Saterdag was vir my ‘n ongelooflike oggend. Ek het twee baie spesiale mense by my gehad en het heerlik gekuier tot watter tyd toe. Daarna kry ek onbeplande kuiergaste wat bly tot en tot.

Doodmoeg wees, was nie genoeg vir ‘n goeie nagrus nie en ek staan effe teensinnig op. Sondag oggend en vandag moet ek die kinders gaan help met die hele trek affere. Ek maak eers ‘n lekker beker koffie en wou net terug settle in die saligheid van net wees voor ek moet klaar maak toe my foon lui. Net daar verander my dag…

Tussen trek, sjofar aflewer, siek baba help oppas kom ek laat tuis en slaan moeg op die bed neer. Weer slaap ek nie.Toe die nag uiteindelik om is, het ek en die laken ‘n vastrap sitees. Jammer vir die spelling. Ek besef my keuses is, dikbek en op of vrolik en op. Maar op moet ek op en werk moet ek werk.

Toe ek in die koue oggend uitstap fabriek toe maak my asem wolkies. Ek is bly dis vrolik in my hart al sleep my lyf paar tree agterna. Die son span ‘n rosige kleur en gryp my inkleur hart vas. En al die voëls beaam die mooiheid van die dag.

Voor my lê die droeë mielieland. Dit lyk grou en dood. Stowwerig. Lyk bietjie soos wat my lyf voel. Ek begin my werk in die koue kantoor maar hoor verras ‘n trekker brul. Die mielieland word omgeploeg!! Ek storm buite toe en ruik diep aan die geur van vars omgeploegde grond. Voëls tjirp opgewonde en gaan soek goggas in die grond.

Ek voel die styf van koud en moeg aan my lyf en draai my rug na die son. Toe maak ek my oë toe en luister net terwyl ek diep in asem. Elke geluid vertel sy eie storie, elke reuk het sy belofte. Die son belowe die koue gaan pad gee. Die ploeg sny op en keer om maar dra belofte van nuwe oes.

Toe ek die koue kantoor weer binne stap gaan sit ek op die stoel by die verwarmer. Dis so weird, buite is dit warm en hier kry ek so koud. Ek dink baie mense voel so. Buite wys hulle een ding, binne is dit koud…

My moeë lyf is maar te bly ek gaan sit. Dankie tog vir stoele en dankie tog na die dag is daar weer ‘n ruskans. Ek besef, elke dag is ‘n land vol moontlikhede. Droog, leweloos, geploeg en seer, maar ja, ook vol belofte van nuwe oes….

Advertisements