Kort voor my vertrek na Israel, het ‘n Rabbi van California by my kom shofare koop. Hy was bykans drie ure by my en het elke liewe Shofar wat hy wou koop getoets deur op dit te blaas. Ek het sy besoek baie geniet al was dit effe raserig. Hy was spesiaal in die land om in ‘n sinagoge in Durban een van die feesdae te bedien. Van daar af is hy Israel toe vir familie besoek en dan ook om Sukkot feesvieringe te geniet. Nadat hy vertrek het, het hy besef hy het twee shofarre te min gekoop. Dus bestel hy twee en ek moet dit saam neem Israel toe. Die derde aand wat ons daar is, ontmoet hy ons naby ons blyplek vir die shofare.

Dit was so lekker om hom daar te ontmoet. Sy pragtige jong vroutjie was by hom. Sy gesig het gestraal van blydskap oor die shofare. Natuurlik het hy dit getoets tot groot frustrasie van sy vrou omdat almal se aandag toe op ons was. Hulle het ons genooi om saam met hulle iets te drink. Ons het saam met hulle onder die sukkah gaan sit en dik stukke gekuier. Mense om ons het ons geamuseerd dop gehou omdat die Rabbi met twee goyíms (gentile) sit en kuier en dit met twee shofarre by ons. Sodra hulle met hom praat het hy gretig vir hulle vertel dat hy die shofarre by my kry en dat ek hulle maak. Dit was nie tegnies korrek nie, dis eintlik die personeel wat dit maak. Ek swaai net die dirigeer stokkie. Maar sy woorde het nogal reaksie uitgelok. Mense was redelik verbaas dat eerstens ‘n vrou dit doen en tweedens ‘n goyim. Ons het tot watter tyd gekuier en nogal heelwat oor ons verhouding met God. Hulle glo in dieselfde God as ons maar nie dat Jesus die Messias was nie. Dus was hulle nuuskierig oor presies wat ons glo en hoe ons ons geloof uitleef ten opsigte van wat hulle glo. Hy het ons toe vertel van ‘n baie spesiale byeenkoms en dit is waarvan ek julle vandag wil vertel. Dit was beslis vir my ‘n hoogtepunt.

20191016_0959566993557083941446687.jpg

Op die spesifieke dag, was daar ‘n massa byeenkoms by die Western Wall, ook bekend as die Klaagmuur. Mense het ingestroom en vinnig was die Kotel stampvol. Ons het net net ‘n plekkie teen ‘n versperring gekry waar ons sommer plat op die enorme klip vloer gaan sit het en probeer skuil teen die genadelose son. Mense het gekom en gaan, die plek het gegons. Orals was groot luidsprekers opgesit en hebreeuse stemme van gesiglose rabbis het onophoudelik seeninge oor die mense uitgeroep. Ek was nogal verwonderd omdat almal net aan gaan met raas en rond beweeg. Ons twee het stil gesit en wanneer ons ons nie aan mense vergaap het nie, het ons met geslote oë gesit, eerbiedig, afwagtend op wat kom.

Na wat soos ure se gesit gevoel het, was daar eers ‘n roering agter ons. IDF soldate het met ernstige gesigte die versperring verskuif om ‘n gang te vorm. In die gang het ‘n man en verskeie lyfwagte teen ‘n vinnige pas aangestorm gekom. Ander soldate het met wapens gereed gestaan, reg vir enige gebeurtenis. Lyfwagte se oë het wakker rond geflits, beskermend, wapens in die hand. Slag gereed. Hy was duidelik ‘n hoog geplaasde en ook Rabbi of Hoër priester. Sy talliet was styf onder sy arm vas geknyp. Hulle het vinnig in die gebou verdwyn en die soldate het die versperring weer reg geskuif . Mense om ons het steeds ingestroom tot mens naderhand gedink het ‘n muis sal nerens inkom. Die skares mense was weereens lawaaierig en steeds het Rabbis onophoudelik mekaar afgewissel met seen bede oor die luidspreker. Ek het gewens hulle wou net bietjie stil raak.

Die volgende oomblik, sonder enige vooraf waarskuwing het almal opgestaan en in die rigting van die muur gedraai. Ons het natuurlik ook op ons voete gespring en verwonderd rond gekyk om te sien wat aangaan. Net so skielik en onverwags het elkeen van daardie derduisende lawaaierige mense doodstil geraak. Ek het nie gedink so iets was moontlik nie. Jy kon ‘n speld hoor val en die hare op my arms het regop gespring. Die atmosfeer was gelaai en elke mens daar was ingestel en afwagtend vir die volgende oomblik. Selfs die luidspreker was doodstil. ‘n Reuse knop het in my keel gevorm en hoendervleis het teen my ruggraat afgehardloop.

Asof ‘n onsigbare hand die teken gegee het, het ‘n nuwe mans stem die Aronic blessing in hebreeus begin sing. Een reel op ‘n slag. Sy stem was pragtig, suiwer en vol outoriteid. Sodra hy sy reel voltooi het, het die honderde manne wat voor, teen die muur, onder hulle talliete aan die manne kant staan, dieselfde reel herhaal, ook in Hebreeus. Waarop elke liewe persoon in die skares mense “amein!!” roep. Ek wou ook maar moes eers die snik in my keel weg kry terwyl trane oor my wange stroom. Hierdie oomblikke was Heilig. Elke persoon was gefokus om te luister, te hoor, te bevestig en te ontvang wat hulle glo die God van Abraham, Isak en Jakob vir hulle wil gee. Toe volg reel twee en dieselfde gebeur, weer en weer met elke reel. Ek het my oë vir ‘n oomblik gesluit en myself probeer bymekaar maak. In my geestesoog kon ek sien hoe Jesus van Nasaret met sandale aan sy voete tussen Sy mense deur loop, hier en daar oor ‘n kind se hare vryf en vir iemand knipoog. Alle weerstand het verkrummel en ek het ongehinderd die sluise oop gedraai. Duidelik was dit ‘n oomblik waarin Almagtigste my wou raakvat en ek het net oorgegee. Trane van genesing en suiwering het gevloei. My lyf het saggies gebewe. Maureen het sag na my hand gevat en ons het so bly staan vir ‘n paar tellings nadat almal weer begin lewe kry het. Ons het ‘n ruk gewag sodat die malende skare kan beweeg voor ons aanstaltes gemaak het. Heelwat later het ons moeg op ons beddens gaan lê. Ek het nie dadelik geslaap nie, eers terug gedink aan wat met my gebeur het. Trane het weer spontaan begin vloei terwyl ek wonder of dit die windjie was wat nou so saggies oor my arm streel of was dit die Man met die sandale aan Sy voete en die lag in Sy oë…..