Hier waar ek in die donker op my stoepie sit loer een skitter stêr vir my. Hy vonkel vonkel en as ek waag om weg te kyk, knipoog hy vir my, net sodat ek weer moet kyk. Links van my bly Pasella sê :”Nag, lekker doeks.Leila Tov!” Dit is haar manier om te sê ek moet haar toe maak , sy wil slaap. Omdat die muskiete my ook begin pla, besluit ek om maar in te gaan al wou ek en sterretjie nog kuier. Ek maak Pasella toe terwyl ons soentjies uitruil en lekker slaap herhaal tot ek die deur toe skuif.

My lyf en hart vertel twee verkillende stories. Vir my is dit nodig om aan albei aandag te gee. Lyf is bewe moeg. Hart is gelukkig, tevrede en stil. Ek weet ek was die laaste ruk baie stil in blogland en allerhande ander plekke ook. Dit was omdat ek regtig onbeskryflik besig was. Meestal werks goed  en nie alles so lekker nie. Tog is ek diep onder die besef van hoe bevoorreg en uitermate geseend ek is met die werk wat ek het. So ook die inkomste. Dit kon baie baie anders gewees het. Al het hierdie werk heelwat van sy eie uitdagings, is dit loshande die “maklikste”en rustigste werk wat ek nog ooit gehad het. Die mense wat my lank ken sal kan getuig van riller werke waar ek harde leerskole moes deurgaan. Hier ook, moes ek paar harde lesse leer, maar is nou op ‘n plek waar ek dit regtig kan geniet. Druk en onsekerhede ten spyt. Daarmee saam moes ek my boekie wat in November gepubliseer word inhandig, wat beteken het dat ek  na ure daaraan werk. Sit daarby dat ek eerskomende Saterdag Israel toe vlieg vir ‘n paar dae, en ek  wil seker maak alles is eksie perfeksie voor ek gaan, kan jy raai hoe ek myself in vernellende trap gehou het. Vandaar is my liggaam poegaai verby.

Terwyl my lyf bewe van moeg en ek myself troos hierdie week gaan rustiger wees, ervaar ek ‘n hart wat stil en tevrede glimlag. Wat my dwing om te kyk na hoekom die teenoorgesteldes. Twee dinge kom pluk aan my mou. Eerstens die heerlike kuier  wat ons gister aand gehad het. Jongste het verjaar en oudste het ‘n heerlike speletjies aand gereel met net ‘n paar van hulle twee se gunsteling mense. Natuurlik was daar behoorlik geëet maar die speletjies was die hoogtepunt wat almal laat skater het. Ek is ‘n oggend mens en die oomblik as ek oor my slaaptyd gaan, begin ek sigbaar verlep soos ‘n blommetjie sonder water. Nie gisteraand nie. Gisteraand kuier ek saam tot en tot. Elke persoon wat daar was het ten volle saam gespeel en lag dat hoor en sien vergaan. My wange het naderhand gepyn van al die lag. Nadat al die mense weg is bly ek en jongste en haar man nog ‘n rukkie op en proe proe vir laas aan die genoeglike aand. ‘n Diepe dankbaarheid het my oorspoel vir al die genade in my lewe.

Die tweede ding wat my binneste roer soos ‘n windjie die blare van ‘n boom, was ook seker aandadig aan my moeg wees. Die werk aan my boekie het my terug geneem deur jare heen se onthou. Ek moes kronkelpad loop deur baie gebeure tot ek by die eindstreep kom van die nuutste seisoen. Ek het aan my oorspronklike stories gaan skaaf en party bietjie afgestof en blink gevee. Ek kon sien waar ek twee keer om die baan is, of drie of vier. Ek kon sien waar ek my kniee nerf af geval het en selfs die stof op my wang. Ek het gesien waar ek die aflos stokkie laat val het en omgedraai het en weer opgetel het. Lesse wat ek oor en oor moes leer. Soms terwyl ek so deur alles gelees het, kon ek net sug. Soms het ek gesnuif en soms lekker geskater. Wat telkens by my opgekom het is die genade wat oor en oor aan my gegee is. Genesing, groei en hoop, in oormaat uitgemeet. Weer en weer en weer.

Hier waar ek nou sit en skryf vou nog ‘n wete voor my oop soos ‘n splinter nuwe boek. ‘n Nuwe boek vir ‘n nuwe seisoen! In die Woord staan daar geskryf, vergeet wat agter jou le en strek  jou uit na wat voor is. Saam met die harde werk die laaste ruk, het ek ook  hieraan gewerk en hierdie boek toe gemaak. So goed ek kon. Dalk eendag vorentoe sal ek weer iets kan raak sien maar vir nou – strek ek my uit na wat voor is. En my hart vul met dankbaarheid en ook opgewondenheid oor ‘n nuwe more wat wag…..

 

Advertisements