Dit is nou al twee weke wat ek kort kort die Vis Arend hoor naby ons. Dan hol ek uit die kantoor en deurpriem my oë die hemelruim. Verniet of ek die Arend te siene kry, maak nie saak hoe lank ek soek nie. Tog klink hy bitter naby.

Nou terwyl ek terug stap kantoor toe na my wildeweste rit, hoor ek sowaar die arend weer. My oë kyk vinnig op en sowaar, daar is hy. En hy sak, sak, sak af al hoe laer en laer. So laag dat ek duidelik sy wit kop en stert vere sien. Ek gee sulke klein dogtertjie gilletjies van lekker kry. Die werkers kyk onthuts na my en praat in ‘n ander taal. Die mal koei stap dieper die mielieland in en loer net so skeef vir my.

Ek gaan staan bot stil en raak skoon duiselig soos wat ek asem ophou. Toe gebeur ‘n snaakse dink. ‘n Witborskraai begin in sy rigting vlieg al nader en nader. Ek staan in verwondering en kyk wat gaan gebeur. Op ‘n stadium wonder ek wie jaag wie. Dan sien ek tot my verbasing die kraai probeer die arend wat dubbel sy grote indien nie meer, verjaag. Totdat die Arend in ‘n boom gaan sit baie naby aan my. Ek snak na my asem! Dat Vader my nou so kom bederf! Net Hy het geweet hoe graag ek na die voël luister en kyk. Om vir my nou so ‘n skouspel te reel, net vir my!!!!

Jyyyyyyyyyyyg al wat leef, jyyyyyyyg voor die Heer gil ek terwyl my toontjies vuisies maak van pure lekker kry…

Advertisements