Een van my manne is weg. Ge-AWOL soos ‘n soldaat. Ons driemanskap het gekrimp na twee. Dit sit baie sleg in my lyf. Verlies was nog nooit vir iemand lekker nie en ek het al genoeg gehad daarvan! Toe Josef dag een nie opdaag nie, bel ons hom. Ou Josef staan saam met my, sy oor ook amper teen myne om te hoor of hy oky is. Ons is nie net medewerkers nie, ons harte is mos in mekaar ingevleg, dan nie? Die oproep en almal daarna bly onbeantwoord. Dag twee klim ek in Kameel en ry met begeleiding na Oukasie om te gaan kyk. Sy vrou is in Mosambiek en sê nou maar hy is siek en lê onversorg op pad dood toe. Ons albei is besorg en verf ons denkbeeldige prentjies in volkleur.

Ek is maar versigtig vir Oukasie, nee, kom ek wees eerlik. Erg skrikkerig! Om vrou alleen in Oukasie in te ry waar daar soveel gruwel goed gebeur is nie iets wat ek sommer wil waag nie. Ek weet in elk geval nie waar hy bly nie. Godfrey ry saam en beduie hoe om te ry. Hy is heeltemal te min vir ‘n bodyguard so ek bly versigtig op die uitkyk vir moontlike moeilikheid en sommer ook vir ‘n ontsnappings roete. Ek neem doelbewus nie my handsak saam nie. Selfoon in die binne deur, bestuurs lisensie in my gatsak en ‘n paar note in nog ‘n sak. Vir ingeval hy medisyne nodig het. Foon kan ek op live location stel vir ingeval ek soek raak.

Kameel skommel stadig stadig in die klipperige grondpaadjies af. Hier jaag jy nie met spoed iewers heen nie. Behalwe vir klippe in die pad is daar kinders wat sorgeloos met snotneuse rondloop. Orals word legoa met verwondering gade geslaan. Soveel temeer toe ek Kameel parkeer, sluit en uitklim om saam met Godfrey die stofpaadjie te voet verder aan te durf tot by Joseph se huis.

Groot is my verbasing toe instede van Joseph, siek in die kooi, ek sy vrou buite aantref, besig om die erf skoon te vee. Ek word ewe eerbiedig die enigste betroubare stoel aangebied. Afgevee en al, terwyl hulle op kassies sit. My jare in die sendingveld het my geleer van korrekte “protokol”, as jy in ‘n “rural” area by iemand se huis aandoen. Ek wag geduldig vir die regte oomblik om te vra na Joseph, nie seker of ek die antwoord wil hoor nie.Joseph het na 8 jaar se getroue diens besluit om beter weivelde te gaan soek. My moed gaan lê loodswaar in my skoene. Vanwaar gehasie?! So sonder waarskuwing, taal of tyding. My brein tel hierdie komplikasie by ‘n alreeds oorweldigende, uitdagende som en ek hoor net alarms afgaan. Alhoewel ek hom al die vooruitgang en seen gun, moet ek myself inhou om nie radeloos aan die skel te raak nie.

Ou Josef se skouers en gesigs uitdrukking val net so vêr soos myne toe ek terug op die plaas die nuus aan hom oordra. Ongeloof en hartseer weerkaats tussen ons. Saam sit ons op om gedopte emmers voete in die stof en probeer om nie te huil nie, terwyl ek hom help om die nuwe rou horings te skrop. Elke kort kort skud hy sy kop en glip ‘n “eish” uit wat my mooi vertel hoe swaar die gewig in sy hart sit. Is dit moontlik dat hy nog slegter as ek kan voel? Ek dink aan die werk en hoe hulle dit altyd verdeel het of saam gedoen het. Ek besef hy sien swarigheid vir homself. Dis baie werk en dis harde werk. Ek besef dat as ek nie ‘n plan maak nie, hierdie dierbare ouman gaan moed verloor. Dit kan nie. So ek maak planne. Ek werk vir my ‘n plan uit hoe ek vinnig deur my goed kan gaan in die oggend en hom dan kom help. Hy sal my moet oplei. Ek vertel hom. Hy “eish” nog ‘n keer en lyk of hy enige oomblik in trane gaan uitbars.

Vir die volgende twee weke, is ek slag gereed as hy in die oggend aankom. My strategie is uitgewerk. My eie werk is vroeg oggend beplan en so gereel dat ek maksimum tyd by ou Josef kan help. Na ons gesamentlike Bybel tyd, gesels ons oor die bestellings en beplan dan hoe ons die dag gaan aanvat. Ek vertel hom ek is gereed vir opleiding. Hy kyk my en beloon my met sy beste sjôh! Ek moet sommer nou al sê dis bleri harde werk en bleri vuil ook. Ou Josef is ‘n uitstekende en geduldige leermeester. Uiters bedagsaam met hierdie linkshandige, oorhaastige leerling. Sou iemand iewers staan en afluister, is dit wat hulle sou hoor:

Vat sô . Nee sô. Staan hieso. Hier? Hiesô! So? Hauwa hieso! SO?Hou hier! oppas jouse vênger, sop! sop die vênger.! …so? Yebo…. oppas, OUTCH , EINA…EISH! Demmit. Sorry. Eish, sorry nê?

Ek het velle verloor. En rugwerwels. Dink my rug is af by die negende nek werwel. My klere is vol jik kolle en Norah raas. NOG ‘N BROEK!!!???? Jammer Norah, ek maak Shofars. Eish……