“My pa se engel het hom kom haal, laat weet asb die familie”, sê neef Leon toe hy laat bel. Gelukkig is die einde nie uitgerek nie en jubel en juig hy nou saam met pa en die ander in die plek sonder pyn. Ons kan net raai en hoop op hoe dit is waar hulle is. Niemand weet met honderd persent akuraatheid hoe dit is. Selfs al lees ons Slimste se Boek, kan ons net prentjies bou. Niemand weet nie. Sommige mense glo daar is niks verder. Vir die wat agter bly, is dit die begin van ‘n alleen maar nuwe pad.

Ek sit die boodskap op die chat en dan bel ek hulle. Wel wetend niks wat ek sê of doen gaan dit beter maak nie. Die hartseer of gemis weg vat nie. Dit is die begin van ‘n pad van “sonder pa”. Van gewoond raak, van mis. Van elke dag die pyn in die o”e kyk en bietjies bietjies die seer op eet. Soos ‘n groot bordvol bitter kruie wat net nie wil klaar raak nie. ‘n Pad van een tree op ‘n slag die hartseer vat, jou huil leeg huil en dan opstaan en aangaan. ‘n Pad van eerstes. Eerste kersfees sonder…..eerste nuwe jaar…. eerste verjaarsdag….’n Pad van onthou jy hier…. Dis ‘n pad wat niemand vir jou kan loop nie, dis elkeen vir homself. Net soos toe Tannie Makkie weg is en almal voor haar. Ek kon, en het gebel en boodskappies gestuur. Ander seker ook. Maar dis al wat jy kan doen. Dit troos seker, maar vat nie die pyn en hartseer weg nie. Die einde van een bring die begin vir ‘n ander.

Net soos elke seisoen. Herfs bring winter maar daarna is dit lente en dan kom somer. Die einde van die dag bring nag maar dit weer ‘n belofte van ‘n nuwe dag wat wag. Nuwe geleenthede, weer probeers, kans vir lag na die smart. Die einde van ‘n verhouding is die begin van iets nuuts. Eers genesing en dan ‘n nuwe lewe. Vryheid om te stop vir ‘n blom, diep te ruik aan die geur van mooi en ook tyd te maak vir jouself. Ja, ook vir ander.

Dit reen saggies hier by my vandag. Einde van die hitte. Die begin van koel weer en dit bring ‘n lieflike geur. Dit gee ook ‘n belofte van nuwe groei. Meer groen. November het plek gemaak vir Desember, vir my ‘n maand wat ek eerder sou wou ignoreer. Haha, stupid, ek weet. So ek moet besluit. Kom ons maak klaar. Maak ‘n einde aan die “ek haat Desember” gevoel. Ek het tog nie regtig rede dat ek so voel, behalwe vir al die jingel bells en besig wees van almal om mens. Ek staan op en klap die gewiggie af wat wil wil kom sit op my skouer. Nee, voert hiers nie plek nie. Dis tyd vir ‘n nuwe, ligter, “Desember is nie so sleg nie” bloesie. Die kleure daarvan is rooi vir omring deur liefde, geel vir giggel lag, bloue vir vrede. Dus begin ek beplan. Hier en daar kan ek inloer, by liefmense wat ook nie wou Desember. Die einde bring toe vir my ook ‘n begin…