My Tallie prinses. My dapper soldaat. Ek sien die vrees en pyn maar ek het geen woorde. Niks kan dit beter maak. Ek sien jou veg, na woorde soek. Ek sien jou smeek. Pleit selfs. Ek sien jou soek, belei, vergifnis vra, onderhandel enige iets wat dalk kan help.

Ek sluk sluk om die trane te keer. En vou jou met my arms toe. Ek kon nie keer, nie hierdie keer. My hart wil breek terwyl jy deur die storm beur. Elke keer as jou oë myne soek en jy “mamma?” Sê. Ek kon nie ‘n antwoord gee, net vashou sag en teer.

Toe jy klein was het ek jou op my skoot getel. Jou vasgehou tot die trane op was. Dan die seer kry weg soen en reg maak. Of die gevaar weg keer. Maar nie hierdie keer.

Jy lyk steeds so klein en broos. En tog is jy ‘n yster. Wenner, oorwinnaar. En jy sal hierdeur ook kom. Want jy weet waar jou Hulp vandaan kom. Dis daar waar jy weer eendag vir baba sal sien en vashou, vir nou, veilig op Sy skoot…

Advertisements