Una skryf My Amper anderkant uit en dit resoneer so met wat my besig is om te gebeur. Behalwe myne begin eintlik nou eers, al is dit ‘n rukkie aan die gang…

Ek weet dit klink deurmekaar en vir ander mense is dit dalk. Maar vir my, maak dit perfek sin, presies op tyd. Sestien maande gelede het ek hierdie journey begin sonder dat ek geweet het waar dit moet eindig. Dit was die einde van die pad, soos ‘n t-aanstluiting. Ek wis nie links of regs. Links lê vashou aan beloftes en ‘n droom. Regs die wegstap en klaar maak…

Terwyl ek wag vir Slimste se stem, moet ek honderde ander stemme stil maak. Want ek moet hoor. Terwyl ek wag en wag en wag, toeter almal ongeduldig vir my. Intussen klim ek met vyl, beitel en hamer in en timmer en skaaf om alles wat aan my kom vasplak het af te kry. Ek probeer Joey weer vind. Sy het so vêr geval, so wyd verdwaal. Alle vreugde en vrede was lank reeds weg. Dit was ‘n helse stryd.

Geduldigste was altyd naby. Al kon ek dit nie altyd voel nie. Hoe stap jy so ‘n pad wat tog duidelik in die “operator manual” sê dis taboe? Genadigste het geweet net hoe, en so saggies saggies die pad voorberei.

Al wat ek verseker geweet het, is dat ek nie kan terug draai. Ek kon nie weer na dieselfde mens toe terug gaan nie. Hoe verduidelik ek dat ander verstaan sonder om iemand seer te maak of swart te smeer? Hoe rou jy iets soos ‘n huwelik / droom maar nie die mens? Saam met my reg beitel het ek eers gerou. Want ek glo in die huwelik, ek wou dit so graag laat werk. Maar hoe bly jy in abuse? Ek kon nie. Jammer, ek wou maar ek kon nie.

Die laaste twee weke het die antwoorde begin instroom. Ek het begin hoor. En soos wat alles insink, kom die vreugde en vrede. En terwyl ek my eerste huiwerige tree gee, kom nog vreugde en nog.

So ry ek net nou met die bokwa dorp toe. Spesiale boor punte moet gehaal word. En ewe skielik spring ‘n gedagte by my op, ek ry ‘n draai en sowaar daar is parkeer plek! Ek storm in, kry blitsig die vorm en vinnig is ek weer uit. Daar spring ‘n hoelahoop, Jack-in-the-box, jahooooooooo blygeit diep diep binne in uit. So vêr soos ek ry, dwarrel vreugdes krulle om my kop en waai saam met my uitbundig arms by die oop venster uit. Hallloooooooo wereld skreeu ek, ek kan dit nie keer nie.

Tuis gekom gaan sit ek en probeer sedig wees. Dit is eintlik so hartseer dat mens kan bly wees oor die einde van ‘n pad soos hierdie. Egskeiding is hartseer, mens moet dit nie celebrate. Waar kom die vreugde dan vandaan?

Die antwoord kom van Sagste. “I have saved you from the one that was stronger than you”. Dit is ‘n kom gratis uit die tronk uit, kaartjie. Ek weet daar sal ander emosies ook wees, dalk later. Maar vir nou, sal ek celebrate, want vir my, is daar’n hoop en ‘n toekoms, beter as gister….

Advertisements