brown wooden opened door shed
Photo by Harrison Haines on Pexels.com

Ouch!! My back hurts skryf ‘n kort maar interressante blog waarin hy vra waar is sy ander helfde. Ek dink baie mense het dit al gewonder. Dit moet seker kom uit die gedagte van ;”  dit is nie goed dat ‘n mens alleen is nie…” of selfs dat Eva uit Adam se lyf uit kom. Sy missing ribbebeen. Genesis.

Ekself het al gewonder oor die vraag as ek hoor mense wag vir “die regte een”. Ek moes self daaroor gewonder het toe ek jonger en enkel was. Wat my alweer die vraag laat vra hoekom soek ons na iemand in ons lewe? Is dit omdat daar ‘n leemte is? ‘n Hunkering? Something missing or broken? Dalk omdat jy nie vervuld “voel” nie?  Jy sien – ek dink alweer teveel.

Vir jare en jare, wel, grootste deel van my lewe het ek seker so gevoel. En vandag, jare later kan ek eerlik wees met myself en erken dit was omdat ek myself nie aanvaar het nie. Sekerlik maar gebroke was en instede daarvan om genesing te kry en dan in vervulling my lewe te leef, wou ek mense in my lewe hê wat my vervuld moes laat voel. So asof ek net ‘n halwe mens was en met ‘n “ander helfde” heel sou wees. Ek is seker dit was nou nie AJ Vosse se bedoeling om so diep gesprek en soeke te begin nie.

Ons lewe in ‘n tyd van isolasie en maskers. Ek het nie getel hoeveel dae is ons al in die lockdown greep nie. Vir my het isolasie begin bietjie meer as twee en ‘n half jaar gelede. Al wat verskil van hoe ek al die tyd lewe, en nou-is die maskers. En ek vergeet aanhoudend van die maskers as ek dorp toe moet gaan. Ek het die tydperk juis gewerk om van al die maskers in my lewe ontslae te raak en al my gebrokenheid neer te lê en genesing te kry. So as ek weg ry van die plaas af, waar ek maskerloos diep asem haal aan vars plaas lug, onthou ek van maskers eers as ek iemand sien met een aan. Letterlik of figuurlik gesproke.

Dit is nogal verstommend hoe vinnig mens maskers raak sien as jy dag vir dag gestroop word van maskers. En dit is verstommend hoe jou lewe verander as die leemtes aangespreek word. Hoe  jy ophou soek na die een wat jou moet aanvul. Dat jy vervuld kan lewe sonder ‘n ander helfde. Beteken dit dat ek nooit geselskap nodig het nie? Nee, dit is beslis nie so nie. Ek verlang soms regtig om ‘n goeie gesprek met iemand te kan voer, van aangesig tot aangesig. Ek is ‘n mens mens. ‘n Drukkies en soentjie mens. ‘n Kuier en vat mens. ‘n Lag en gesels mens.

Maar toe ek vrede maak met myself, toe word ek ook ‘n “dit is genoeg” mens. Toe ek begin heel word het ek ontdek ek kan heeltemal vervuld en oky wees al is ek alleen. Dat ek nie nog ‘n helfde nodig het nie, want ek is genoeg. Ek moet eerlik bly wees. Daarom kan ek ook erken dat ek soms wonder of my lewe anders sou wees as ek hierdie kennis vroeër gehad het. En nie al die verkeerde keuses in my lewe gemaak het. As ek vroeër heel was en met myself vrede gemaak het, sou ek nog na iemand gesoek het? Dalk sou ek, wie weet.

Is ek volkome heel? Seker nie. Die seen hierin lê dat ek nog daagliks aan hierdie ontdekkingsreis kan deelneem en kan groei in die vrede en vreugde van genoeg. Dat ek daagliks kan kies dat wat ek het, is net genade. Dat wat ek het, is net geleen. Dat wat ek het en is, is genoeg.