Vanoggend is dit ‘n skamele 3 grade in my kantoor. Met die verwarmer aan. Ek het verskeie lae klere aan en kry steeds koud. Met rukkies gaan ek na buite en staan ‘n rukkie in die son. Dit help gewoonlik maar vanoggend se effense windjie maak my kouer. Ek gaan sit amper op die verwarmer.

Ek oorweeg dit om op my stoep te gaan sit en werk. Eers wil ek net kyk of daar son is en sommer ‘n warm dingetjie maak. Die versoeking is daar om ‘n ou sjerriekie te skink wat van binne af kan warm maak. Maar toe lui my werksfoon en klient vra hulle wil kom sjofare kyk. Dink nie ‘n drank asempie gaan werk nie. Dus maak ek ‘n koffietjie en stap weer onder toe.

Toe die twee jongelinge opdaag is hulle eers verstom oor die hoeveelheid asook verskeidenheid sjofare daar is. Toe begin hulle optel, bekyk en blaas. Een na die ander en dis ‘n ge- oeeee en ge- aaaaah dat jy hulle waar kan hoor. Hulle begin eenkant sit maar verander kort kort. Partykeer kom daar redelike weird klanke uit en ek giggel so onderlangs.

Langs my tafel is ‘n stoeltjie wat lyk soos ‘n klavier stoeltjie. Daarop lê ‘n eksotiese sjofaar. Ook die duurste in my kantoor. Dit is ‘n Sabel. Oor die naweek het ek kliente gehad wat dit probeer blaas het en gesukkel het. Ek wou dit terug vat in die fabriek in sodat die manne kan kyk wat aan gaan. Somtyds vlieg perdebye daarin en maak nes. Natuurlik kom daar geen klank uit nie en laat boonop ‘n nare reuk. Ek het egter vergeet om dit te vat en so tel een van die jongelinge die ding op……

Ek moedig hom aan om te blaas, wel wetende hy gaan sukkel. Nes die wolf van die drie varkies blaas en blaas en blaaaaaaaas hy dit. Sy maat kom haal dit uit sy hande en begin ook wolf se streke. Ek begin lag oor hulle manewales en die weird geluide wat daar uitkom. Koud kry is skoon vergete.

Hy besluit om die ding om te draai en kyk of hy kan sien wat aangaan. Ek het darem intussen vir hulle gesê dit lê daar vir hersiening. Wat ek volgende sien gebeur was nie voorspelbaar nie. Jongman gee iets wat klink soos ‘n skreeu en smyt die ding dat hy daar trek. PADDA!! Gil hy. Maat nommer 2 gryp die sjofaar en doen dieselfde.

Nou lag ek hardop dat die trane loop. Hoe die padda daarin gekom het wis ek nie. Maar hy het die wind van voor gekry met al die geblasery. En spoeg. Baie spoeg. Padda het besluit dis NIE meer lekker in die sjofaar nie en wou uit net toe die manne inloer. My oor aktiewe verbeelding sien natuurlik alles in stadige aksie. Van hoe padda sy ogies op skrefies moet trek as die asems so na hom toe aan gewaai kom. Ek sien hoe hy koes vir die spoeg en spytig probeer omdraai. Ek sien hoe hy hom vererg, sy oë rol en besluit om uit te klim, net toe jongeling daarin loer. Ek weet nie wie het die grootste geskrik nie, padda of man, maar ek het verseker die lekkerste gelag….

Advertisements