Ons vlug na Israel was in 2 verdeel. Die eerste vyf ure van Oliver Thumbo tot in Addis Ababa, twee ure se oorstaan en nog vier ure na Ben Gurion in Tel Aviv. Daarna moes ons ‘n Sheroot neem en is seker omtrent half elf die aand in ‘n onbekende stegie afgelaai en vaag beduie “the street is there”! Dit was donker, vreemd en ietwat scary. Nadat ons hulp moes vra om die plekkie te kry, het ons ‘n stewige klomp trappe geklim tot by ons voordeur.

Met die oorklim na ander vliegtuig word ons tasse ook oor gedra, sonder dat ons dit hanteer. Waar en hoe dit gebeur het, weet ek nie maar my tas is beskadig. Lelik beskadig. Vir my was dit baie erg, want hierdie is ‘n besonderse tas en baie na aan my hart. Ek het dit spesiaal vir reis gekry. Op ‘n bagasie band soek jy nie na die tas tussen die miljoene eenderse tasse nie. Dit staan van vêr af uit, maklik om raak te sien. My tas het seer gekry, dit pyn deur my lyf asof ek beseer is. Ek kan nie eers daaraan dink dat die tas moet agter bly nie. Ek wroeg oor my tas. Drie dae lank. En ek het altyd gedink ek is nie vas aan goed nie. Bha!!

‘n Mede Suid Afrikaner wat as vrywilliger werk in Israel en by my kom goedjies haal het, bring vir my ‘n naald en vislyn en ek sit steke in. Tot my ma sou trots gewees het, ek is nie gebou vir naaldwerk nie. Dit het my ‘n hele ruk geneem om dit reg te maak, tot groot vermaak van Maureen en Nelmarie wat hierdie treurmare moes aanskou. Hulle het aangemoedig en fotos geneem van my vordering. Darem het Nelmarie kwyt geraak dat sy kan sien ek het al ‘n proses van sanctification begin omdat ek nie ‘n kras woord kwyt geraak het wanneer ek my vinger raak steek nie. Dit het heel partykeer gebeur. Arme Maureen kon nie verstaan hoekom ek dit self wou doen nie, sy wou met alle krag en mag dit doen. Sy kan dit verseker beter doen as ek. Ek het haar so klein stukkie laat doen. Tas is gered, niks val uit en gaan my nog lank hou. My blydskap het geen perke gehad en ek het sommer die tas ‘n drukkie gegee wat die ander twee weer laat skater het. Nelmarie het glads ‘n foto geneem.

Die terugkoms hierheen het genadiglik geen skade gebring nie. Ons moes Maandag oggend reeds half nege uit ons blyplek wat beteken het dat ons baie lank moes wag. Genadiglik het ‘n vriendin Therese, die vorige aand met ‘n groep vroue in Israel aangekom. Hulle het gereel dat ons in die hotel waar hulle tuis gaan, kon sit met ons bagasie. Ons kon ook tee, koffie en koue water geniet. Dit was genade waaroor ons baie dankbaar was, anders sou ons in die strate moes rond drentel bagasie en al. Omdat Maandag nog ‘n Shabbat was, was niks oop nie en het geen publieke vervoer begin voor half agt die aand nie. Dus het ons half agt die lang reis terug begin. Eers moes ons die “ligt rail” haal, ‘n ruk wag, daarna ‘n bus en weer op die lughawe wag. Ons vlug het eers een uur Dinsdag oggend vertrek. Ons moes in Addis Abbiba drie ure oorstaan en vandaar die volgende vlug neem. Ek dink ek het omtrent half 4 gister middag by my woonstel ingestap. Ek was baie dankbaar vir Maureen en haar seun wat my veilig tuis besorg het. My agterstewe het behoorlik gestamp van moegheid. Ek was sat. Op soos ou kougom.

Nou hoekom skryf ek oor bagasie, wag, oorklim en stukkende tasse terwyl julle van ander goed wil hoor? Ek is so bly julle vra!! Die hele reis was vol seen maar ek wil graag nou van twee vertel. Eerstens is net die voorreg om daar te wees ‘n seen op sy eie. Ek kan nie in verstaanbare woorde verduidelik wat Israel aan mens doen nie. Of aan my. Ek moet eers noem dat hierdie nie ‘n toer is soos wat deur agentskappe gereel word nie. Ons het in ‘n klein, pragtige privaat woonstel gebly en geloop waar ons moes gaan. Die eerste dag alleen het ons 15km geloop. Dit is bult op meestal. Derduisende trappe klim en weer terug loop. Wanneer ons kon of te moeg was, het ons van publieke vervoer gebruik gemaak. Ons het tussen die plaaslike inwoners gebly. Omdat ons reg by die ingang van hulle mark, wat Suk genoem word gebly het, was slaap baie skaars. Israel se inwoners weet van feesvier en het ‘n naglewe wat skrik vir niks. Oor die mark alleen sal ek ‘n hele storie kan vertel. Min slaap, baie loop en die lang vermoeiende terug reis het gemaak dat ek regtig baie moeg was toe ek vanoggend sewe uur weer begin werk het. Toe ‘n Pastoor kom groet, noem hy dat ek ” refreshed” lyk. Ek het gelag omdat ek geensins na liggaam vars gevoel het nie. Hy het dadelik gevra hoekom ek lag en met my verduideliking antwoord hy; “I actually referred to your spirit. You shine”. Dit is menslik gesproke onmoontlik vir my om te shine of vars te lyk. Dit is net genade en wat Israel aan my doen.

Tweedens, en dit is hoekom ek van bagasie en trappe en stukkende tasse vertel – my rug!! Ek is ‘n paar jaar gelede met ‘n rug kondisie gediagnoseer wat ek nie nou eers hardop wil herhaal nie. Dit het my in konstante pyn en spasmas gelaat. Tydens my vorige reis na Israel, was my rug nog onmenslik seer. Dit het my genoodsaak om met daardie besoek in Israel, mediese hulp te kry. Ten spyte van die pyn medikasie wat hulle my gegee het, het ek met tye baie moeilik beweeg en was steeds in onbeskryflike pyn. Maande na my terug keer het ek steeds gesukkel. Ek kon ook die laaste paar jaar nie trappe klim nie. Wanneer ek wel moes, was dit baie stadig, goed bereken, versigtig. Ek moes skuins draai, vashou aan iets en een voet op ‘n slag af trap of op. S.T.A.D.I.G. My rug se pyn en spasmas word vererger deur spanning. Die tyd voor hierdie reis na Israel, het ek bitter hard moes werk en was onder baie druk en spanning. Dus was die vooruitsig een van pyn en het ek voorsorg geterf hiervoor. Salf en pyn medikasie het saam gevlieg.

Ek kan met groot dankbaarheid sê dat ek nie een keer medikasie of salfies vir my rug moes gebruik nie. Tot en met hier waar ek sit en tik, het ek geen rug pyn nie. Geen. Niks. Nada. Ek het boonop derduisende trappe geklim. Sonder vashou en nogal flink as ek mag sê. Dit is genade!! Wat het dit met die tas en lang pad uit te waai? Ai ek is bly julle vra!!

Alhoewel ek weet dit is eerstens Getrouste se genade, weet ek ook dat daar ‘n bydraende faktor was. Die van julle wat al ‘n rukkie ‘n pad met my saam stap, weet dat ek die laaste 19 maande hard werk aan my emosionele en innerlike genesing. My lewenstas was oop geruk en in flarde. Dit het onherstelbaar gelyk vir my. My stukkende menswees het by die oop wonde uit getuimel. Ek het steke nodig gehad. My naald en gare was nie voldoende nie. Ek het gerou! Dit het tyd gevat, baie tyd en is steeds ‘n aanhoudende proses. Ek moes voortydig uit my woning gaan en skuiling gaan soek in Die Hotel se sitkamer, hulpbronne van ander aanvaar. Ek moes plek plek hulp inroep van Iemand wat beter as ek is met naald en gare. Ek moes wag, lank wag. Ek moes my tassie uitpak en van onnodige bagasie ontslae raak. Oor pak, uitpak en weer oorpak. Ek moes my roete heroorweeg en van voor af nuwe rigting inslaan. Ek moes hier en daar van rigting en vervoer middel verander. En tussen deur wag en wag. Ek moes toelaat dat oomblikke vasgelê word sodat ek kan terug kyk en sien waar ek was en hoe ek vorder. Ek moes vertroue sit in ander se vislyn en naald waar ek te swak was. Ek moes aangemoedig word en soms saam lag oor my eie geite.

Miskien is jou lewenstas oop geruk of het net ‘n naat los getrek. Dalk is jou reis stowwerig of vermoeiend, sonder antwoord en vol pyn. Of is die trappe te styl. Vir jou wil ek sê moenie ophou loop nie. Skep moed. Dalk het ook jy nodig om in ‘n ander sitkamer te gaan sit. Of dalk moet jy van bagasie ontslae raak. Of van rigting verander. Of hou vas aan die reling en neem een tree op ‘n slag. Moenie die hele tas wegsmyt nie. Maak hom reg as jy kan. Her – oorweeg, beplan bedink of as jy nie meer krag het nie, gaan sit in die Sitkamer. Aanvaar lafenis van ‘n ander, of rus tot die bus weer loop. Laat Iemand vir jou steke insit, of aanmoedig. Pak uit en pak oor. Kry rede om te lag, kyk terug as dit nodig is en sien jou vordering. Luister as ander jou aanmoedig. Gun jouself tyd, wees genadig met jouself en hou aan reis tot jy veilig by jou Woning is.