Ek het al voorheen geskryf oor my gemeente van twee, partykeer drie. Dis nou sonder die miljuisende engele wat onsigbare (soms nie) toeskouers is. As Norah die dag hier is, kom luister sy saam. Vandag was sy hier. Op  ‘n normale dag, steek jong Joseph die vuur aan terwyl ou Josef die sleutel kom kry.Hy sit die ketel aan en maak koffie of tee. Dan stap ek af en gaan staan saam met hierdie twee juwele om die vuur. Die dat ek ook soms soos stroois ruik.

Daar om die klein vuurtjie, maak ek my Afrikaanse Bybeltjie oop en begin beduie. Hoe meer gebare en byklanke, soos Kinderkrans of Sondagskool, hoe beter. Afrikaans, want almal verstaan dit beter. So elke nou en dan toets ek om te hoor of hulle reg verstaan. Ek wil darem nie dat hulle verkeerd verstaan en dan die snaakse witvrou die skuld gee nie. Die glimlagte se waarde is vêr bo korale of aardse skatte. Ek word weer klein en speel daar langs die vuur met rook in my oge, prediker soos ‘n klein dogtertjie met woeste hare.

So vind ek uit ou Josef weet nie van Moses nie! Wat ‘n ongelooflike heerlikheid om te  vertel hoe Mamma vir hom ‘n mandjie vleg, met teer smeer en in die Nyl rivier laat dobber. Die gesigte voor my se oge  rek omdat Faroa hulle wil dood maak en die  meelewing wil my soms laat giggel en soms laat huil. Ek moet beduie sodat hulle sal onthou en die aandag nie sal afdwaal. Byklanke is baie effektief en bring gewoonlik groot glimlagte as beloning. Gister vertel ek van die brandende Braambos. “Eeeejoh!? “laat my besluit ek moet vandag net seker maak dis Eeeeeejoh vir die regte rede en nie omdat hulle my verkeerd verstaan nie.

So besef ek die volheid van wat daar gebeur het, en die werklikheid dat God wel bestaan, moet opgevolg word voor ek aangaan na die tien plae en uittog uit Egipte. Ek het self eens op ‘n tyd in my lewe gewonder of Hy regtig bestaan en het bewyse gaan soek. En gekry. Eerstehandse ondervinding, nie hoor sê nie. Ek wil weet of hulle daardie sekerheid het. Jong Joseph verstaan en sy antwoord laat my ‘n knop in die keel wegsluk. Norah wat vandag by sit se antwoord laat my woes keel skoonmaak. Toe antwoord ou Josef met soveel kinderlike opregtheid en onverbloemde liefde, respek en dankbaarheid sigbaar in sy ogies; ” ek weet hom die Modimo hy ês want djy leer ons so moi eleke dag van Modimo.  Toe huil ek maar…