Na die rowwe tyd van die laaste paar weke, sê my mens wees dis tyd om te herlaai. Alhoewel my huisie ook altyd vrede bring, is dit tyd vir meer. Ek moet weg kom, dink ek, en skielik weet ek waarheen, Rebusfontein!!!

Ek pak gou ‘n paar nodige goedjies, stap vinnig na die optelpunt. Binne ‘n ommesientjie land ek, die keer op die sagte groen gras tapyt in my agter plasie. Ek raak sag aan die pienk en wit rose terwyl ek die trap op loop, en asem die soet geur diep in. Ek trek my skoene uit en gaan sit net eers in my hout stoephuisie terwyl ek die rustigheid indrink. Voël geluide vorm ‘n welkom melodie en net agter my huisie iewers hoor ek die water kabbel na ons fontein. Ek los alles net so en stap kaalvoet soontoe. Dis wat ek nodig het, om kaalvoete binne die koel, deurskynende, kabbelende water te sit, heerlik verfrissend…

Om van die vars fontein water te drink is natuurlik net so helend en ek voel sommer hoe die las wegval. Dan stap ek rustig terug tussen die huisies deur na my eie plekkie. Die vars lug vul my longe en van oral groet die diere van Rebusfontein.

Nadat ek my paksel gaan haal het in die hout huisie, bêre ek alles en sit die ketel aan. Met my spesiale Rebusfontein koffie en jam tertjies, stap ek eers na een van my gunsteling plekkies in my huisie…

Hier sit ek behaaglik agteroor en sit my voete op die ronde tafel voor my. My voete, nou koud van die fontein water, maak ek toe met die dik brei kombers. Dan vat ek om die beurt klein proetjies van die koffie en jam tertjie. Heeeeeerlik dink ek terwyl ek elke slukkie en happie se smaak ten volle proe. Ek voel hoe die lomerigheid my soos die skemer aan die einde van ‘n dag, omvou. Ek sit die koppie neer en skuif laer af op die gemaklike bank. Ek klap my hande twee keer, die ligte verdof en ek gee my oor aan die saligheid van my eie droom wêreld …

Advertisements