Nie vir sensitiewe lesers nie…

Anton is dood. Anton is ‘n swaer, en was nie baie gewild gewees nie. Hy en my skoonsuster is net ‘n jaar en ‘n half getroud en dit was van die begin af duidelik dat hy ‘n bietjie anders, of plein weg weird is.

Hy was op daardie stadium werkloos en het beweer dat hy “under cover” vir die polisie se drug afdeling werk. En omdat hy under cover besig was om te help ‘n sindikaat dwelm smokelaars oop te vlek, moes hy so nou en dan self dagga rook. …

Sy klere en juwele het mens laat wonder. Sy manier van praat en doen ook. Nie my soort geselskap nie, sê ek oop en eerlik (met skaamte). Hy het mens laat dink aan iemand wat aan die verkeerde kant van die spoorlyn bly. Nie asof ek aan die regte kant (wat dit ookal beteken) gebly het nie, maar ek probeer vir jou ‘n prentjie skets. Sy kop was kaal soos kojak. Hy was afgryslik maer.

Menigmaal as mens daar sou aandoen, kon jy nog die dagga of wat ookal in die lug ruik. Soms as hy gepraat het, moes ek die drang om sy mond toe te druk met alle mag keer. Ek het myself soms betrap dink aan ‘n verskoning dat ek moet ry.

Met alles vooraf gesê in gedagte, kan ek ook sê hy het my skoonsus gelukkig gemaak. Kokaai soos hy was het hy meer van God se karakter in hom sigbaar gemaak as baie sogenaamde christene, myself ingesluit.

Sonder om homself op te blaas of te vertoon het hy ‘n omgee gehad wat baie min mense het. In ‘n tyd wat my rug baie seer was, sou hy sonder vertoon of omhaal van woorde langs my inskuif as ek moeisaam die trappe moes afklim. Hy sou sy skouer onder my inskuif en my met sy arm steun terwyl eie manlief eenkant toekyk.

Hy het skoonma waarvoor niemand kans sien, onder sy dak ingeneem en versorg. Al haar twakkies opgevreet en sy vrou beskerm soos ‘n verwoede beer as dit nodig sou wees. Hy was altyd bereid om te help op sy stil beskeie manier. Al was hy nie my gunsteling persoon nie, het ek vir hom respek gehad.

Nou is hy dood. Dinsdag by die werk het die mense agter gekom daar is groot fout en die ambulans laat kom. Hy is opgeneem. Iets wat hy gebruik of gerook het het sy kop laat uithak. Ekskuus dit klink vreeslik maar dis hoe dit aan my verduidelik is. Sy brein het uitgesny. Hy het ook geweldig gehalusineer.

Hulle het hom deeglik ondersoek en toetse gedoen. Toe vasgebind op ‘n bed om te laat “uit droog”. En net iewers het sy hart besluit dis te erg en ingegee. En gaan staan. Al hulle pogings om hom te red het gefaal.

Wat my diep geraak het was wat sy vrou vertel van hoe hy gelyk het toe hy sterf. Sy oë was oopgespêr asof in erge vrees en pyn. Dit was diep terug gesak in sy oogkaste en sy wange het ingeval. Sy kakebeen was styf en uitmekaar. En my hart huil. …

Omdat ek hom nooit lief gehad het soos ek moes nie. Omdat ek nie genoeg van my Here se liefde in my gehad het om by hom te gaan sit en praat nie. Omdat ek nie genoeg van God in my na hom gereflekteer het, dat hy kon hulp vra nie. En nou is dit te laat…

Nee, dis nie guilt en condemnation wat op my lê nie maar skaamte. Hoekom draai mense hulle rug op God? Hoekom glo mense nie in God? Hoekom het mense issues met God?Ek is bly jy vra….

Want ons wat Hom lief het verteenwoordig Hom so swak dat niemand Hom wil ken nie. Want mense dink as Sy kinders so is, moet Hy so wees….

Ons leef nie sodat mense honger na Hom. Mense wat nie in God glo nie het Hom nog nooit ontmoet nie, of het seer gekry deur iets wat ons as christene of “die kerk” gesê of gedoen het en hulle op vlug laat slaan het. Hulle issues met God is eintlik issues met kinders van God….

En ek is skuldig. Ek ken God as ‘n liefdevolle Vader wat red en genees en omgee meer as wat ek ooit kan begryp. Ek het nie een keer met Anton oor God gepraat nie. Net my neus opgetrek en anderpad gekyk. Sies!!!!

Mag God my en Sy kinders vergewe….

Advertisements