Daar gaan ‘n ligte siddering deur die vrou waar sy sit, vasgevang in die herhinneringe van daardie dag, 18 maande gelede. Die man het nie geantwoord nie, kon nie antwoord nie. Hy was reeds dood. Die gevoel van magtelose verlatenheid daardie dag was onbeskryflik. Ek wonder hoe lank ek daar langs hom bly sit het, dink sy. ‘Dood mors dood! En ek weet nie eers wie is jy nie!’ skreeu sy half histries. Wat maak ek nou met jou, oom? Trane begin weer oor haar wange biggel en haar skouers begin ruk. Rou snikke kom van ‘n plek diep binne haar. “Hellllllp, ag hemel iemand help my!” Sy staan op en draai stadig in die rondte terwyl sy probeer kyk vir nog mense. “H.E.L.P  M.Y!!!!!” gil sy dit weer uit met alles in haar. Verwese, verward en bitterlik alleen staan sy en soek vir lewe. Haar hulp geroep het die voëls en apies op hol gejaag en selfs die sonbesies se geskreeu is stil. Hoekom kan ek nie onthou of daar ander mense was nie? Wie is die oom? Wie is ek?” Wat staan my nou te doen? dink sy.

Sy staan op en begin dan stadig  in ‘n sirkel loop om die ongeluks toneel – soekend na lewe of ander tekens van mense. Sy sien niemand anders. Kan hulle verder weg lê? In die proses val sy byna oor ‘n rugsak. Sy hurk en maak dan dit oop met een hand. Dit gaan maar sukkel sukkel. Klere,dit moet myne wees. Waarheen was ek op pad met ‘n rugsak? Sy maak die ander ritssluiters een na die ander oop. Toiletware, handdoek, pakkie grondboontjies, 3 energie stafies, ‘n pakkie rosyne  en  ‘n  paar stukkies droë wors is die totale inhoud saam met die klere. Sy pak dit sorgvuldig terug. Onder die een vlerk sien sy iets blou uitsteek en sy gaan trek daaraan. Dit is ‘n lang strook dun plastiek wat eens op ‘n tyd opgevou was te oordeel aan die voue.  Sy bondel dit bymekaar en stap dan na waar die man lê. Sy sit dit neer op die grond langs die man en begin dan deur sy sakke voel na ‘n beursie. Sy kry dit,‘n knipmes asook ‘n boksie vuurhoudjies en sit dit op die klip langs haar neer. Daarna haal sy ‘n horlosie van sy arm af, kyk daarna en sien dit is stukkend. Dan sit sy dit ook langsaan neer. Daar is geen ring aan sy vinger nie. Ek kan nie die man so los nie, diere kan aan hom kom eet. Dink sy en gril. Ek sal dit wat hy by hom het saam neem vir sy mense. Langs hom in die stof, lê ‘n gebreekde bril. Sy tel dit op, sit dit by die ander goed en staan eers weer op. Hoe nou gemaak? wonder sy moedeloos. Sy bekyk sy posisie in die sloot en die onmiddelike omgewing. Dan dring dit tot haar deur dat sy dik veldbaadjie net aan een arm is en los van die res van sy lyf lê. Sy trek dit uit en sit dit ook een kant. Sy gaan sit plat op die grond, draai om met haar kruis teen sy lyf en haar voete teen ‘n groot rots wat bokant die sloot uitsteek. Sy skop vas en stoot teen die klip aan. Die man se lyf beweeg dieper in die sloot in. Sy staan op, neem die blou plastiek en sit dit bo-oor sy lyf. Sy druk dit orals om hom, onder hom in. Sy is moeg na liggaam en siel maar dwing haarself om die taak klaar te maak. Haar kop en skouer begin weer klop en sy besef sy sal moet vinnig maak voor sy geen krag meer oor het. Moeisaam gaan sit sy aan die hoë kant van die sloot en begin met haar voete die grond in die sloot in stoot. Dit val oor die blou plastiek. Sy wissel haar voete af, soos ‘n kind wat in die sand speel Die hoop word groter en sy hou aan tot sy nie meer van die blou plastiek sien nie. Ek sal later moet klippe of iets oppak sodat diere hom nie sal oop grawe nie, maar vandag moet dit maar doen. Jammer oom. Sielsmoeg begin sy bid. “Here, ek weet nie wie hierdie man is nie. Ek kan hom nie ordentlik begrawe nie, vergewe my. Bewaar hom en vertroos sy mense. Bewaar my, asseblief. En laat hulle ons kom soek asb. Sy pak sy goedjies op die baadjie en vou dit dan toe. Sy staan op, stap in die vliegtuig met die kosbare vrag. Dan gaan sit sy binne die vliegtuig se romp en begin bitterlik huil.’

Die geskel van die ape roep haar terug na die werklikheid. Sy vee oor haar wange en snuif hard. Genadiglik het haar wonde genees, maar daar klop ‘n pyn binne haar wat niks te doen het met beserings nie. Sy kyk by die venstertjie uit en sien die hopie grond met klippe toegepak ‘n entjie weg. By die klippe het sy ‘n stok in geplant toe sy eers sterker was. Aan die bo punt van die stok het sy die man se bruin laphoed wat sy heelwat later eers opgetel het, om die stok vas gebind met nat bas stroke. Die bruin lap hoed wat al verbleik het in die son. Die bruin lap hoed…..! Wag ‘n bietjie, bruin lap hoed?! Dan tref die volle impak daarvan haar soos ‘n hou op die krop van haar maag. Pappa! Gil sy, dis my pappa! Sy vlieg op en storm om die vliegtuig tot by die hopie klippe. Sy sak op haar knieë neer en sit haar hande op die klippe asof sy deur hulle wil voel. Pappa, hoe kon ek jou begrawe sonder om te weet dis jy? Al die tyd is jy hier naby my, by my en ek het nie geweet nie! Ek is so jammer pappa!borrel die woorde deur haar lippe. Dan sak sy af en gaan lê met haar arms wyd uitgesprei oor die klippe, maak haar oë toe en gee haarself nog eens oor aan die smart van ‘n rou gemoed…