20190918_1130294325595984196504179.jpg

Ek het so lanklaas ‘n nuwe storie geskryf of selfs regtig op die blogs gekuier dat ek skoon ontrekking simptome het. Skielik wonder of ek nog kan spel…

Van julle sal my Meyeijer streke onthou. Seker my straf oor ek so stout was, het ek nog steeds daai kuggie. Ek het mos besluit ek gaan nie siek word nie en manmoedig, of is dit vroumoedig, dit weerstaan, bestraf, bebid, medisyne gedrink, die hele toetie. Tussen deur probeer ek my bearings kry hier tussen plaas en werk en dan nog die behoorlike seen van my boekie wat gepubliseer gaan word. Die ding van my boekie, is die hele ding moes oor getik word, dan my blog stories sif en aftrek in die boekie in. DIt kan ek net na werk doen. Genadiglik het Maureen besluit om Parmantige samaritaan te wees en my boekie oor te tik. Anders het my twee vingers al hoe korter geword van al die tik. En my skouers al hoe krommer, want al die gewerk en getik moet gebeur terwyl ek nogsteeds vir die siekgeit probeer weghol. In die aand as ek nog aan boekie wil werk, slaat ek neer soos ‘n dooie os op my bed en wil niks beweeg nie. MOEG, sê ek jou!! soos in Poegaai. Die medisyne lank reeds op, drink ek die laaste twee disprins gisteraand vir seer lyf.

Hier kom vertel Peter, my shofar maker vir my iemand vertel hom verkoue is nie siekte nie. Dis jou lyf se manier om homself skoon te maak. Laat dink my aan ‘n uitlaatpyp van ‘n kar. My pa het altyd na ‘n kar se uitlaatpyp gekyk en dan sy diagnose gemaak. Is die uitlaatpyp spierwit, is die kar goed ingestel en blakend gesond. Swart, dan makeer daai kar ‘n ding of twee. Hy het dan na die motor se enjin (wat is dit nou weer in afrikaans?), geluister en kon op gehoor vertel wat verkeerd is met daai motor. Ek het ook leer luister na my motor se geluide. Nie dat ek almal ken nie maar ek sal gou ‘n nuwe vreemde geluid optel. Nou ja, ek reken my eie uitlaatpyp brand nou nie wit nie. Nee wag nou, dis nie nou tyd om in prentjies te dink nie. Dalk moet my lyf haarself skoonmaak soos Peter sê, of het my enjin nou ‘n instelling nodig. Hulle sê mos met medisyne vat dit 2 weke en sonder medisyne net een. Iemand lieg soos ‘n tande trekker.

Hoe dit ookal sy, ek halt nou net hier. Klaar met pille en weerstaan en bestraf en die werke. Nou moet die lyf haarself maar uitsorteer, ek gee oor. Loop uit wat wil uit, maar wit brand beter jy gou weer!! Ek onthou skielik vanoggend ‘n televisie program in die jare toet: “Dis My Geheim”. Daar was so stem wat gesê het “Ek is ‘n Tjorlapper” of iets in den voege. Dan moes ‘n paneel raai wat de ongeluk ‘n tjorlapper is. Daar was leidrade gegee. Ek dink my pa was ‘n Tjorlapper, soos wat hy motors reg gemaak het. mag my eie Tjorlapper met respekte gesê, my maar nou regsien. Ek gee boedel oor, nie een meer pilletjie of stropie of niks oor my lippe!

Betjoinkte lyf of de not, is ek vanoggend geditermineerd om ten minste my spreadsheets klaar te maak en die bank te rekonsilideer, voor die kliente kom. Dit vat bietjie konsentreer en ek moet selfs paar keer foute reg maak. Die kantoor gordyntjie is oop geskuif dat ek die mooi boom buite kan sien en die pragtige natuur wat saam met die blouselblou blou my uitdaag om ‘n breuk te vat. Ek druk deur totdat ek ‘n splinternuwe voël geluid hoor, sommer hier naby my. Ek gee in, staan op en sluip suutjies deur toe. Ek loer in die rigting van die vrolike geluid. Wraggies waar pronk hy voorbarig en sonder skugterheid vir my, net hier by my op die nok. Ek leun saggies terug teen die kosyn en kyk tot hy al fluitend buite sig wip.

Dan draai ek my kop terwyl ek diep asem haal en stadig uit blaas. Die geur van die veld kom aan gedans na my en lig my gemoed. Twee voëltjies pik na onsigbare kossies net ‘n paar tree verder. Iemand het gesê dis Mosambiekse duifies maar ek weet nie so mooi nie. Hulle raak al mak en vlieg nie meer op as ek naby is nie. Links van my kom kielie die Spierwit rose se geur my neus terwyl Bye net voor hulle dikbeen dans op geelblommetjies. Regs van my wuif parmantige pers blomme aan ‘n struik vir my. Die saligheid kom vou my toe terwyl ek die goedheid van die natuur indrink. Net dalkies het my Tjorlapper, my klaar kom instel met hierdie bederf. En as dit dalkies tog maar ontrekking simptome was, sal my uitlaatpyp ook na die skrywe weer wit brand!!

Advertisements