woman wearing blue dress
Photo by Matthew T Rader on Pexels.com

Daar is nie pille vir stoepitgeit nie, lees ek hier en daar en oral. Hoor dit ook as mense so sê. Het dit ook al self gesê. Ja ek weet, dis nie hoe mens dit spel nie. Hou dop, hier kom nog ‘n paar woorde wat moerswillig verkeerd gespel is.

Vroegoggend, terwyl die son nog sukkel om sy oge oop te kry en die maan se boude sleep- sleep om weg te kom, maak ek die skuifdeur oop vir Magriet om in te kom. Die vars lug wat my neus kielie, dra die belofte van iets wat ek nie presies kan verwoord nie. Dit wink-wink, nee, vrywillig verplig my om ondersoek in te stel. Daarom maak ek my groot beker oggend koffie, neem my “bersie”en gaan sit op die stoep. In die donker, sodat ek die lug kan ruik terwyl ek woorde wissel. Alles saggies saggies, sodat die honde nie my hoor en aangestorm kom en hierdie wonder tyd kan kom omvêr gooi nie. Eers loer ek na die stêrre wat ook al knipoog knipoog en gaap gaap getuie lewer van tyd wat aanhou loop.

Die varsheid van buite wees en die geur in die lug wat ek nie kan vaspen nie, wil wil my gemoed lig. Ek het wakker geword na ‘n droom wat verseker ‘n boodskap dra en dit lê soos ‘n aambeeld in my skoot. Gees stoei met gees in onuitspreeklike versugtinge. Dit help maar tog lig die gewig nie heeltemal nie. Ek staan op en stap saggies na die punt van my stoep terwyl die dag se ligte kleed die donker van die nag lig. verbaas sien ek ‘n enorme trok het sy staan kom maak hier op die plaas. Net nog een van die onbedagsame optredes van twee jong manne, vol arrogansie en eiewaan. Lang storie wat ek nie regtig nou oor wil praat nie maar my bring by die naam van die skrywe.

Daar is n paar goed wat my mercy geaardheid se ongeduld en gramskap na vore bring, soos ‘n befoeterde bul wat uit ‘n kamp losgelaat word. Onregverdigheid, oneerlikheid, arrogansie, moedswilligheid, skynheiligheid, selfsugtigheid en doelbewuste stoepitgeit. Dit weet ek is omdat ekself daaraan skuldig was en soms nog self is. Dit is soos ‘n jikplek waarvan jy vergeet het en per ongeluk krap en dit weer begin jik. Dan krap jy dat die velle spat! ‘n Swak plek in my is mos soos ‘n magneet wat alles nader pluk in iemand anders. Maw, iets in iemand anders wat jou irreteer, is gewoonlik swakplek in jouself wat bietjie skaaf werk nodig het….

Later vanoggend stap ek kantoor toe, verby die grote trok. My irritasie vat flam soos ‘n sinus hoesie, en wen op soos Jack-in-the-box. Ek dink aan die twee jong manne en die hele geskiedenis wat hierdie irritasie vooruit loop. Die ou Joey klim uit die kas en sy wil hulle net regsien. My kop loop sommer klaar die grondpad af en jy sien net stofwolke soos wat ek nou al die gesprek kafgedraf het. Ek skuif die kantoor deur oop, sit alles aan en reg soos altyd en begin kyk na boodskappe van kliente wat dink dit is reg om tot middernag toe boodskappe te stuur. En nog antwoorde te verwag, asof mens nie ‘n privaat lewe het wat saak maak nie. Een los nogal ‘n stem boodskap op whatsapp, maar so sag dat ek omtrent die foon in my oordrom druk voor ek hoor. Ag jinne mens, daar gaan die laaste bietjie van my ordentlikheid. Ek stop die boodskap en stuur vir haar een waarin ek vra sy moet maar weer een stuur aangesien ek niks kan hoor nie.

Genadiglik luister sy nie daarna nie, want toe ek ‘n rukkie daarna weer luister kan ek feitlik hoor wat sy sê. Ek luister toe weer na my boodskap- en kry toe liederlik skaam. Mens hoor die irritasie en moedswilligheid in my stem. Niks van al die oulike lofgesange wat almal altyd vir my sing as ek tog so mooi help….

Natuurlik het ek die boodskap gedelete. Met skaamte. En soos die lewe maar werk, kry ek daardie tap op die skouer. Sit bietjie terug en kom geniet hierdie fliek saam met my, sê die boodskapper. Hoe langer ek hierdie toneel beskou, hoe laer sak ek af in my stoel. Van skaamte. Geen popcorn of afgewaterde coke hier nie. Ek sien ‘n Joey, skuldig aan elkeen van daardie goed wat ek genoem het wat my trigger so laat afgaan soos ‘n kurk prop van gegisde gemmerbier. Ja, welliswaar is daar groei en verandering maar niks wat my kwalifiseer om enigsins slae uit te deel of iemand te probeer leer nie. Ek sien my lewe en hoe verwaand en arrogant ek was, hoe moedswillig ek steeds kan wees. Ek sien ‘n verhaal van val en opstaan, weer probeer. Ek sien genade op genade op genade in mates vir my afgemeet. Dat daar soveel geduld so sorgvuldig, aanhoudend vir my was is totaal onverstaanbaar. Dat ‘n groot hand my nie al vroeg met een veeg van die aardbol afgevee het nie is ongelooflik. En steeds…, is daar dae soos vandag wat ek wragtag weer in daardie rigting voeter.

My kniee buig grond toe. Af in die stof, ek staan hande viervoet. Meester! Genadigste!? Hoe kan dit? Terug na “Gees stoei met gees in onuitspreeklike versugtinge”. Laat ek maar eers met self begin voor ek weer in die grondpad afstorm om iemand anders te leer…..

~Sela ~

Advertisements