Norah kom stofsuig my kantoor. Sy is al om my, net nou suig sy my op. Ek staan op, neem die sonnige lemoen en stap na buite. Ek brei dit soos toe ek ‘n kind was, terwyl die winterson oor my rug streel. Dit raak te warm en ek besluit om te waag om op die wankelrige blou buite stoel te sit.Saggies druk ek my duimnael in die skil en begin daarmee ‘n sirkel sny. Stroopsoet sap borrel uit en ek suig eers ‘n bietjie voor ek die ronde skilletjie aftrek. Behaaglik suig ek die nektar terwyl ek rustig alles om my bekyk.Vrolike geel blommetjies, reg langs my, wieg in die briesie en verras sien ek bye besig om stuifmeel bymekaar te maak. Om hulle pootjies is dit dik aangepak en hulle laai nog op.Ek suig die lemoen leeg en dop hom om, binnekant buitentoe. Tydsaam eet ek die vrug wat oor is en lek die sap van my lippe af. Met die agterkant van my hand vee ek die wegloop druppels van my ken af. My oë loop vanself deur die vetplantjies oorkant my.Ek sien die winterson se blink op die vet, sappige blaartjies en dan gewaar ek ‘n spatseltjie kleur.Uitbundige rooi blommetjies stoot hartlik regop en belowe ‘n kleurespel binne ‘n dag of twee. Ek moet self herhinner om weer te kom kyk. Regs hiervan, staan ‘n spekboompie en ek staan op om ‘n paar blaartjies te pluk. Dit mag dalk ryk aan magnesium wees maar my mond trek skeef vir die smaak terwyl ek dit rustig kou.Snaaks hoe ek nooit voorheen lief was vir vetplantjies nie. Nou is daar so sagte bekoring en boonop het dit gesondheid opgesluit wat ek kan benut. Moenie van my vergeet nie, nooi die roos met die besonderse kleur.Broos mooi dink ek en staan op. Norah is klaar. Hoekom het ek altyd gedink winter is lelik, wonder ek en stap my koue kantoor binne…

Advertisements