te wees. Natuurlik fatale fout omdat ek glad nie soos sy aangelê was nie. Dit het my natuurlik weer heelwat dommer laat lyk omdat ek onder presteer het. Al hierdie dinge het my ‘n negatiewe boodskap gegee oor myself, wat ek eers ‘n paar jaar gelede begin verwerk en oorwin het. Ek is dankbaar om te sê my ontdekkings reis om uit te vind wie ek regtig is, was wonderlik al was daar ‘n paar verrassings. In die jaar 2008 het ek finaal besluit ek wil ek wees en nie meer my sussie nie. Ek weet dit was nooit haar doel om my te benadeel nie en dit was bloot my eie spoke wat my gejaag het. Wat het dit alles met ‘n wit bad uit te waai? Ek is bly jy vra….

Soos ek reeds gesê het, is my sus baie netjies. Ek daarinteen is nie so netjies nie. My huis is skoon maar dit is ‘n bly en kuier plek wat duidelike tekens toon van iemand wat daar bly. Daai iemand se skoene kan rond lê en is boonop nie lief vir skottelgoed was nie. Sal maklik vanaand se skottelgoed los vir more. Ek moet bysê daar is nie baie nie, met die dat ek alleen bly. As ek kuier mense gehad het en daar is meer skottelgoed as gewoonlik, sal ek dit nie sommer laat oorstaan nie. Nou die bad…..

Sus se huis was nog altyd haar trots en veilige vesting. Dinge het sy plek en haar reels geld onwrikbaar. Koppies word onmiddelik uitgespoel, nikse goed lê ook rond nie. Haar bad is spierwit. Ek dink dis veilig om te sê dit is witter as die dag toe dit ingesit is. Nie wit nie, s.p.i.e.r.w.i.t. Die sponsie en skoonmaak goed staan op aandag op hulle plekkie en bewaar jou siel as jy dit nie gebruik nie. Ek dink as dit kon, sou dit saggies asem gehaal het. Geen roes of vuil vlekkie kan ooit parkeer geld ingooi en daar vasklou nie. Die witwaks word uit daai bad geskrop nog voor enige vuil merkie eers kan dink om daar iewers ‘n draaitjie te gaan maak. En sou die wit emalje iewers afgeskuur word om ‘n plekkie ongeverf te laat, skrik daai plekkie homself wit. Verstaan jy? Wit sê ek jou, WIT, sal daai bad bly van toe af tot in lente van dae. Nou daai wit bad, is my challenge….

So dan en wan slaap ek oor daar en moet daai wit bad gebruik. Soos ek gesê het, ek is nie so netjies soos sy nie maar is beslis nie vuil nie. Ek haat ook ‘n vuil bad. Maar nog nooit het enige bad van my, wit of ander kleur, nuut of oud, ooit en ek bedoel ooit soos in nooit, so wit gewees nie. My sus loop nooit kaalvoet nie, slippers of plakkies sorg dat haar voetjies nooit regtig ‘n skropborsel nodig het nie. Ek daarenteen, is mal oor kaalvoet loop en het altyd ‘n skrop borsel nodig. Ek hou my voete netjies, met moeite moet ek bysê. Maar die vreugde wat my lyf deur versprei as ek kan kaalvoet loop, maak meer as genoeg op daarvoor. Die ding van kaal voete, is dat dit water nodig het om skoon te kom. As ek by sus kuier, is dit egter ‘n probleem. Ek het ‘n bad nodig voor ek in haar bad kan klim. Dit is asof haar bad ‘n magneet het vir my voete wat ‘n onaansienlike voetafdruk laat. Ek was altyd die dekselse bad na ek gebad het, maar dit is asof hierdie wit bad net nooit skoon kom nadat ek daarin was nie. Dis heeltemal veilig om te sê dat ek meer tyd spandeer om hierdie bad te skrop as wat ek in die bad self is. En dit sê baie!!!

Ek is besonder lief vir ‘n lekker warm bad en kan met die regte bubbles of olie, nogal lank in ‘n bad bly. Maar nie in hierdie spesifieke bad nie. Ek het nou al ‘n storie uitgewerk.GEEN olie of bubbles in hierdie bad nie. O vrek, nee!! Ek sit eers ‘n donker kleurige waslap in die bad neer, dan trap ek bo op die lap sodat ek nie iewers ‘n hak of toon vlek kan los nie. My voete lê dan bo op die lap, niks moet direk die bad raak nie. Ek sal terug lê om die volle impak van die lekker warm water te ervaar, maar so gou moontlik uitklim. Asof elke minuut wat ek daarin spandeer, my langer gaan laat skrop as ek uit geklim het. Al lê ek terug, kan ek nie die normale genot wat ek uit iets so eenvoudig kry, beleef nie. Ek wil net klaar kry en die bad weer skoon kry, asb tog. Ek het myself al betrap dat ek wonder of sy die bad kom inspekteer as ek klaar is en haar kop spytig skud. Dis asof ek net nie die frieken bad so skoon kry soos sy nie….

Toe ek nou weer vanoggend die bad ding doen daar, besef ek dat dit meer ‘n straf as ‘n plesier is om daar te bad. Ek wat ‘n bad so uitbundig geniet, vergeet van al die seen wat so ‘n bad inhou. Die luuksheid van ‘n kraan wat jy kan oop draai en warm water vloei ongehinderd daaruit! Die heerlike gevoel van skoon kom, die geur van die seep, die lafenis van ontspan in die luuksheid. Ek was jare gelede ‘n sendeling in Sekhekuneland waar water aangedra moes word en net elke soveel weke gevloei het. Geen krane in die huis en het gebad in ‘n skotteltjie. So vir ewig en altyd kan ek ‘n bad waardeer. En lopende water. Behalwe in sus se huis. En natuurlik soos altyd as ek sulke dinge bedink, bespring gedagtes my. Gedagtes en slimmigheid wat van die Slimste af kom.

Ek huppel so terug op die pad van hoe ek soos sus wou wees. My wieleties lig op as ek my draai gooi om die hoeke van my eie genesing en skoonmaak proses in my hart en emosie. Ek voeter af in die stof by die besef van een of twee goedjies. Ek sien hoe skrop ek my eie nerwe af om elke vlekkie van seer of moeilik of sonde af te kry. Ek sien hoe ek versigtig, om nie foute te maak nie, voorsorg lappies neersit net om nie nog ‘n merkie te los nie. En ek besef in die hele proses het ek vele male vergeet om die proses te geniet. Vergeet van die luuksheid van Lewende water wat oor my spoel. Vergeet van die heerlike reuk van skoon kom en die bubbles van vreugde vind in klein dingetjies. Welliswaar nie altyd nie, maar definetief meer kere as wat ek besef het.

En dis toe dat die ondeunde moedswilligheid wat ingebore is parkeergeld ingooi en staan plek vind. Ek het uitgeklim, bad geskrop en seker gemaak daar is een kleine vlekkie. Net om seker te maak alles is nie perfek nie, het ek die matjie voor die bad skeef getrek en met ‘n stoute giggel my goedjies opgetel en gesê: ” weer!”…

Advertisements