Vandag moet julle maar tikfoute verskoon. Ek tik so tussen trane en snotters deur. Ek voel absoluut oorweldig, het lanklaas so ‘n onverwoordbare dag gehad.

Die wat my storie al rukkie volg weet ek was in die proses om te skei. Sewentien maande in Brits, ken ek nie eers straat name nie omdat ek altyd altyd op die plaas sit. Het tot 3 maande gelede nooit rond gery nie. Ek werk in die kantoor op die plaas en toe baas hulle nog hier gebly het, het haar man die rywerk gedoen vir plaas en fabriek. Drie maande gelede trek hulle en begin ek die rywerk ook doen.

Die hele proses om die saak te begin het soos ‘n berg voor my gelê. Eers omdat ek moes weet wat ek moet doen. Dan die geld, die proses en die nuwe Suid Afrika. Daarby moet ek plekke soek in ‘n dorp waarvan ek nie die state ken nie en instansies wat in ongure dele van die dorp is. Dit voel of jy polisie begeleiding nodig het behalwe hier het jy beskerming nodig teen die posisie ook. ‘n Paar weke gelede het ek egter vertel ek het die antwoord gekry en my eerste wankelrige treë gegee om te begin.

Eers het ek die vorm gaan haal en uitgevind wat ek alles moet indien en doen. Ek het met omgekeerde rassisme te doen gekry in hierdie klein dorpie en moes 4 keer gefrustreerd omdraai omdat ek niks vorder nie. Net vir een stukkie papier.

Vanoggend kry ek uit die bloute Woord by ‘n klient waarin Genadigste belowe Hy maak vir my deure oop. Ek wonder nog oor die woord toe ek kort daarna vrywillig verplig is om dorp toe te ry vir die fabriek. Toe ek die sleutel kry vir die trokkie, sien ek my lêer met dokumente lê en gryp dit so in die verbygaan. Dalk moet ek net daarlangs ry en kyk….

Dit was die begin van ‘n dag wat uit my hande gespiraal het. Ek kry parkering vir die trokkie amper voor die gebou. Stap in en seker 20 minute later stap ek uit met die papier. Al klaar verwonder ek my. Na ek my besigheid afgehandel het ry ek terug werk toe. Ek blaai gou deur alles, sit dit netjies bymekaar en gaan aan met my werk.

Kort daarna maak ‘n klient ‘n fout en ek word geforseer on dorp toe te ry daarvoor. Weer gryp ek terloops my leêr en ry sommer ook in die rigting van die landros kantoor. Miskien moet ek net gaan kyk hoe laat ens ens ens….

Ek sien parkering – vir die trok!!!!- reg voor die hek. Ek stap in tot reg voor die deur, daar is niemand in. Ek gaan sit, wag paar minute en stap seker ‘n half uur later uit met alles ingedien. Sy beduie waar en hoe ek moet ry om sekere goed by die balju te gaan aflewer. Ek ry, kry dit maklik en stap nog 15 minute verder daaruit, alles alles afgehandel….

Nou gaan hulle dit op hom beteken en ek wag vir die hofdatum. Alles alles afgehandel en buite my hande verder. Al die rye en tou stanery waarteen ek so opgesien het………nie gebeur nie…

Ek stap terug trok toe en klim in soos dit ‘n goeie cowboy betaam. Ek sit net eers en wonder, did that just happened? Dit voel of ‘n berg van my skouers afrol terwyl ek in verwondering soos ‘n vis op droë grond oop bek gaap. Toe onthou ek die oop deur en besef ek het dit in aksie gesien gebeur vandag. En toe bestorm verskillende emosies my soos ‘n sneeustorting. Ontsaglike verligting en dankbaarheid. En intense seer en teleurstelling. Nie oor wat was nie, maar oor wat moes wees…

Advertisements