Bykans ‘n maand gelede droom ek een aand my selfoon val en breek in stukke. Vader praat gereeld met my in drome. Want as ek wakker is, is my kop in die pad. As ek slaap is alle weerstand en eie insig en tjolle uit die pad.  Hierdie een moet ek dus ook maar mooi ontleed en ek erken dat ek selfs hiermee kan aanjaag en foute maak. Omdat ek oor ‘n lang tydperk redelike verliese gelei het, sien ek dit as waarskuwing. Dus weerstaan ek die moontlike “aanval” wat die vyand nou weer teen my wil loods, bestraf en bebid en raak ekstra versigtig met die foon en gebruik dit ook sommer al hoe minder, net vir ingeval.

Ten spyte van al die voorafgenoemde, val my werksfoon laas week uit my broeksak. Val homself te pletter, gesiggie in sy kanon in en land boonop in water. My moed sak in my skoene, ek is mos gewaarsku!!!! Duidelik het ek iets gemis, foon is flenters en wil nie eers aan gaan nie. Dit is ‘n splinter nuwe foon en boonop het dit nie versekering nie. Ja toe, trek nou maar jou asem op, dit help gin niks! Ek bestorm Cell C gemaak braaf en steek vas voor drie knorrige anders kleurige jong dames wat besig is om wegneem etes met groot happe te verorber. Die jongste van die drie, grom vir my met kos in haar mond; “Can’t you wait? Come back in 5 minutes!” Ek draai om en stap uit, dit was nie ‘n goeie begin nie. Ek begin uit desperaatheid repent en slaan dan sommer oor in my Heilige Gees taal. Ek bid binne toe, niemand weet eers.

Die drie dames gluur my aan en ek wonder of hulle loodjies getrek het oor wie my gaan help. Die ene wat netnou vir my gegrom het is die gelukkige trekker en beduie ongeskik vir my ek moet kom sit. Sy is nog ‘n trainee en die tweede dame sit naby haar en beduie. Hulle brom en grom kort kort in my rigting terwyl ek saggies in my taal bid. “It will cost almost the same as a new phone, it is not worth it” sê een. Ek vra beleef hulle moet dit nietemin in vat en kwotasie kry. En ek bid nog bietjie harder. Die volgende oomblik begin Heilige Gees vir my Woord gee vir die dametjie wat voor my sit. Dit is ongewoon vir my.

Ek vra haar of ek asseblief vir haar iets mag sê en sy vra wild “What!?” en ek vertel haar wat ek hoor terwyl haar oë al hoe groter en groter rek. “How do you know that”,gil sy. Ek verduidelik haar dat ek niks weet nie maar dat ek glo dit is God wat vir haar ‘n boodskap gee omdat Hy haar so lief het. Sy antwoord sonder huiwering “if that is true, what does He have to say about her?” en wys na die dame langs haar. Die tweede dame kyk my uitdagend aan. En Vader fluister vir my, en ek sê haar. En sy begin huil. Toe storm sy om die toonbank, gryp my en huil snotters en trane terwyl ek vir haar bid. Die derde dametjie skreeu;” what about me, what about me?” en kom ook nader vir gebed. Toe ek daar uitstap is ek in verwondering en vra Vader om asseblief hierdie foon vir my uit te sorteer. Then came Monday….

Soos die meeste van julle weet, my skeisaak het Maandag voorgekom. Toe my voete van daardie platvorm afklim, het die eerste vreugde en verligting soos golwe oor my begin spoel. En ek kon weer ‘n verandering in die atmosfeer waarneem. Die vreugde, vrede en wonderwerke bly groei. Een daarvan is dat ek ‘n geskenk gekry het! ‘n Enorme, enorme wonderlike geskenk. ‘n Kort 9 dae Israel toer, ek moet net sakgeld vat. Net ek en een vriendin gaan Sukkot in Israel vier. Tweedens kry ek uit die bloute die nuus dat my kleine boekie gepubliseer word en boonop wil hulle van my blog stories ook in die boekie bysit. En toe bel Cell C….

Vriendelik sê hulle vir my my foon is terug in die winkel kan ek asseblief inkom. Die drie dames is nie alleen nie en daar is ‘n klein opskudding toe ek instap. Duidelik het hulle die ander vertel wat het gebeur en almal sak my toe. Om ‘n lang storie kort te maak, Vader het van hierdie verleentheid ‘n geleentheid gemaak om genesing te bewerkstellig en ‘n klompie van Sy kinders weer nader te trek. Ek het selfs ‘n uitnodiging om vir hulle te gaan bedien in die toekoms. En my foon? Ek is bly jy vra. Dit is reg gemaak sonder dat dit my ‘n sent kos. Gratis en verniet!

Groot groot is ons God en waardig om geprys te word!!!!

 

 

 

Advertisements