Vanoggend toe ons eers boekevat voor ons begin werk, vra ek die twee manne wat is die grootste geskenk wat mens vir hulle kan gee. Wat sou hulle baie graag wou hê en ek gee voorbeelde soos geld, kos, kar, huis, enige iets wat hulle harte sou begeer. Maak nie saak hoe ek beduie en watter opsies ek hulle voorhou nie, die antwoord bly dieselfde. Enige klein, klein ietsie sal hulle harte bly maak. Hulle soek nie iets spesifiek nie. Hulle is net bly en dankbaar vir wat ookal na hulle kant toe kom. My gedagtes flits eers terug na Vrydag toe ek met een van hulle in Kameel die trok gaan horings haal het, daarna na die vele kere wat ek ook horings gaan haal het saam met iemand anders. Vrydag het ek eers gestop om Kameel se leë pens vol diesel te maak. Daarna het ek Joseph saam met my geneem om padkos te kry. Ek het hom self laat kies. Sy keuse was baie beskeie en toe wou hy boonop vir dit self betaal. Ek het toe vir hom gesê ek gaan betaal en hy kan kies wat hy ook al voor lus is. Ek het hom getoets sonder dat hy weet. Sy keuse het dieselfde gebly. Vorige kere het ek dieselfde met die ander persoon gedoen. Die persoon het elke keer die duurste en beste gekies sonder skroom. Wat opvallend was, is dat Joseph ‘n keuse gemaak het en met ‘n sonnige glimlag dankie gesê het, en dit werklik geniet en waardeer het. Die ander persoon het glad nie dankie gesê nie, morsig geëet en boonop halfpad dit by die oop venster uit gesmyt het. Ek het net daar gestop en die persoon dit laat optel. Maar die verskillende gesindhede het by my ‘n indruk gemaak.

Nou die dag lees ek in ‘n vertelling van ‘n besonderse moeilike man wat vir sy vrou gevra het om vir hom twee eiers gaar te maak. Een moes gebak wees en een moes gescramble wees. Omdat sy weet hoe moeilik hy kan wees en haarself nie sy gramskap op die hals wou haal nie, het sy noukeurig en met soveel versigtigheid moontlik die eiers berei soos sy weet hy daarvan hou. Hy het die eiers so gekyk en dadelik geraas omdat sy die verkeerde eier gescramble het. Dit klink baie onredelik en ek wou my dadelik wip vir die man. Totdat ek besef dit is presies wat ek met God doen. Vra vir iets en instede van dankbaar wees, kla oor dit nie heeltemal is soos ek dit wou hê nie. Extreme? Ja dit is, maar ongelukkig is dit waar.

Hoeveel keer het elkeen van ons nie al gewens, droom en selfs al gebid vir iets. Baie van ons in besonder vir tyd. Meer tyd vir die werk wat ons moet klaar maak, of vakansie hou of skryf of tyd om met geliefdes te spandeer.  Then came lockdown….

Vir my is tyd ‘n seen en het ek meeste van my dae te min tyd in my dag. Daar is altyd soveel wat ek wil doen. Aan die begin van die lockdown het ek lysies en lysies gemaak van wat ek alles sal kan of wil doen. Ek het niks van daardie lysie af kon skrap nie. Ek het glad nie soos ander die dae van lockdown getel nie, het geen idee hoe lank dit al is nie. Vir my was dit amper net die gewone aangaan van my elke dag. Een ding wat ek wou doen is meer blog. Doem doem doem….. ek het minder as ooit geblog en slegs nou en dan in geloer. Selfs op my whatsapp groepe het ek minder gekuier as ooit.  Ek kyk terug en wonder wat op aarde het gebeur, waar is die tyd heen? Soos my kleindogter sou sê, “wat het sibeer?”

As ek die tyd oor kon kry, sou ek dit anders gebruik? Sou ek dieselfde doen en kies? Is ek dankbaar vir die tyd wat ek gehad het en het ek dit geniet en waardeer? Soms kla ek oor die verkeerde eier gescramble is. Maar vanoggend het my goed laat voorraad opneem. Daar is so baie baie om voor dankbaar te wees. Daarom het ek gedoen soos met die persoon wat half geëete kos by die venster uit gegooi het. Ek het my karretjie gestop en my gemors gaan optel. En toe weer met ‘n lysie begin. ‘n Lysie van waaroor ek alles dankbaar kan wees….