Sy staan stadig op, haar lyf stram, haar hart leeg gehuil. Stadig kyk sy op en om haar. Die dag het ongemerk verby geglip terwyl sy besig was met al haar mymery. Sy skud haar kop, nee! Dit was nie net mymery nie. Dit was baie baie meer as weemoedige peinsery. Ek het ‘n stuk van myself terug gekry en ook ‘n stuk weer verloor. Dit was die begin om my lewe weer soos ‘n legkaart aanmekaar te heg. Dit was ‘n smartlike terugblik op ‘n stuk van haar lewe.’n Lewe wat net nooit weer dieselfde kan wees nie. Sy gee ‘n lang diep sug. Ek moet uit. Uitkyk punt toe. Sy stof haar arms en bene af. Kyk hoe lyk jy! Raas sy met haarself. Dan gaan haal sy haar waterbottel, voel of die knipmes op sy plek is en begin aanstap. Sy stel die kamp alarm sonder om daaroor te dink. Haar kop moeg van dink en beelde oproep. Sy sien weer die bok se bolletjies en onthou dan wat haar op hierdie baan van onthou gesit het. Daardie enkele stukkie papier! Sy het gewens, gehoop sy kan onthou – maar dit het nog smart gebring. Sekerlik ook krag en sterkte. Pappa het my groot gemaak om te oorleef, baie van die bos geleer. Hy het my altyd aangemoedig met ;”my doggie, jy is ‘n wenner, meer as oorwinnaar!” As dit nie vir hom was nie sou ek dalk nie een nag hier oorleef het nie. Hoe dankbaar is ek nie vir Pappa nie! Sy gaan staan eers stil. Ek wou nog kom kyk wat hier moontlik kan rondlê. Ek wonder hoeveel goed nog iewers rond gewaai is deur die wind of versteek deur die bos. Sy sug weer, nie nou nie. Ek het nie nou krag vir nog nie. Ek moet by die oopte kom en net eers asemhaal.
Sy gaan staan op die punt van haar uitkyk rots, haar oë soekend soos altyd. Dit is so mooi hier, dink sy terwyl sy roerloos staan. Dis weer deinserig soos die meeste van die kere wat sy hier kom. Mens kan nie vêr sien nie. Dan gaan sy sit met haar rug teen die opstaan klip en drink dan dorstig uit haar waterbottel. Dis so vredig hier. Tyd het amper geen plek hier nie, geen gejaag, geen toeters, ambulanse of mense wat skreeu. Ek wonder of ek in die stad bly of op ‘n plaas? Watse ontdekkings wag nog vir my?Die rustigheid van die natuur maak my kalm, ek hou hiervan. Moet sê geselskap sal welkom wees. Die wind waai saggies en swiep haar hare oor haar gesig. Sy vee dit weg en kyk op na die wolke. Daar is verseker baie lugstrome. Die wolke hoog bo dryf vinnig in ‘n rigting terwyl die laer af stadig uitmekaar torring soos ‘n bol watte wat op breek. Dan sien sy weer die groot voël wat sy voorheen hier opgemerk het. Ek dink dis ‘n arend! Wens so ek het ‘n vêrkyker gehad! Sy hou hom dop totdat hy in die digter wolke weg raak. Agter in die bos gesels verskillende voëls elkeen in sy eie taal saam. Dit klink soos ‘n simfonie, dink sy en voel hoe haar lyf begin ontspan. Voor haar strek die vallei in ‘n malse pallet van groene. Dit is ‘n ruie bos wat plek plek oop kolle het. Hier en daar is daar ook kranse sigbaar, soos die een waarop sy sit. Dan eindig dit met koppies doer vêr. Sy wip soos sy skrik toe daar skielik ‘n geskarrel agter haar opklink. Sy vlieg op en kyk terug oor die rotswand, reg in die oë van ‘n paar dassies. “Hiert jy!” gil sy en onthou net betyds om nie agter toe te spring nie. Amper voeter ek van hierdie krans af!” Die arme dassie het egter net so groot geskrik en skarrel vinnig weg. Sjeeezzzz! Dit was amper! Sê sy vir haarself. Sy loer om die rots na waar sy altyd die horing staan maak. Deksels! Dit het om geval. Leeg! Sy tel dit op en maak dit weer staan. Sy maak seker dit staan stewig. Dan klouter sy oor ‘n laer deel van die rots om na die strik te gaan kyk wat sy altyd agter die rots teenaan ‘n lae struik stel. Dankie tog! Daar is sowaar ‘n haas in. Gelukkig het ‘n Jakkals dit nie ontdek nie, dink sy terwyl sy dit losmaak en die strik weer opstel. Dan sit sy weer los takkies daarom om te help met die verbloeming daarvan. Sy tel die haas aan sy ore op en sê:” Jammer hasie, maar baie dankie hoor!” Ek beter my roer as ek nog die haas wil slag.
Nadat sy die haas geslag en behoorlik skoon gemaak het spoel sy haar hande eers deeglik af. Sy neem die een helfde van die haas en sit dit oor ‘n stok wat soos ‘n kruis aanmekaar gemaak is. Sy steek dit aan die een kant van die vuur in die grond sodat dit effens skuins staan. Dan neem sy die klam hout en sit dit oor van die kole aan die eenkant van haar vuurplek. Die klammigheid sal rook maak en die haas ‘n ander smaak gee. Ek moet net onthou om dit gereeld om te draai. Die res is in repies gekerf om biltong van te maak. Maar eers is dit tyd vir water warm maak. Vanaand moet ek behoorlik was! Sy stap na die stertkant van die wrak waar sy haar hout bêre. Sy trek die seil eenkant, rek en haal die dop wat oor die neus van die vliegtuig se skroef kom agter die hout uit. Daarna maak sy die seil weer mooi toe, stap vaatjie toe en skep water. Sy dra dit al kreunend en steunend vuur toe. By die vuur staan die klippe gereed en sy sit dit versigtig tussen hulle neer sodat dit mooi balanseer. Dan skuif sy warm kole en los stompe nader sodat die water kan warm word. Sy stap na die ‘Buffaloberry’ naby haar kamp’plek, pluk ‘n paar bessies en breek dan ‘n paar stingeltjies af. Terug by die vuur gooi sy die bessies in die water en breek die stingels fyner en gooi ook dit in die water. Sodra die water begin warm word sal dit ‘n seperigheid in die water maak wat haar sal help skoon kom. Vir nou met dit doen as seep. Dan gaan haal sy haar waslap en handoek wat sy destyds in die rugsak gekry het, asook skoon klere. As sy klaar gewas het, sal sy weer ouder gewoonte haar vuil klere in die water week en dit ook was. Sy maak eers haar waterbottel vol water by die vaatjie en draai weer die haas om. Dan toets sy die water se temperatuur en besluit dis reg om haar hare te was. Die Buffaloberry gee die regte effek en sy druk haar hare in die water. Wanneer sy klaar is, draai sy weg van die vuur en spoel haar hare af met die water uit die waterbottel. Sy maak dit droog met die een punt van die handdoek. Dan begin sy stelselmatig haarself skoonmaak met die waslap wat sy in die water druk. Hoe anders as ‘n lekker warm bad of ‘n verfrissende stort aan die einde van ‘n moeilike dag, dink sy terwyl sy die waslap nog ‘n keer teen haar gesig druk.
Onse Bosvrou. Hoe lekker het ek saam met haar op die krans vêr gekyk. Bondels, dankie vir hierdie verhaal wat jy neerpen. Ek wil oor buffalo berry gaan oplees.
LikeLiked by 1 person
Dankie Vuurtjie dit het nogal ‘n journey geword wat ek nie sien kom het nie. Daar is wonderlike plante met die interressantste gebruike, nuwe wereld wat oop gaan hoor
LikeLike
Ek aanvaar as sy Buffalo berry kan bekom, dat sy in Amerika se bosse is. Sien dis deel van Rooihuide se stapel. Jy het nou wye geografie om mee te speel. ✏📚
LikeLiked by 1 person
Definitief ‘n vrou wat gewoond is aan ‘n ‘beter’ lewe, maar sy is ook gekonfyt in die kuns van oorlewing met skrale hulpmiddels. Ek raak nou vrek nuuskierig oor haar agtergrond.
LikeLiked by 1 person
Ag ek is so bly. Ek was bekommerd julle raak verveeld met die storie
LikeLiked by 1 person
Nog lank nie!
LikeLiked by 1 person
Jippeeeeyajey
LikeLiked by 1 person
Heerlik gelees by jou. Ek bewonder haar moed om ‘n hasie dood te maak en af te slag. Ek sal eers vrek honger moet wees voor ek dit kan doen.Ek geniet die verhaal baie!
LikeLiked by 1 person
Dankie Bytjie, dit beteken baie. Janee, ek dink dis desperaatheid wat mens dit laat doen. Glo nie onder normale omstandighede sal ‘n vrou dit doen nie. Ek geniet hierdie skryf baie, nie gedink ek sou nie. Dis heerlik om te sien wie dit saam met my geniet.
LikeLiked by 1 person
Dis soos ‘n vervolgverhaal in ‘n tydskrif… mens kan nie wag vir die volgende aflewering nie.
LikeLiked by 1 person
Dis lekker om dit te hoor, dankie Bytjie 🥰
LikeLiked by 1 person
Ek geniet die verhaal, wonder wat ek sou maak? Ek dink nie ek sou diere slag nie, maar mens weet seker nie. Ek skat ek sou blare of so iets as voedsel gebruik.
LikeLiked by 1 person
Ek sal net soveel blare kan eet en dan my vleisie soek! Hopeloos te lief vir vleis!
LikeLiked by 1 person
Stem, moet vleis ook eet, maar ek weet nie of ek dit in ‘n oorlewingsituasie sal kan doen nie.
LikeLiked by 1 person
As dit vir jou oorlewing is sal jy. Alle mense het die basiese instink om te wil oorleef. Jy is baie tuwwer as wat jy dink😊
LikeLiked by 1 person