Die veld voor my huisie is gesny. Hier waar die Kwêlas so baljaar het is nou niks. En geen Kwelas. Weg is die swerms wat my soveel plesier gebring het. Ek kon net nie genoeg kry daarvan om na hulle manewales te kyk. My tone het vuisies gemaak van pure lekker kry. Ek mis die Kwelas en al die ander voels wat in die gras en bossies baljaar het, asof hulle niks anders het om te doen nie. My hart is sommer seer.

In Slimste se Boek staan daar daar is ‘n tyd vir alles onder die son. Tyd om te kom en te gaan, te lag, huil, te ploeg, te plant. Nou ja, dan is dit sekerlik tyd vir iets anders as die Kwelas. My oge moet net soek. Ek gaan sit laat middag gister op my stoep en kyk na die veld. Die afgesnyde gras lê droog op die land. Daar gaan binnekort geploeg en geplant word. Dit sal verseker iets nuuts doen. Maar wat van nou? In hierdie oorweldigende tyd wat alles anders is? Wat moet ek leer, wat moet ek sien? Baas se man is dood, ek het in dieselfde tyd meeste van my personeel verloor. En nou ook my veld en voëls. Ons het diefstal, intimidasie, geweld en verlies oorleef, alles net in hierdie laaste 3 weke. Dan is dit tyd vir iets nuuts. Maar wat?

My oë gly oor die veld. Dan weer, stadig, rustig. Ek kyk en soek. My oë deurboor die gras van hoek tot kant en beweeg dan op na bo. Daar waar die son traag sy laaste strale gooi en die skadus lank lank sug terwyl takke wieg op die sagte wind. My ore werk saam, orals klink die groet van ‘n dag wat klaarmaak. Janfrederik, een van my gunstelinge laat hoor van hom en ek glimlag al kan ek hom nie sien nie.

Die lug ruik na veld en grond. Ek hoor ‘n fisant roep en dan nog een wat antwoord. Ander voëls roep ook hulle groet. Ek gryp my verkyker en soek. Ja welliswaar daar kom een aan getrippel oor kluit en sand. Kort kort steek hy vas en kyk terwyl sy skel roep weerklink. Dan trippel hy op sy beentjies verder en verdwyn in die bossies. Binnekant begin dit lewe, die lekker kom sit weer skeef oor my lyf. Dan begin twee kiewiete raas. Die arme fisant het hulle seker laat skrik. My prentjie word voller, soos puzzle stukkies bou dit voort. Maar dan kom die eintlike kwaaddoener te voorskyn. Tjoklit die bruin hond was in die gras en is nou op vlug voor die Kiewiete wat hom uit die hoogte skel. Stukkies gras hang van sy ore en hy lyk benoud en stout, skuldig. Hadidas en sy maat sit stem by en kom soos twee skepe in die lug aangesweef, huis toe vir die nag. Dan vang my oog die groterige voël op die draad daar bo, dit is sowaar ‘n valk. Watter soort sal ek eers moet opsoek.

My lyf begin ontspan terwyl die son kleur strepe trek oor die laaste wolkies. Die honde en kat kom lê by my. Die Mossies vlieg skellend op. Mahalla die papegaai vra “Wat maak jy?” Ek bid, antwoord ek. Pasella vra “Kom jy reg daar?”

Ek kom reg dankie Pasella en drink die toneel om my in. Die wolke trek ‘n streep oor die son. Die dag is verby. Alles wat agter my lê, wat verby is, is deel van die oue. Dit is ‘n nuwe tyd, nuwe seisoen. Dit help nie ek klou vas, dis tyd vir iets nuuts. Ek moet my uitstrek na dit wat voor my is, dit wat nog kom.

Laat alles wat asem het, die Here loof!!