Ek word wakker met die geluide van uitbundige voëls. Dit klink soos ‘n simfonie. Ek knip knip my oë en rek myself uit terwyl ek gaap. O ja, ek is op Rebusfontein, onthou ek. Ek voel heerlik uitgerus en voel fantasties, sommer lus vir die lewe. ‘n Bietjie geselskap is ook welkom, selfs ‘n avontuur, dink ek terwyl ek aanstap ketel toe. Ek wonder of van die ander inwoners hier is, ek het gister niemand gewaar…

Beker in die hand stap ek na die vertrek toe waar ek altyd skilder. Ek het ‘n prent om klaar te maak. Versigtig sit ek die grondseil uit, ek kan tog so mors! Daarna sit ek die esel reg en begin alles uitpak. Dan sit ek musiek aan en begin my oorgee aan die saligheid van hier wees en om besig te wees met een van my gunsteling dinge.

Ek raak weg in my eie wêreld terwyl ek skilder, en raak eers heelwat later bewus van die wêreld om my. Ek staan ‘n tree terug en kyk na my skildery. Mmm, ek hou van my prent, dink ek. En van die reuk van die verf.

Dit is toe wat ek bewus raak van ander geluide. Die diere in Rebusfontein gaan tekere. Daar is ‘n opgewondenheid in die atmosfeer wat nie net nou teenwoordig was nie. Dit kan net een ding beteken, nog iemand het aangekom. Of dalk meer as een. Dit sal nou wonderlik wees, dink ek en sit my kwas neer. Ek wonder wie dit is, en besluit om bietjie te gaan ondersoek instel.

Eers sit ek my kwaste in skoonmaak gel, maak alles netjies en toe en stap kamer toe om stap skoene te gaan aantrek. Die volgende oomblik wip ek soos ek skrik!! Daar was ‘n geweldige slag en toe raak Rebusfontein se diere mal! Vervaard vlieg ek op en begin voordeur toe draf. Wat op aarde, dink ek.

Nog voor ek die voordeur bereik, skrik ek ‘n tweede keer toe daar ewe onverwags, ‘n gehamer aan my voordeur is. Ek snak na my asem en skreeu; “ek kommmm”, terwyl ek nog vinniger aandraf deur toe. Dan pluk ek die deur oop en daar staan Una!! Dit lyk of sy deur ‘n klein oorloggie is. Haar hare deurmekaar, stof oor haar hele gesig en lyf en haar oë so groot soos pierings.

“Bondels!” Sê sy en dan “Dankie tog jys hier, help my….”

Advertisements