Die meeste mense weet dadelik waarvan jy praat as die woord “detox” gesê word. Jammer julle, ek is seker daar is ‘n briljante afrikaanse woord daarvoor maar my raaiskoot is min sal weet waarvan jy praat. Die woord word gewoonlik gebruik om die proses van gewig verlies aan te help of selfs vir genesing doeleindes. Vir die lyf. Maar hoeveel keer het jy al daaraan gedink dat jou brein ook ‘n detox nodig het? Ja jy het reg verstaan. Jou brein. En myne. Veral myne. Ek het dit hierdie week weer deeglik besef. Ek onthou die televisie program “Fear Factor” en hoeveel keer hulle walglike goed moes eet en lewens gevaarlike toertjies doen. Die deelnemers aan die program se beweegrede vir deelname was een van twee (of altwee). Eerstens die lieflike geld prys wat iets soos $5000 was of om een of ander vrees in hulle lewens te oorkom. Ek het daarvan gehou om die program te kyk maar ek het myself in ‘n bewerasie in gegril vir die goed wat hulle soms moes eet. Daar was altyd ‘n emmer byderhand vir die naar word. Ek hoef net iets te ruik wat effe onsmaaklik is dan wil ek al bulk soos ‘n koei. ‘n Mal koei bygesê. Ek sou verseker van daardie emmer gebruik gemaak het of myself gediskwalifiseer het deur botweg te weier. En ek onthou mense het gereeld gesê dis ‘n kwessie van “mind over matter”. Wel, my brein het daardie stelling verkeerd verstaan. Vir my was dit eder; my- mind –matter – wat -ek -eet. Beslis nie oorkom die saak met jou mind nie. Daai toets het ek keer op keer gefaal, tot en hede met vandag. Dit is al ‘n paar jaar gelede wat ek Dr Caroline Leaf (video skakel hier onder) ontdek het en van haar wyshede beproef het. En ek weet dat dit krag dra. Aldus het ek al ‘n wyle terug van die wyshede in my lewe begin toepas. Ek kan ook getuig dat waar ek aan gehou het met die oefeninge wat sy gee, dit werklik ‘n verskil in my lewe gemaak het. Dan moet ek ook erken dat ek dit nie in alle areas van my lewe gebruik het nie. Bloot omdat dit baie, en ek bedoel BAIE dissipline neem. Sekerlik is ek net te lui. Nee regtig. Ek is. Baie mense, waarvan ek ook een is, is te besig om tyd hieraan te spandeer. Maar hierdie week het ek besef hoe belangrik en absoluut noodsaaklik dit is dat ek (EN JY) hiervoor tyd sal moet maak. Omtrent vier jaar gelede was ek op ‘n redelike goeie plek op my lewensreis. Ek was al elf jaar enkellopend, het toe bogenoemde waarhede in my lewe beoefen en redelik sterk gegroei in die emosionele en geestelike aspekte van my lewe. Ek het met myself vrede gemaak en my swakhede begin oefen om sterker te word. Met die toepassing van al die bogenoemde, het ek ook redelike moeilikhede in my persoon begin oorbrug en weer begin om van voor af die lewe en myself te geniet. Ek het geweet wie ek in Christus Jesus was en geglo ek was in oorwinning. Soos met elke skool jaar, is daar egter eksamens wat jy moet deurkom voor jy na die volgende standerd (of graad) kan aanskuif. So is dit ook met jou emosionele en geestelike skool. En hierdie is ‘n eksamen wat ek liederlik gedop het. En nou, drie jaar later, die onsmaaklike vrugte pluk van ‘n baie baie duur les. Die tydperk tussen in het ek bloedbek geval en al die grond wat ek gedink ek gehad het, verloor. In die proses het my gesondheid ‘n lelike knou gekry en die ergste van alles, my sogenaamde “rug kondisie” het ontwikkel. Vandat ek die laaste jaar en ‘n half hier op die plaas bly, het ek met mag en mening gewerk aan my emosionele en geestelike genesing. Die tydperk wat ek in ‘n Narsisistiese huwelik was, het alles wat ek oor jare heen aan gewerk het, afgebeitel tot waar ek weer van voor af moes begin werk. Om te sê dit was as gevolg van hierdie mishandeling is seker tegnies korrek. Tog is die volle waarheid dat dit eintlik my eie skuld was. Nee, wag. Moenie so gou oordeel nie. Ek is nie nou hard op myself nie. Ek gaan nie nou vou onder ‘n las van arme ekke nie. Ek het dit toegelaat in my verslaentheid van wat met my gebeur. Met die skok van wat die hele situasie was en van my geverg het, het ek iewers gaan lê. Ek het sonder dat ek besef het, toegelaat dat hierdie mishandeling ‘n effek op my lewe en liggaam het.“Memory recall of past hurts” is ‘n term wat gebruik word in berading en bevryding. Ek het hierdie week besef my liggaam is soos ‘n rekenaar wat reaggeer sodra ‘n sleutelwoord in getik word. Ek het meer as ooit besef dat my brein sterk onthou patrone het van dinge uit die verlede. Die emosies wat saam met sekere situasies verbind word is soos die sleutelwoord wat iemand in ‘n rekenaar in tik. Sodra ‘n sekere insident plaas vind, wat ‘n sekere emosie tot gevolg het, roep my brein sekere gevoelens en pyne op wat daarmee verband hou. Waarheid, of jy dit wil glo of nie. Kom ek verduidelik. Soos reeds gesê, het ek sedert my trek hierheen, gewerk aan my genesing. Baie hard wil ek by sê. Baie baie hard. Ek was desperaat om beter te voel. Vir my liggaamlike genesing, het ek gesonder en minder geëet en gaan stap, asook TRE oefeninge gedoen. Ek het ook vitamien en mineraal aanvullings gedrink. Vir my emosies en genesing van mishandeling het ek navorsing gedoen oor narsisme, slagoffer mentaliteid en self genesing. Gaslight, lovebomb en hovering is terme wat met narsisime verband hou. Ek het aangesluit by aanlyn terapeute en alle inligting daaroor op geslurp, geabsorbeer en begin toepas. Ek was geskok oor wat ek alles gehoor en sien het. Sommige inligting moes ek weer en weer en nog ‘n keer lees of kyk voor dit sin gemaak het en deel begin raak het van my proses. Vir my geestelike genesing het ek by die Meester se voete gaan sit. En moet steeds daar bly. Dit was alles aanvanklik bitter moeilik en het lank geneem voor ek enige vordering kon sien. Een van die goed wat ek geleer het was dat die narsisis ook deur periodes gaan waar hulle jou ignoreer (discard). Dit het redelik baie met my gebeur en aanvanklik het dit seer gemaak. Naderhand het ek dit as bedekte seen begin sien. Nou verkies ek dit.Tydens my navorsing het ek geweldig baie geleer. Ek het geleer hoe om die tekens te herken van wanneer daar ge”hover” word of enige van die ander terme. En ek het geleer hoe om dit te vermy en myself te beskerm teen verdere mishandeling. Alhoewel ons nie meer saam is nie, kontak hy my wel sodra sy nuwe “narsisitic supply”opgedroog het. Ek het hom met tye geblok van my foon maar moes noodgedwonge weer ontblok omdat ons skeisaak nog nie afgehandel is nie. Dis in hierdie tye wat hy weer probeer hover het om my weereens as ‘n slagoffer in te katrol. Deur die Almagtigste se genade alleen, kon ek sterk genoeg word om dit te weerstaan. Ek het ook geleer hoe om te antwoord in plaas van emosioneel te reaggeer. Emosionele reaksie is soos kos (narsistic sypply) wat hom eintlik sterker maak. Ek het besef dat ek hom al die jare sterker gemaak het deur my reaksies. In die laaste 2 weke is hy eindeloos besig om te hover. Aan mekaar, elke dag. Hy moes agter gekom het ek reaggeer nie meer nie en kry dus nie sy “supply” by my nie. Daarom het hy telkens van strategie verander en weer en weer probeer. Ek was op en af spring bly toe ek besef tot watter groot mate ek vry gekom, genees en gegroei het. Kinderlik bly omdat hy nie meer die vermoë besit om my emosies te beinvloed nie. En ewig dankbaar dat ek nie meer deel was van die siek mishandeling nie. Maar terselfder tyd moet ek bysê dat sy hardnekkige volharding geweldig uitputtend is. En dis net hier waar my “memory recall of past hurts” die tripswitch laat val het. Tydens die proses van mishandeling was vele van my minerale, vitamienes en hormone (oa melatonien, slaap hormoon) uitgebrand en het erge moegheid teweeg gebring. Alhoewel ek nie meer op die hovering gereaggeer het nie, het my brein die moegheid onthou. En die oorsaak. En die gevolg? Bly jy vra…Rug spasmas. Like nobody’s business…. ! Eers was dit bietjie rugpyn. Ek het dit in die gees begin veg en weerstaan en ek is seker dit het gehelp. Maar soos wat die ure in dae verander het en ek nie volgehou het om wat ek geleer het by Dr Leaf, toe te pas nie, het die pyn erger geword. Tot ek gister besef het my hele rug is in ‘n spasma. Ek het uit eindelik terug gesit en die saak in oënskyn geneem. Diep asem gehaal, met self gepraat en terug gekyk na waarmee ek besig was. Ek moes erken alhoewel daar reuse spronge van groei en genesing was, die pad vorentoe nog lank voor my uitstrek. Ek het besef dat alhoewel daar baie verandering was, ek nog nie gedisiplineerd my brein detox het nie en dat my brein sekere dinge nog in verband met mekaar bring. Aldus…….moeg en rug spasmas!!!!! Ek wou myself skop. Baie hard ook. Ek het besef dat al veg ek elke poging hand en tand, my brein dinge onthou wat ek al vergeet het. Die oomblik as iets bekend is vir my brein, reaggeer my liggaam spontaan vanuit die verlede se ondervinding. Die brein patrone is gevorm en hol onwillekeurig in die bekendheid van die verlede se pad af. En veroorsaak reaksies in my liggaam vanuit die verlede. En laat my met simptome soos in die verlede. Toe ek dit besef, begin ek dit toets en waaragtiglik…..Wat my toe laat dink aan menigte van my kosbare vriendinne wat huidiglik beyond giving up moeg is. En swaar voel. En nie gesond word nie. En ek wonder of hulle ook hulle gedagtes en breine laat weg hol? Is dit nie hoekom die Woord sê neem jou gedagtes gevange tot gehoorsaamheid….? Waar is die “vrede laat Ek julle na..”? Om mooi en kragtige teksverse op te sê help bokkerol as ek dit nie leef nie. Neem ek altyd my gedagtes gevange? Nee. Dit hardloop soos ‘n mal brak die wêreld vol. Nog ‘n skrif sê “vernuwe jou denke..”, doen ek dit? Nee. Nog ene sê onderwerp jou aan God, weerstaan die duiwel en hy sal van jou wegvlug”. Doen ek dit? Nee…..nie altyd….nie getrou.Piets, piets,piets kry ek ! My brein is versteen van ou patrone.So lyk dit seker…Dit bly harloop op ou paaie. Genoeg is genoeg. Ek wil vry wees, ek wil gesond wees. Ongelukkig help geen pil vir dit nie. Harde werk en disipline, deur die Woord te leef, dis wat. Daarsy, ek het by die kruispad gekom. Wat volgende gaan gebeur, hang seker af van of ek my hand in Sy hand sit, by Hom krag trek en opnuut my reis voort sit. ….

Sela (calmly pause and think about it)

Watch “How To Detox Your Brain Part 1 Dr Caroline Leaf YouTube 720p” on YouTubehttps://youtu.be/P9UtL9_2jZA

Advertisements