Opgedra aan Erna
Photo by andres chaparro on Pexels.com

Opgedra aan Erna

Ek onthou die eerste keer wat my kleindogters vir my op ‘n plot kom kuier het. Veral oudste, het niks daarvan gehou om vuil te word nie. Nie eers haar hande nie. Sy het sommer begin huil as sy vuil word, ‘n regte stads -dametjie!! Vir my wat op ‘n plaas groot geword het tot ek 9 geword het, was dit skokkend!! Hoe kan ‘n kind groot word sonder modder koekies en vuil voete!? Ons ouers moes ons altyd teen skemer inroep en omtrent eers met ‘n tuinslang afspuit voor ons in die huis kon inkom. Of om te kyk wie is wie. Aldus het ek dit my plig geag om hulle behoorlik in te lyf. So het ek met my volronde lyf die dogtertjies leer boom klim en in modder plaste rondspeel. Later was ek amper met tye spyt daaroor, want nou wil hulle gereeld dit doen wat ek hulle geleer het, terwyl ek nie noodwendig die krag of energie het om dit elke keer saam met hulle te doen nie. Die volle waarheid is natuurlik dat dit hulle baie plesier verskaf om hulle Wouwa (bynaam vir my) vol modder te spat, of te hoor en sien hoe ek in en uit ‘n boom sukkel.

Met my kleinseun weer, het ek die voorreg om karretjies en grond, en sand te doen. Toe hulle een keer hier kuier het ek sommer sand in ‘n groot skottel gaan bymekaar maak en plat op my bas gaan sit en hom die vreugde van sand gewys. Waar hulle bly is daar nie sand om in te speel nie. Om hom dop te hou hoe hy sy handjie diep in die sand druk en die sandjies deur sy vingertjies te sien gly was onbeskryflik kosbaar. Die lekkerte op sy gesiggie as hy ‘n verlore speelding uitgrawe asof dit ‘n kosbare skat was, het my eindelose genot verskaf. Ek sou hom ure kon dophou. Hy was in sy element en ek hoop hy onthou sy Wouwa het hom hierdie lekkerte geleer. Hoekom praat ek vandag van modder en sand? Ek is bly jy vra….

So kry ek ‘n paar dae gelede ‘n totaal onverwagse oproep. Nie watse oproep nie, vidio-call! Dit was al laat oggend, maar in hierdie wonderlike staat van “incubation”, slenter ek nog rond met ongekamde hare. Om ‘n oproep te ontvang van iemand wie jy nog nooit van aangesig tot aangesig ontmoet het nie, is al klaar iets ongewoon. Maar as dit boonop die eerste keer is dat die persoon jou gaan sien, is ongekamde hare, geen grimering nogal ‘n risiko. Daar word mos gesê eerste indrukke….. Maar ek vat toe die kans en antwoord in elke geval.

Nooit het ek gedink as volwasse vrou, sal ‘n ander volwassene my kan uitlok “sandput” toe nie. Goed, toegegee, dis nie ‘n regte sandput nie. Maar sy noem dit sandput, al word niemand vuil nie. Inteendeel, ons grawe saam diep in die “grond” van Vader se Woord en kyk watse skatte ons daar kan uithaal. Die rede vir haar oproep was om my te vra of ek leiding sal neem in ‘n Whatsapp sandput skattejag deur die Woord van God. My mond het oopgehang, ek dink. Wel, na die oproep definitief. Soos reeds genoem, het ons mekaar nog nooit in lewende lywe ontmoet nie. Gesels net so af en toe hier in blogland en ewe min op whatsapp. So jaag my brein deur die vrae. Hoe weet sy ek krap in Hebreeus en en en…

Drie dae gelede begin ons toe met so kleine, eenvoudige,ligte sandput skattejag. Een skriffie op ‘n dag, een baie kort stemboodskappie op ‘n slag. Ek stuur vir haar my ontdekking en sy antwoord terug.Net twee van ons. En so begin die nuus uitlek van hoe lekker ons speel en so kom daar maatjies by. Binne die drie dae, groei ons Sandput maats tot vyftien. Nee, ek het nie ‘n whatsapp groepie begin nie, ek het nie krag daarvoor nie. Maar elkeen van hierdie maatjies wag elke dag vir my piepkleine, eenvoudige boodskappie en stuur dan weer vir my ene terug. En so word die skatte wat ons uitgrawe ‘n groter hoop by die dag. Ek slaan my hande saam en my oë rek groot oop.Dit voel of hierdie ding vir my of met my wil weg hol. Ek laat weet die uitlokker watse wiel het begin rol en sy wêlakapêla my wraggies! En dis haar skuld dat ek na baie dae se awesigheid uit blogland weer kom inloer, welliswaar met nog ‘n uitdaging….

Skryf Bonders, Skryf!, kom krap sy my sandput om. Vat almal se kommentare en skryf en blog! En hier het ek net gedog speel ons in die sand……