Bosvrou sit die droë vleis en gekookte voël eiers in die vars blaar, vou dit sorgvuldig toe en sit dit dan in die rugsak. Sy maak die rugsak toe en sit dit dan oor haar skouers. Sy hang haar vol waterbottel om haar nek. Pappa het nie net ‘n noodhulp kissie in die vliegtuig gehad nie, hy het altyd gepraat van sy oorlewing sak. Dit was nie tussen die goedjies wat sy oor tyd heen by die wrak opgetel het nie. Alhoewel daar klein los items was, besef sy nou daar moet meer wees. Die wolk oor haar gedagtes het begin lig en dit is tyd dat sy dinge begin bymekaar sit. Daardie papier met die logbook details sê vir my ek moet met ander oë begin soek en kyk. Vandag is die dag. Dit kan ‘n lang dag wees, hoop my kosgoed is genoeg. Sy voel aan die skede om haar been, die knip mes is op sy plek. Wat nog? Sy draai in die rondte en kyk om haar. Die sakkie van dun seil met ‘n inryg toutjie hang teen die kant van die vliegtuig romp, in gehak aan ‘n uitstaan punt van die geskeurde staal. Ja! Ek kan die bok bolletjies daarin sit. Miskien kry ek nog ander ook. Nou ja,ek dink dis dit, laat ek gaan! Praat sy met haarself en stap uit in die vars oggend lug.

Sy stap die kort entjie tot by die kamp alarm, draai om, stel dit en staan weer regop. Eers verspied sy die wêreld, nie ‘n dier of mens in sig. Net die blare beweeg liggies in die vars oggend briesie. Dan stap sy uit die paadjie reguit in die bos in. Dit is hier waar sy die papier op getel het. Waarna moet ek soek? Papier? Voorwerpe? Sy kyk eers in die boomtoppe in. Kon ‘n sak of iets iewers in ‘n boom geval het? Dalk oor tyd afgeval het? Sy kyk af en begin laag hangende takkies oplig. Dit sal ‘n ewigheid vat! Sy tel ‘n  lang reguit stok op en dan begin sy stadig tree vir tree beweeg terwyl sy met die stok takke, blare en klippe oplig of omwoel. Sy werk doelgerig en onverpoos. Met rukke buk sy af om van nader te kyk.  Na ‘n lang ruk stop sy om eers water te drink. Sy kyk na die bos hier om haar. Soos wat die son aan beweeg, begin die sonstrale tussen deur die bome en takke val. Stofdeeltjies dans op die sonstrale wat plek plek soos flitsligte bane maak. Oral om haar fladder voëls van tak tot tak en hou haar dop uit die hoogde.  Apies skel kort kort in die boom toppe en enkeles wat haar al gewoond is kom nuuskierig nader om te kyk wat sy aanvang. Skoenlappers vlieg op as sy nader kom en land weer buite haar bereik. Niks, hier is niks, dink sy en sug. Miskien moet ek op ‘n ander  plek gaan kyk.

Sy bereken die plek waar sy die papier opgetel het teenoor waar die vliegtuig lê. Kon die wind dit van een plek hierheen gewaai het? Dalk moet ek in dieselfde radius ander kant toe beweeg, meer in ‘n sirkel patroon, dink sy en voeg daad by die woord. Sy draai om en stap in die teenoorgestelde rigting. By die paadjie buk sy eers en gooi die bok bolletjies in die seilsakkie. Dan tree sy oor die paadjie tussen die bome in. Weer begin sy werk, gefokus, soekend. Haar aandag by die taak waarmee sy besig is. Sy werk tot haar maag haar herhinner dat sy nog nie geëet het nie. Sy stof haar hande af, haal die rugsak van haar rug af en gaan sit met haar rug teen ‘n boomstam. Sy haal die  kos uit en bekyk die wereld terwyl sy eet. Die wrak lê nie vêr van hier af nie. Plek plek tussen die bome lê glas en stukkies plaat van die vliegtuig. Ek moes eerder hier begin het, dink sy en skop na ‘n klip naby haar voet. Dan verstar sy. Daar lê iets blink. Dit klink of die sonbesies nog harder raas as sy op haar knieë vorentoe leun. “ ‘n Battery! Wat op aarde!?” praat sy kliphard. Haar gedagtes spring terug na haar pa se oorlewings sak.” Dit moet daaruit kom! Wat was daarin wat batterye hou? Flits? GPS?” Agter haar is daar skielik ‘n geskel en sy swaai om. Sy het nie haar kos gebêre nie en twee apies veg nou daaroor. “Hey, skoert!!” skel sy en waai wild met haar arms. “Demmit!” raas sy met haarself as sy by haar sak kom en sien alles is uitgegooi en die res van die kos is saam met die apies vort. Ongeduldig pak sy die items terug en maak dan die sak toe. Sy sit dit terug op haar rug, draai om en gaan terug na waar sy die battery opgetel het.”Stadig, stadig!” Maan sy haarself om nie te vinnig te gaan nie, “net nou mis jy weer iets” Sy krap ‘n stukkie glas eenkant toe en die stok hak vas aan iets. Sy buk om te kyk wat dit is, sit die stok neer en krap die blare eenkant toe met haar hand. ‘n Oranje en swart band met ‘n verstelbare gespe steek  onder ‘n dun lagie grond en blare uit. Sy pluk daaraan en dit kom maklik los. “Wat is die?” Die band wat dalk aan die sak was? Dit is verseker van die sak af geruk. Dan soek ek mos op die regte plek? Die sak of van die inhoud kan dalk ook hier rond lê!” Sy staan eers regop en kyk of sy nie met die blote oog iets sien nie. Sy trek haar oë op skrefies terwyl sy die terrein stadig fynkam. Die bome is hier nie so ruig nie maar dit kan in ‘n struik geland het of agter ‘n klip. Wat van in ‘n mik van een van die bome,” wonder sy en kyk op. Haar oë gaan van boom na boom. “ag nee man!” praat sy weer hardop met haarself, as dit in die boom was sou die apies dit al beet gekry het!?”Sy draai weer weg na links om aan te gaan waar sy op gehou het. Dan trek sy haar asem in, “daar is iets oranje! Dit moet die sak wees!” sy klim haastig oor die paar klippe en omgevalde boomstomp. Net buite haar bereik hang die sak aan die oorblywende band. Dit is geskeur en sy kan nie sien of daar iets in is nie. Sy staan op haar tone en rek haarself uit. Nee! Te kort. Dan klim sy op die om gevalde boomstomp. Sy neem die stok en loop voetjie vir voetjie soos ‘n gimnas op ‘n balanseer balk. Sy leun aan teen die boom waarin die sak aan sy een band hang, lig die stok en druk dit onder die band in. Sy moet nog twee keer probeer voor die band loskom en aarde toe tuimel. Vinnig klim sy van die stomp af en klouter oor takke en klippe na die sak. “Mag hier iets in wees wat my kan help!” sê sy as sy die sak nader trek en by die gat inloer.