My wêreld is deurmekaar. Orals. By die kantoor, by my woonstel en by baas hulle se huis. Baas en haar man het amper oornag besluit hulle trek Kaap toe. En my nou eers gesê. Ek bly alleen agter op die plaas om die besigheid te bestuur.

Baas het baaaaaaaaaie goed. Deur die jare het hulle met sorg goed bymekaar gemaak. Daar is onthaal goed, soos borde en messegoed, glase ens. Baas is baie gasvry en het ‘n gawe om mense te ontvang en soos koninklikes te laat voel. Daar is hope en hope teachings, cd’s en nog meer bokse vol hebrew klasse, aantekeninge, leêrs, boeke en selfs speelgoed. Alles opgedeel in klompe boksies, geverf, gemerk, de lot. Dan praat ons nie eers van tuinboeke, prente, resepte en jare se admin. Raai wie se werk word dit om daardeur te sif en dan te pak…

Nou is dit aftree en afskaal tyd. Alles word uitgesoek en uitgedeel. Net party goed gaan nou saam. Die res word in bokse en dan in groot hout kratte gestoor vir later. Alles word behoorlik gemerk eers op die boks dan in die houtkratte wat dan ook gemerk word. Klink of oor 5 of 6 maande wil hulle alles laat afry sodra hulle plek het. Klink my hulle wil dan hê ek moet ook soontoe gaan. Ek pas nie in ‘n krat nie.

Daar word gepak teen die spoed van, uhm, ja, daar word gepak. Ek moet help tussen my werk deur. En vandag na stemmery, raai wat? Pak ek. Vir hulle. Ek het baaaaaie ondervinding van trek, nie dat my raad gevolg word nie. Nietemin buig ek en pak ek en sorteer ek asof dit myne is. Vat hier, sit neer, nee dáár. Hierdie moet kantoor toe. Daardie stoor toe. Nee ander stoor….

Ek moes my eie kleine persoonlike stoortjie herrangskik om plek te maak. Daar kom ‘n yskas en vrieskas by. Darem kan ek as vergoeding van die inhoud daarvan nuttig. Nee, ek weet nog nie wat is daarin nie. En omdat alles so vinnig gedoen moet word is daar nie tyd vir draai nie. Hulle trek vandag oor 7 dae, hoor ek.

So ek vat en gaan sit neer. Loop myle op ‘n dag. Hopelik werk ek paar kilojoules af. Maar nou is die kantoor vol staan goed. En my huis. Die moet jy vir hulle gee. Daai moet jy vir daai mense gee. Baas gee met oorgawe en ‘n mooi hart vir al wat leef en beef van alles wat hulle gekoop het. En dit lyk of goed in hulle huis aan teel dit is veronderstel om minder te word maar lyk of dit meer word. En ek luister en hoor baie maar sê niks.

En toe raak baas emosioneel. Dit gebeur nooit. Ek verwonder my en onthou hoe sy geluister het toe ek pas hier aangekom het. Toe ek dit nodig gehad het. Ek maak my hart sag en luister. En troos en deel drukkies uit. Ek onthou hoe baie ek by haar geleer het en hoe goed sy vir my was. Ek skuif my moeg op en ek begin vir hulle bid. Terwyl ek pak. En luister en hoor. En ek seen hulle so saggies sonder dat hulle weet.

En ek sien opgewondenheid plek maak vir bang wees en weer omdraai en bly raak. Ek sien onsekerheid en ek sien hoop. Ek sien planne wat nooit uitgewerk het, drome wat nooit geverf is. Ek sien liggies flikker in oë wat wonder wat nou. Ek sien hoe hulle moet losmaak en hoe hulle probeer vasklou…

En ek onthou my eie journey toe ek hierheen moes kom. My eie drome wat plat geval het. En ek verstaan waar hulle nou is. Ek weet hulle besef nie die impak van hulle besluit op my lewe nie. My eie onsekerheid bêre ek vir eers. Dit sal moet wag tot hulle weg is…

Advertisements