Ek gaan nie gereeld dorp toe nie. Winkel sentrums gee my asma op my enkels. Baas se man het altyd die rond ritsery gedoen. Hy kon 10 keer op ‘n dag ry, met die grootste graagte. Nou is hulle nie hier nie en moet ek dit doen. Ek rits nie sommer rond nie en moet boonop die personeel ook besig hou. Aldus beplan ek my rond ritsery deeglik en doen soveel moontlik met elke rit.

Die pad dorp toe is wild verby. Met die laaste reens het die grondpad diep duike gespoel. Dit skud en stamp dat my wange tril. Daarna lyk die teerpad in dorp toe nie veel beter nie. Aangesien my kar nog buitewerking is, moet ek met die trokkie ry. Ek voel soos ‘n cowboy. Kort net ‘n hoed. Dit bokspring soos ‘n ongetemde perd en ek moet mooi mik tussen die slaggate en onverskillige taxis heen.

By my eerste stop sien ek lang rye mense op die stoep en ek wonder of daar iewers ‘n vreeslike lotto gaan uitbetaal of wat. Ek gaan postnet vinnig binne, handel my sake af en stap terug trokkie toe. Die bestuurder regs van my het so naby my parkeer ek moet wraggies aan die passasiers kant inklim. Gelukkig is daar ook ‘n handvatsel waaraan ek my kort lyf kan optrek. Maar toe moet ek oor rathefboom en handbriek klouter, genugtig dit was moeilik. My rug is steeds in ‘n spasma en my kniee wil nie meer so lekker buig nie. Ek stoei en stoot in alle rigtings om nie myself of die trokkie te beseer nie. Ek sien die mense in die lang tou loer na my met wenkbroue wat lug. Stil wonder ek of daar iewers ‘n geluid uitgeglip het waarvan ek onbewus is…

By my tweede stop is daar hordes mense. Stalletjies orals, musiek wat blêr en balonne oral waar jy kyk. Manne staan oral rond, duime in broeksakke en ja wraggies, ‘n paar cowboy hoede. Dis die plek se tweede verjaarsdag en dit word behoorlik gevier.

By my derde stop is ek by die winkel sentrum. Ek besluit op die ingewing van die oomblik om ‘n wimpy koffie te gaan geniet. Toe ek instap, steek ek eers vas. Dit lyk soos ‘n aftree oord se teekamer. Dis net oues van dae waar jy kyk. Buite die wimpy stoot ou mense trollies rond. Die plek is stampvol. Net toe wil omvlieg en wegloop groet die kelner hallo ouma. Pfffff, blaas ek stoom af,eks gin so oud nie. Ek trek my rug so reguit moontlik en hoop van harte dis nie omdat ek so oud lyk nie. Toe ek sit, kyk ek behoorlik na die mense om my. Almal sonder uitsondering is beslis ouer as ek. Meeste tafels is paartjies en hier en daar ‘n ou oom wat alleen sit. Ek wonder stilweg is dit pensioendag of wildeweste…

Die 3 tafels naaste aan my is paartjies. Dis dierbaar om te sien hoe hulle die uitstappie en mekaar geniet. Links van my is die kleinseun ook by en tipies oupa terg terg die klein mannetjie. Oral groet oues oor en weer en gee selfs lekkers aan vir kleingoed. Twee ou tantes gluur my aan. Ek glimlag in hulle rigting maar kry het opgetrekte wenkbroue en dan draai hulle koppe anderkant toe. Ek betrap twee omies ook vir my loer. Ek wonder wat gaan aan.

Toe die kelnerin my koffie voor my neersit neem ek ‘n sluk en gee ‘n lang sug van pure lekker kry. Ek hoor my foon pieng en tel dit op. Dan sien ek my weerkaatsing op die skerm en skielik verstaan ek. Ek het met ‘n oop venster gery en my krulle wat alreeds ongetemd wou wees vanoggend staan nou in sewe verskillende rigtings!! Dit lyk asof ek iewers agterste voor uitgeleep is, of dalk hoort ek…ja wel…in die wildeweste!!!

Advertisements