Toe ek die yskas oop maak kan ek sien hoeveel moeite sy gedoen het. Vrugtesap, volroom jogurt, slaaigoed, melk, vrugte, groente- noem dit, dis daar. Ek gaan nie ‘n duik in die kos kan eet nie en ek weet sy gaan raas na die naweek. Sy gaan wil weet wat ek geëet het. Voor die tyd het die boodskappe bly in kom.

Die boks wyn op die rak is joune…

Eet die vrugte dit gaan sleg word…

Vleis in die vrieskas..

Enige iets in die koskas..

Die diere het hulle kos, en ek maak vir my ‘n reuse bak vrugte slaai met ‘n rojaale porsie jogurt. Ek skink ‘n groot glas sap en stap na die tafel voor die enorme venster. Ek gaan sit so dat ek die water kan sien. Dan staan ek weer op en maak die skuif venster wyd oop. Die vars oggend lug stroom binne en ‘n kakefonie van geluide bestorm my.

Ek wens ek kan alles wat ek sien en hoor weergee soos wat ek dit ervaar. Dit klink en lyk nou heeltemal anders as toe ek vroeg oggend met my koffie op die stoep onder ‘n kombers gesit en kyk het hoe die dag wakker word. Ek suig aan die peperagtige papaja pitte terwyl en na die Janfrederik en Suikerbekkies luister. ‘n Magdom voëls gesels saam. Die vars, koel, oggend luggie kleur ‘n prentjie van onontdekte skatte buite en ek besluit ek moet gaan kyk!Die woef is baie opgewonde en hardloop voor my uit. Ek gaan tot heel onder en asem diep in. Ek verluister my aan al die geluide en verlustig my aan die mooi wees van alles om my. Die oggend lug is koud en sny deur my. Teen die tyd wat ek terug is in die huis is my neus yskoud en my asem op. Beslis nie trappe fiks nie!!!

Ek gaan maak weer vir my koffie en stap dan op na die boonste verdieping. Kat lê in ‘n sonkolletjie en ek lag oor sy lekker kry. Slim kat. Buite op die boonste stoep is daar vir my ook ‘n sonkol. Ek skuif die stoel soontoe en nog een om my voete op te sit. Dan maak ek my oë toe en gee myself oor aan die saligheid van hoor, voel, ruik en leef!! ‘n Loerie maak my dag, dis een van my gunsteling geluide en die lekker kry versprei deur my hele mens wees. Daar is soveel geluide dat my oë net nie wil toe bly nie, ek wil alles sien. Die lag bly naby en glip kort kort uit as ek die voëls se manewales so dophou.

Ek wip toe die pomp neffens my aan gaan en die water poele in watervalle verander. Ek het dit nie verwag nie. Maar dit is so ‘n gerusstellende geluid en skakel perfek in by die res van al die klanke. Die windjie roer die bamboes chimes terwyl twee houtvoëls goedkeurend kopknik en saam wieg. Dis sulke tye wat ek weet hoekom ek nie kan laat slaap nie, mens mis teveel! Party voëls kan ek identifiseer maar ander is totaal onbekend. Baie sien ek maar meer nog kan ek net hoor. Dan draai ek die stoele om en skuif dit bietjie op. Nou gaan ek vir die berg kyk. Dit troon sterk, majestieus en wonderskoon na bo. Asof om te sê: “I got your back “. Dit laat my sommer veilig voel. Ook hierdie uitsig sluit in voëls in vlug. Asof hierdie plek ‘n voël hoofpad, (of is dit hoof lug) is.

‘n Klomp Kakelaars kom hou vergadering in die Palm hier langs my en skater van die lag vir hulle eie grappie. Orals dans sonstrale op immergroen blare wat wieg in die wind. Dis ‘n heerlike vrolike dag.

Toe die eiendoms agent bietjie later opdaag, skuif ek na die middel vlak. Hulle skou vriendin se huis. Ek maak gou middag ete en gaan sit buite en eet onder die afdakkie wat pragtige weggebindte gordyne om het. Dit laat my dink aan ‘n luukse Sukkah in Israel of ‘n ryk Arabiese prins uit die Ooste.

Wat is rykdom? Wonder ek terwyl ek ‘n slukkie wyn vat, in my geleende sukkah, terwyl ek kyk na die twee Arende wat hoog bo die dam sweef. Dit is nie al die luuksheid om my, of ‘n vet bank balans nie. Dit is oomblikke soos hierdie, waarin jy kan proe, hoor, voel en lééf. Al het jyself min (uit ‘n wêreld se perspektief). Hierdie oomblik, so vol vrede en mooi wees en belofte. Oomblikke van genade. En ek weet; ek is ryk, skat ryk!!

Advertisements