Ek moes jou vanoggend afhaal van my broadcast groepie. Die een wat ‘n geestelike boodskappie uitstuur elke oggend.  Jy was ook daarop en het elke oggend so warm hartig gereaggeer. Soms net ‘n hartjie of blommetjie as jy swak gevoel het. Net iets om te laat weet jy hoor en jy hou daarvan. Die laaste keer wat ons regtig gepraat het oor die foon het jy gesê Andre luister soms saam. Jy het gelag en gesê hy kyk so mooi na jou. Bly so geduldig. Dankie Andre.

Toe raak jy stil. Ek het gesien dat jy soms kon luister maar meestal het dit ongehoord verby gegaan. Maar dit was oky, ek gee nie daarvoor om nie. Dit was daar as jy kon luister, as jy dit dalk nodig gehad het. Wat seer gemaak het is om te weet jy raak swakker al bly jy so moedig. Jy het ophou praat maar nie ophou veg, glo, lief hê. Jy was besig om stadig weg te gly. Gereed te maak om jou geliefde Skepper te ontmoed.

Ek onthou toe ek jou jare gelede ontmoed het. Jy was nog altyd ‘n dapper soldaat wat enige bul by die horings sou pak. Menige moeilike ding uit die gemors uit gestoei. En altyd vasgebyt so lank nodig. Net soos hierdie long kanker. Jy het dit gepak, storm geloop en alles gedoen wat jy nodig gehad het om te doen. I salute you!!

Dit was seer toe ek jou naam afhaal. Ek moes  verby daardie emosies veg om die boodskap te kan bring. Toe moes ek jou gaan neerlê daar by Hom waar jy veilig is. Sonder pyn. En toe besef ek hoe jy en Pa Diets mekaar tegemoet gaan hardloop, omhels en sonder ophou babbel. Ek hoor pa Diets se “Jah, wat dan?” Blye weersiens. Ek wonder of julle Pa Jan ook gaan sien.

Ek gaan jou mis Rosie, almal gaan. Die Fabriek gaan leeg wees sonder jou. Jou mense gaan jou mis. Lief vir jou Rosie, gelukkig weet jy dit.

Ek groet vir nou, mooi loop Rosie tot ek jou weer sien.