Ek en die manne klim gister oggend vroeg in Kameel die trok op ons eie ekspidisie. Ons het hout nodig vir die groot vuur wat ons moet maak om die rou horings te kook in ons enorme konka. Daar onder die fabriek in die bosse waar die Bosvrou gedagte begin het. Oral op die plot lê stompe van omgevalle bome wat ons op Kameel gaan laai. Ek lief dit as ek , die manne en Kameel spesiale takies kan aanpak. Ons ry eers rondom die plot om sommer ook net te kyk na die lyndrade en so.

Watse lyn drade?!!! Waar is die lyndrade?? Almal gesteel. Weg. Gone. Waar is die omgevalle boomstompe? Weg!Gone! Waar is die lewendige bome? Weg! Gesteel! My hart ruk en my mond val oop van die brutale stroping wat ek sien. Orals is die lyndrade, paal en al gestroop, weg gedra en is daar paadjies geloop in en uit die plot.

Nie net is daar geen drade of paal , nie net is daar paadjies in geloop nie, die plot is gestroop van bome. Omgevalle bome en sommer lewendige bome! Groot areas is dit kaal soos wat bome afgesaag en weg gedra is. Weg. Niks. 

Emosies wissel af hier binne my. Ek wil kwaad word, ek wil ten hemele skreeu. Maar ek weet nie vir wie ek moet kwaad wees nie. Die stropers? Hulle wat swaar kry en hout moes hê vir oorlewing deur die koue winter? Of moet ek kwaad wees dat hulle nie weet dat as hulle al die bome so stroop, die aarde armer word aan suurstof? Of moet ek kwaad word vir die (ons) wat hulle dit nooit geleer het of gelyke geleenthede gegun het nie?
Terwyl ek en Kameel al skommellend die pad af beur met omgekrapte emosies en die manne vasklou,  probeer ek vasklou aan hoop vir beter, vir antwoorde,  vir oplossings, vir verstaan.

Onwillekeurig gaan my gedagtes na die vroue wat in Polokwane so vermoor is. Diefstal van lewe. Van menswees. Ek sit langs Judy se siekbed en sien haar geveg met dood. Ek sien die aftakeling en stroping van haar liggaam.  Diefstal. My gedagtes loop kronkelpaaie na allerhande soorte diefstal. Sommige ernstig soos hierbo, menselewens. Goed wat mens nie altyd weet hoe om te keer. Maar ook gaan loer my gedagtes by diefstal wat onnodig was en verhinder kon geword het. Soos onnodige twis wat mense aanhits en veroorsaak dat skeurings plaasvind. Kinderagtige twak net omdat mense nie hulle sin kry nie.

Ek besef diefstal kan soms verhoed word en soms nie. Ek besef ek het ‘n keuse hoe hierdie goed my gaan affekteer. Gaan ek diefstal van my emosies toelaat? Nee! Ek onthou hoe ek jare lank gevangene was van ‘n ander se kwaad. En hoe kwaad my lewe oorheers het. En ek onthou die oomblik toe ek gekies het om nie meer en nie weer gevangene van kwaad wees te wees nie. Om nie diefstal van my genesing en vredevolle emosies toe te laat nie. Ek onthou dat ek keuses moes maak en elke dag steeds moet maak om nie weer gevangene te word nie. Ek onthou dat ek keuses het wat ek moet en mag uitvoer, terwille van selfbehoud.Wat ek kan en mag beheer, sal ek, moet ek. Wat ek nie kan verander nie, sal ek geen meer mag gee om verder te steel nie. Sovêr as wat dit in my mag is.
Nadat ek uit my tronk ontsnap het moes ek leer boundaries optrek. Ek moes nuwe hoekpale, diep in die gesonde grond van my lewe inplant en deeglik vas stamp. Ek moes nuwe draad stewig en  styf vastrek om lewe- en  vredediewe uit te hou. Ek moes by my blinknuwe hek twee bordjies  diep inkap en helder verf. Die een lees : ” Toegang verbode vir kwaad, manipilasie en diefstal” en die ander lees “Goedheid, guns, vrede en vriende hartlik welkom!”
Elke mens wat voor my hek staan moet self kies.
Sela…