silhouette photography of rocky mountains under starry sky
Photo by Fabio Marciano on Pexels.com

Gisteraand terg dieselfde stêrretjie my weer. Dit is so groot en blink dat dit aandag op eis. Ek staan op en stap na die punt van my stoep, asof ek nou beter sou kon sien. Ek bekyk dit aandagtig, verbeel ek my of glimlag dit? Ek kyk verder, op, oor my kop- ander kant toe. Daar is sowaar nog een wat net so groot is, maar ‘n hele ent weg. Dit is nog nie heeltemal donker nie en dis net die heel dapperste, grootste stêrre wat al kom hallo sê. Vêr en wyd versprei lê enkele kleiner dowwer stêrre. Van stêrre en planete weet ek niks, net dat dit asembenewelend mooi is.

Eendag se eendag, gaan ek ‘n teleskoop hê om behoorlik na die sterre te kyk. En nog ‘n eendag gaan ek daar by Sutherland (?) na die sterre kyk deur daardie teleskoop. Wow, dit sal amasing wees! Ek onthou toe ek in Sekhukuneland was, was ek elke aand oorweldig deur die melkweg. Dit het in sy volheid silwer geskyn. Nerens anders het ek dit al ooit so gesien nie. Die hele melkweg. Wel, seker nie die hele-hele een nie. Ek weet net dat dit wat soos vonkel diamante in ‘n wye net versprei was, was asem wegslaan mooi. Dit is daar waar ek leer kyk het vir die stêrre. Gereeld. Maar daar was dit regtig net met bewolkte aande nie sigbaar nie. Seker meer so omdat daar weinig kunsmatige lig was soos hier in die stede. Daar is dit berg en vlakte en uitspansel wat in mekaar se arms in hardloop en mekaar met ‘n liefdeslied omhels. Meng dit met ‘n vars aand briesie en jy raak meegevoer na ‘n plek wie weet waar.

Ek staan en kyk hoe die sterre een een helderder word. Uit hulle dop kruip en kom saam speel. Die skemer begin traag opskuif tot die laaste lig verdwyn en vir laas ‘n soentjie gooi. Die sterre begin vonkel, elkeen op sy eie ritme en tyd. Tog, tog is daar eenheid, simfonie. Dit is sulke oomblikke wat ‘n musikant ‘n musiek stuk laat skryf, of ‘n digter sy droom gedig. As ek my oë toe maak kan ek dit amper amper hoor.

Siloeëtte van boom en berg begin hande vat en saam wieg in die aand melodie. Hier en daar begin nag geluide in stem, net soos  strykinstrumente voor ‘n groot konsert. ‘n Kriek, ‘n uil, selfs die vrugte vlermuis gee sy piep! Maar wag, daar hoor ek die jakkalsies roep! Ander geluide herken ek nie. Hoe laf dit ookal klink, is daar ‘n stilte wat soos ‘n sluier al om die geluide vou. So asof om te sê :”kom, hier bring ons dit bymekaar”. Soos die sluier van ‘n bruid maak dit amper ‘n verklaring van reinheid, Heiligheid!

Die skouspel strek ‘n vinger tot binne my hart. Dit vat diep en teer. Dit laat liefde en vrede en vreugde vibreer. Dit is ‘n gevoel wat ek net nie kan keer, nie wil keer. Om te dink, terwyl ek na bo kyk en my hart in Syne versmelt, kyk my Skepper Heer ook af na my en gooi Sy vonkel liefde uit……

 

Advertisements