Ek wil regtig egtig jou opinie hoor….

Ek wil baie graag vir my kleinkinders ‘n regte egte kinder boek met prentjies de lot skryf. Die wat al lankal my blog volg, sal hopelik my eerste twee storietjies onthou die eerste en toe die tweede. Dit is soort van ‘n fee verhaal, en dit is waar die uitdaging lê.

Die maatskappy wat my Grepies gaan publiseer wil ook my kinderboek publiseer. Maar nadat hulle dit gelees het, het hulle my laat verstaan hulle wil dit ” ontfeetjie”!!! Hulle is mal oor my storietjies maar nie oor die feit dat dit ‘n feetjie is nie. Hulle wil Grietjie verander in iets wat nie ‘n feetjie is nie. Dit sit nie lekker in my lyf nie. ..

Ek weet mense het ‘n lelike / negatiewe konetasie oor die hele feetjie ding. En ek verstaan dit, omdat ou spitefull mos alles wat mooi is sleg en lelik maak. Dit verstaan ek. Maar nou vra ek jou – lees my storietjies en sê my of dit met sleepstert en sy donker trawante gekoppel kan word? My beskeie opinie is dat ou na-aper net ‘n dief is wat niks kan skep nie. Hy steel alles van Skepper en maak dit vieslik. My vraag is, moet ons nou als wat hy steel vermy of moet ons opstaan en terug vat?! Kan ek maar ‘n mooi feetjie skep wat boonop vir klein mensies van Liefdevolste leer?

Ekself was jarelank in die berading en bevryding bediening. Ek weet verseker nie alles nie en wil wraggies niks met die duisternis uit te waai hê nie. Maar om nou wraggies die baba saam met die badwater uit te gooi en ‘n ding agter elke ding te loop soek?

Grietjie is een van my byname. En die storietjies is ook eintlik nes my blog stories, lewenslessies wat ek in elke dag se gebeure geleer het en my toegerus het vir die lewe. Ek skryf dit net in wat ek hoop kindertaal is, sodat my kleingoed daaruit kan leer. Want, nes Grietjie (eerste storie) gesukkel het om maatjies te maak, sukkel my klein dogter om maaitjies te maak. En sover ek weet, word alle kinders een of ander tyd bang vir iets…

Praat met my….

Advertisements