Het jy al ooit ‘n koei sien gallop? Nee, nie ‘n kalfie nie, ‘n vet uitgegroeide koei…

Wel ek het al paar keer geskryf oor hierdie mal koei op die plaas. Ek gaan nou ophou om te sê sy is mal. Want vandag was iets anders.

Sedert daardie dag wat ek vir haar my lemoene gegee het en met haar gepraat het, gaan gee ek gereeld vir haar iets sappigs om te eet. Ek het nooit geweet koeie eet vrugte – skil en al. Eers was dit my twee lemoene. Sy tel dit met haar bek op, lig haar kop dat dit dieper in haar mond inrol en kou dan dat die sop so spat. Letterlik. Die sap loop so by haar bek uit. Dit lyk so lekker dat ek sommer ook een wil gaan eet. Daarna het ek elke keer as ek vrugte wat bietjie af is vir haar gevat. Ek neem die honde saam. Ek is nog nie dapper genoeg dat sy uit my hand eet nie. Dus hou ek dit uit, sy ruik daaraan en dan gooi ek dit by haar voete. Sy is absoluut gek daaroor. Elke keer byt sy dat die sap so spat.

Terwyl sy eet, praat ek met haar en het al paar keer probeer om haar kop te vryf. Sy is baie alleen. Sy staan altyd en luister en as ek my hand uitsteek ruik ruik sy of daar nog vrugte is. Soms laat sy toe dat ek aan haar voorkop vryf maar meestal ruk sy weg dat jy net vlieë sien trek. Ek dink sy weet al as ek en die honde aangeloop kom en ek roep, is daar ‘n iets lekker om aan te smul.

Vandag roep ek van vêr “kom Moo Moo”. En sowaar as wat ek hier tik, sy gee ‘n bulk en begin bokspring tot by my. Op volspoed. Dit was komieklik!! Vandag kry sy twee nartjies en ‘n appel. Toe sy dit klaar geeët het staan sy nader vir nog. Ek praat en maak haar trog vol heerlike vars boorgat water. Sy kom tot teen die draad en kyk my. Wat is dit Moo Moo? Vra ek en staan nader. Ek steek my hand uit, en sy ruk vinnig weg. Ek praat mooi en hou my hand uit. Sy sak haar kop en ek begin vryf. Oor haar kop, langs haar wange en onder die kennebak. En sy staan. Lyk of haar nek langer rek. Roxy die ouma hond hou niks daarvan nie en grom. Toemaar Roxy sê ek hier’s vir jou ook ‘n hand.

Hier’s ek, en ek, en ek sê een na die ander woef. Skatryk ,dink ek. Ek is skatryk met ander mense se diere wat ek oppas….