Voorheen het ek al geskryf oor die mal koei. Vandag hak haar kop al weer uit. Sy jaag soos ‘n besetene deur die kamp by die dam, ek is skoon bang sy voeter in. Dan storm sy die kant toe, dan weer daai kant toe. Sy wil uit, en sy raas!! Sy soek bul sê ou Josef. Ai koei, dink ek, weet jy wat jy jouself op die hals (of is dit skof)haal? Sy het al deur die draad gebreek. Ek stap huis toe en gaan haal twee lemoene, een vir haar en een vir my. Ja, ek weet dis nie ‘n bul nie maar dis troos. Sy sien my aangestap kom en kom hek toe. Sy bulk dat hoor en sien vergaan. Ek hou vir haar die lemoen uit en begin met haar praat. Saggies. Ek maan haar tot rustigheid en vryf haar voorkop deur die draad. Ek seen haar en sy kyk met waterige ogies na die ander lemoen. Ja oky, sê ek en gee dit ook vir haar. Sy loer vir my terwyl ek met haar praat en roer haar ore, dit draai die kant toe en daai kant toe soos sy luister. As ek wegloop, bulk sy een bulk agter my aan en draai stadig om en begin rustig wy.Ek stap terug kantoor toe maar sien die manne staan so ent weg en beduie vreeslik. Toe ek nader stap is dit een van die swerm bye wat ook vandag mal geraak het. Hulle het weg van hulle korf af, ‘n droeë ranker getakel en koek daarom saam. Orals is kwaai bye wat tekere gaan. Ek sê die manne aan om nog ‘n kas bymekaar te sit en vir hulle hier te kom neersit. Dalk is die ander te vol. Ons sit een rakkie met varserige heuning stukkies daaraan vas, binne in die kas. Dis tjoef tjaf en die bye begin soontoe trek. Die kwaai raserige bye raak stil en hou op om so wild heen en weer te vlieg. Die natuur verwonder my ek kan dit vir ure dop hou.Drie tree van die nuwe kas af, staan ‘n kaal boom , gestroop van al wat ‘n blaar soos ‘n geplukte hoender. Die boom is gewoonlik oortrek met ‘n baldadige blare krans waaruit ek altyd verskeie voëls hoor roep. Die boom staan paar tree weg van my kantoor deur. In die somer kan ek ‘n gedeelte van die boom deur die venster sien en hou soms die voëls dop as hulle in die takke baljaar. Nou vertel die boom ‘n stil storie met die 5 leë nessies in sy kaal takke. Was daar klein voëltjies, waar is hulle nou?Ek wonder watter voëls se nessies dit is. Elkeen anders in die voëltjie woonstelboom. As ek meer geweet het van nessies sou ek nou ‘n puzzle prentjie kon maak. Droeë boom sou vol kleur gewees het.Jare terug toe ek die eerste keer as volwasse vrou op ‘n plaas intrek, was dit in‘n voël paradys. Daar het ek leer voëls kyk en die natuur ontdek. My dogters het gedink dit is baie snaaks dat ek gaan “voëls kyk”. Stadig het ek geleer watter voël en watter geluid pas bymekaar. Vir my het ‘n wonder wêreld oop gegaan. As ek die geluid hoor, en weet by watter veervriend dit pas, het my gedagtes ‘n puzzle gebou deur ‘n prentjie van daardie veervriend te visualiseer iewers op ‘n tak of in die lug. My lewe het skielik al hoe meer kleur begin kry. Nou wonder ek hoe my puzzle sou lyk as ek weet watter veervriend so huisie bou. As ek dit kon weet sou my wintergrou prentjie kleurvol raak.Dis Vrydag middag en die son trek sy strepe al hoe laer tot dit begin dikpens sleep in die sand. Oor ‘n klein rukkie sluit ek die deure na ‘n woelige week. Moeg druk swaar op my lyf af. Onwillekeurig gaan my gedagtes na Woensdag nag toe die Veilige Gees my wakker maak en in die middel van die nag sê om Sjofar te blaas. Onverstaanbaar maar betroubaar, daarom kan ek Hom maar volg. Die volgende dag sien ons dat Middernag skimme die heining op twee plekke deur geknip het en wyd oop getrek het. Ek glo die klank van die sjofar , het die manne op vlug laat slaan, die wye droë vlaktes in. Ek sien al weer ‘n puzzle stukkie. Sommige prentjies is kleurvol ander weer nie.Wat my opval is ons span drade om diere binne te hou en mense buite. En in een week sien ek diere uitbreek en mense inbreek. Wat is fout met hierdie prentjie, wonder ek terwyl ek herkou aan my puzzle wêreld vol kleur….