Tannie Makkie was die eerste van my oorlede pa se susters wat my gekontak het toe ek die Saamtrek begin reel het. Sy was super opgewonde. Soveel so dat ek en sy in gereelde gesprek verkeer het tot kort voor die saamtrek.

Sy het my oor en oor bedank dat ek dit begin reel het. Ek het skoon knop in die keel gehad daaroor. Sy het my hart sag sag sag gemaak vir haar. Ek het dadelik by haar bedsokkies vir die winter bestel, wat sy spesiaal hekel. Sy het dit met soveel liefde gedoen en vir my gepos. Ek het haar betaal daarvoor en toe sonder skroom ‘n kant tafelnet wat sy met pienk blomme sou borduur ook bestel. Ek sou dit by die saamtrek by haar kry en betaal.

Sy het my uitgenooi om na die saamtrek vir haar te kom kuier. Ek het gretig ingestem. Soos die dae aangestap het, het ek regtig begin uitsien daarna om my tannies en ooms, niggies en neefs, wat ek jare der jare laas gesien het, weer te sien.

Ek onthou tannie Makkie het altyd vir my vars brood met ‘n laag uitgebraaide vet met sout en peper op gegee. En vars plaas melk. Sy het daardie tyd nie baie gepraat nie maar haar optrede het gesag gedra. Ek onthou oom George haar man as baie kwaai en was versigtig vir hom. Maar tannie Makkie het altyd respekvol submit en altyd die beste van alles gemaak. Ek onthou haar oë het altyd gevonkel en daar was selfs ondeundheid te bespeur al kan ek nie onthou dat sy ooit ondeund was nie. Haar glimlag was sag en het haar oë op skrefies getrek, nes myne.

‘n Paar weke voor die saamtrek het sy ‘n beroerte gehad. Ek het gebid en gehoop sy sal gou genoeg herstel om steeds te kon kom. Selfs vir haar ‘n voicenote gestuur om te sê ek hou haar plek. Ag deksels, my keel trek sommer toe.

Nodeloos om te sê sy kon nie kom nie. En ‘n dag na die saamtrek is sy na haar ewige woning. ‘n Paar dae later het een van haar kinders haar selfoon geneem en die saamtrek groep “geleft” namens haar. Dit het my geruk ek was so hartseer. Saterdag is haar begrafnis. Ek kon haar nooit die druk gee wat ek so graag wou. Maar hopelik kan ek dit gee vir een van haar geliefdes wat ek ook jare laas gesien het.

Tot ons mekaar weer sien liewe liewe tannie Makkie, I salute you!!!

Advertisements